settings icon
share icon
Vraag

Wat sê die Bybel oor luiheid?

Antwoord


Newton se eerste bewegingswet dui aan dat ‘n voorwerp in beweging, geneig is om in beweging te bly en ‘n voorwerp wat stilstaan, geneig is om in stilstaande posisie te bly. Hierdie wet word op mense toegepas. Sommige word van nature gedryf om take af te handel, terwyl ander nie omgee nie en motivering benodig om traagheid te oorkom. Luiheid is vir sommige ‘n leefstyl, vir almal egter ‘n verleiding. Die Bybel is duidelik dat, aangesien die Here die mens opdrag gegee het om te werk, luiheid sonde is. “Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk en leer by hom” (Spreuke 6:6).

Die Bybel het baie te sê oor luiheid. Spreuke is gevul met wyshede oor luiheid en waarskuwings vir die luiaard. Spreuke sê dat ‘n lui persoon werk haat: “’n Lui mens soek sy dood, want hy wil nie sy hande uit sy moue steek nie” (21:25); hy hou van slaap:” ‘n Deur bly op sy skarnier draai; ‘n luiaard bly omdraai op sy bed” (26:14); hy maak verskonings: “Die luiaard se verskoning is: ‘Daar is ‘n leeu in die pad! Daar is ‘n leeu in die straat!’” (26:13); hy mors tyd en energie: “Een wat nalatig is met sy werk en een wat alles afbreek, is tweelingbroers” (18:9); hy glo hy is wys, maar is ‘n dwaas: “Die luiaard dink hy het meer wysheid as sewe mense wat verstandige antwoorde kan gee” (26:16).

Spreuke vertel ook die slotstorie van die luiaard: ‘n Lui persoon word ‘n werknemer (of debiteur): “Hardwerkende mense kom in magsposisies; lui mense word dwangarbeiders” (12:24); sy toekoms is uitsigloos: “’n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na iets wat daar nie is nie” (20:4); hy kan arm word: “Die luiaard se honger word nie gestil nie; hardwerkende mense het meer as genoeg om te eet” (13:4).

Daar is nie plek vir luiheid in ‘n Christen se lewe nie. ‘n Nuwe gelowige word volgens die waarheid geleer “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie” (Ef 2:8-9). ‘n Gelowige kan egter traag raak, indien hy foutiewelik glo dat God geen vrug van ‘n getransformeerde lewe verwag nie. “Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef 2:10). Christene word nie deur werke gered nie, maar hulle wys hul geloof deur werke (Jak 2:18,26). Luiheid skend God se doelwit – goeie werke. Die Here bemagtig Christene egter om die vlees se geneigdheid tot luiheid te oorkom, deur aan ons ‘n nuwe natuur te gee (2 Kor 5:17).

In ons nuwe natuur word ons gemotiveer tot ywer en produktiwiteit uit liefde vir ons Verlosser, wat ons vrygemaak het. Ons ou geneigdheid tot luiheid en alle ander sondes, is vervang deur die begeerte om godvresend te lewe: “As iemand ‘n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ‘n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee” (Ef 4:28). Ons word veroordeel as ons nie vir ons families deur ons arbeid voorsien nie: “As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy gesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ‘n ongelowige” (1 Tim 5:8); en vir ander mense in God se familie: “Julle weet self dat ek vir myself en vir die mense wat saam met my was, gesorg het deur met hierdie twee hande van my te werk. Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk, sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang” (Hand 20:34-35).

As Christene weet ons dat ons arbeid deur die Here beloon sal word, indien ons in ywer volhard: “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges” (Gal 6:9-10); “Wat julle ook al doen, doen dit van harte, soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan” (Kol 3:23-24); “God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie” (Heb 6:10).

Christene moet deur God se krag werk om te evangeliseer en te dissipel. Die apostel Paulus is ons voorbeeld: “Hóm verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring. Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk” (Kol 1:28-29). Selfs in die hemel sal Christene se diens aan God voortgaan, maar nie langer deur die vloek gehinder nie (Openbaring 22:3). Vrygemaak van siekte, hartseer en sonde – selfs luiheid – die heiliges sal die Here vir ewig prys. “Daarom liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie” (1 Kor 15:58). English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat sê die Bybel oor luiheid?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries