Vraag
Wat is die verskillende vorms van bybelse literatuur?
Antwoord
Een van die prikkelende feite oor die Bybel is dat, alhoewel dit God se kommunikasie is (Matt 5:17; Mark 13:31; Luk 1:37; Openbaring 22:18-19), was menslike wesens deel van die skryfproses. Soos Hebr 1:1 sê, “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete.” Die “baie maniere” sluit verskillende literêre genres in. Die Bybel se menslike lesers het verskillende vorms van letterkunde gebruik om verskillende boodskappe te kommunikeer op verskillende tye.
Die Bybel bevat historiese literatuur (1 en 2 Konings), dramatiese literatuur (Job), regsdokumente (baie van Eksodus en Deuteronomium), sanglirieke (Hooglied en Psalms), digkuns (die meeste van Jesaja), literatuur van wysheid (Spreuke en Prediker), apokaliptiese literatuur (Openbaring en gedeeltes van Daniël), kortverhaal (Rut), preke (soos opgeneem in Handelinge), toesprake en proklamasies (soos van koning Nebukadnesar in Daniël), gebede (baie Psalms), gelykenisse (soos wat Jesus vertel het), fabels (soos Jotam vertel het), en sendbriewe (Efesiërs en Romeine).
Die verskillende genres kan oorvleuel. Baie van die Psalms, byvoorbeeld, is ook gebede. Sommige van die sendbriewe bevat digkuns. Elke tipe literatuur het unieke eienskappe en moet benader word met die nodige agting. Byvoorbeeld, Jotam se fabels (Rigters 9:7-15) kan nie op dieselfde wyse geïnterpreteer word as die Tien Gebooie in Eks 20:1-17 nie. Om poësie te interpreteer, met die steun op metafoor en ander poëtiese hulpmiddels, verskil van die interpretering van historiese vertellings.
2 Pet 1:21 sê “deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.” Deur die huidige terminologie te gebruik, was die bybelse hoof-redigeerder die Heilige Gees van God. God het die merk van Sy outeurskap op elk van die 66 Bybelboeke geplaas, ongeag watter literêre genre. God het die geskrewe woorde “geïnspireer” (2 Tim 3:16-17). Aangesien die mensdom die vermoë het om verskeie literatuurvorme te verstaan en te waardeer, het God baie genres gebruik om Sy Woord te kommunikeer. Die leser van die Bybel sal ‘n algemene plan ontdek, wat die dele van die samestelling ‘n eenheid laat vorm. Hy sal motiewe, voorafskaduwing, herhaalde temas en repeterende karakters ontdek. Deur dit alles, sal hy vind dat die Bybel die wêreld se grootste literêre meesterstuk is – en die egte Woord van die ware God.
English
Wat is die verskillende vorms van bybelse literatuur?