settings icon
share icon
Vraag

Wat sê die Bybel oor lyding?

Antwoord


Van al die uitdagings wat in die rigting van die Christendom gegooi word in die moderne tye, is miskien die heel moeilikste om die probleem van lyding te verduidelik. Hoe kan 'n liefdevolle God lyding toelaat om voort te gaan in die wêreld wat Hy geskep het? Vir hulle wat massiewe lyding verduur het, is dit baie meer as 'n filosofiese kwessie, wel 'n diep gewortelde persoonlike en emosionele een. Hoe spreek die Bybel hierdie kwessie aan? Gee die Bybel vir ons enige voorbeelde van lyding en 'n paar aanduidings van hoe om daarmee te handel?

Die Bybel is verbasend realisties as dit kom by die probleem aangaande lyding . Om maar een ding te noem, wy die Bybel 'n hele boek aan dié probleem se hantering. Hierdie boek gaan oor 'n man met die naam van Job. Dit begin met 'n toneel in die hemel, wat die leser voorsien van die die agtergrond van Job se lyding. Job ly, omdat God met Satan in 'n geskil is. So ver ons weet, het nie Job óf sy vriende dit geweet nie. Dit is dus nie 'n verrassing dat hulle almal gesukkel het om Job se lyding te verduidelik vanuit die perspektief van hul onkunde nie, totdat Job eindelik in niks anders berusting vind as in die getrouheid van God en die hoop op Sy verlossing nie. Nie Job óf sy vriende het op daardie tydstip die redes vir sy lyding verstaan nie. Om die waarheid te sê, toe Job uiteindelik deur die Here gekonfronteer word, was Job stil. Job se stille respons het op geen manier die intense pyn en verlies wat hy so geduldig verduur het, onbeduidend gemaak nie. Dit bevestig eerder die belangrikheid om op God te vertrou vir Sy bedoeling midde in die lyding, selfs wanneer ons nie weet wat Sy doel daarmee is nie. Lyding, soos alle ander menslike belewenisse, word gerig deur die soewereine wysheid van God. Teen die einde leer ons dat ons nooit die spesifieke rede vir ons lyding sal weet nie, maar ons moet op ons soewereine God vertrou. Dit is die ware antwoord op lyding.

'n Ander voorbeeld van lyding in die Bybel is Josef se storie in Genesis. Josef is deur sy eie broers verkoop as 'n slaaf. In Egipte was hy aangekla weens valse beskuldigings en in die tronk gegooi. As gevolg van Josef se lyding en volharding deur God se genade en krag, is Josef later bevorder tot goewerneur van Egipte, tweede in bevel teenoor die farao. Hy was in 'n posisie om in droogtetye vir die nasies van die wêreld te voorsien, insluitende sy eie familie en die broers wat hom as slaaf verkoop het! Die boodskap van hierdie storie is opgesom in Gen 50:19-21, toe Josef sy broers toegespreek het: "Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het. Moenie bang wees nie. Ek sal sorg dat julle en julle kinders kos het."

Rom 8:28 bevat vertroostende woorde vir hulle wat swaarkry en lyding verduur: "Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is." In Sy voorsiening, beheer God elke gebeurtenis in ons lewens – selfs lyding, versoeking en sonde – om beide ons tydelike en ewige voordeel in te sluit.

Dawid, die Psalmis, het baie lyding in sy lewe verduur en dit word weerspieël in baie van sy gedigte in Psalms. In Ps 22 hoor ons Dawid se angs: "My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie. U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van Israel weerklink! Op U het ons voorvaders vertrou. Hulle het vertrou en U het hulle gered. Hulle het na U om hulp geroep en hulle is bevry; op U het hulle vertrou en hulle is nie beskaam nie. Maar ek is 'n wurm, nie 'n mens nie. Ek word deur die mense bespot en deur die volk verag. Almal wat my sien, spot my, hulle steek vir my tong uit en knik met voldoening die kop en sê: 'Laat dit aan die Here oor! Laat Hý hom red, laat Hý hom bevry ás Hy dan so baie van hom hou.'"

Dit bly 'n misterie vir Dawid hoekom God nie ingegryp en sy lyding en pyn beëindig het nie. Hy sien God op die troon as die Heilige Een, die roem van Israel. God woon in die hemel waar alles goed is, waar daar geen trane of vrees is nie, geen honger of wrok nie. Wat weet God van alles wat mense verduur? Dawid praat van "soos honde omsingel hulle my, die bende misdadigers sak op my toe, hulle bind my hande en voete vas. Al wat been in my is, kan ek tel; hulle kyk na my met leedvermaak. Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel."

Het God ooit vir Dawid geantwoord? Ja, baie eeue later het Dawid sy antwoord gekry. Rofweg een millennium later is 'n nakomeling van Dawid, naamlik Jesus, doodgemaak op die heuwel van Golgota. Op die kruis het Jesus die lyding en skande van sy voorvader gedra. Christus se hande en voete is deurboor. Sy klere is tussen die vyande verdeel. Na Christus is gestaar en Hy is bespot. Trouens, Christus het die woorde geuiter, waarmee Dawid hierdie Psalm begin het: "My God, my God, waarom het U my verlaat?" Dus identifiseer Jesus Homself met Dawid se lyding.

Christus, die ewige Seun van God in wie die volheid van God woon, het op aarde gelewe as 'n menslike wese en het honger verduur, dors, versoeking, skande, vervolging, naaktheid, verlies, verraaiing, bespotting, onreg en die dood. Dus is Hy in 'n posisie om Job se verlange te vervul: "As daar maar iemand was wat in die saak tussen ons kon oordeel, wat oor ons albei onpartydig kon regspreek, as daar maar iemand was wat God se straf van my kon wegneem, sodat sy verskrikking my nie skielik oorval nie, dan sou ek sonder vrees kon praat. Maar soos sake nou met my staan, kan ek nie" (Job 9:33).

Christelike teïsme is trouens die enigste wêreldsiening wat konsekwent sin maak uit die probleem van boosheid en lyding. Christene dien 'n God wat op aarde was en trauma, versoeking, hartseer, mishandeling, honger, dors, vervolging en selfs teregstelling verduur het. Die kruis van Christus kan beskou word as die hoogste manifestasie van God se oordeel. As daar gevra word hoeveel God omgee oor die probleem van boosheid en lyding, kan die God van die Christene na die kruis wys en sê, "Só baie." Christus het verwerping van God ervaar, toe Hy gesê het, "My God, My God, waarom het U My verlaat?" Hy het dieselfde lyding verduur soos baie mense nou nog, wat geïsoleerd voel van God se guns en liefde.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat sê die Bybel oor lyding?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries