Vraag
Wat beteken dit dat die kerk die bruid van Christus is?
Antwoord
Die beeld en simbolisme van die huwelik word toegepas op Christus en die liggaam van gelowiges, bekend as die kerk. Die kerk word vergelyk met hulle wat in Jesus Christus glo as hul persoonlike Verlosser en die ewige lewe ontvang het. Christus, die Bruidegom, het met Sy offerande en met liefde die kerk gekies as Sy bruid (Ef 5:25-27). Net soos daar ‘n verlowingsperiode in bybelse tye was, waar die bruid en bruidegom van mekaar geskei was totdat die troue plaasgevind het, so is die bruid van Christus geskei van haar Bruidegom gedurende die kerktydperk. Haar verantwoordelikheid gedurende die verlowingstyd is om getrou te bly aan Hom (2 Kor 11:2; Ef 5:24). Met die Wederkoms van Christus sal die kerk met die Bruidegom verenig word en die amptelike “huwelikseremonie” sal plaasvind en daarmee saam, die ewige eenwording met Christus en Sy bruid sal verwesenlik word (Openbaring 19:7-9; 21:1-2).
In die ewige staat, sal gelowiges toegang hê tot die hemelse stad, die Nuwe Jerusalem. Ook genoem “die heilige stad” in Openbaring 21:2 en 10. Die Nuwe Jerusalem is nie die kerk nie, maar dit neem sommige karaktereienskappe van die kerk aan. In sy visioen aan die einde, sien die apostel Johannes die stad afkom uit die hemel, versier soos “‘n bruid,” in die betekenis daarvan dat die stad glorieryk sal skitter en die inwoners van die stad, die verlostes van die Here, sal heilig en rein wees, wit klere dra van heiligheid en regverdigheid. Sommige het vers 9 verkeerd geïnterpreteer deur te sê dat die heilige stad die bruid van Christus is, maar dit kan nie wees nie, omdat Christus vir Sy mense gesterf het, nie vir die stad nie. Die stad word die bruid genoem, omdat dit almal wat die bruid is, insluit, soos al die leerders van ‘n skool soms “die skool” genoem word.
Gelowiges in Jesus Christus is die bruid van Christus en ons sien uit met groot verwagting na die dag wanneer ons met ons Bruidegom verenig sal word. Tot dan, bly ons getrou aan Hom en sê saam met al die verlostes van die Here, “Amen! Kom, Here Jesus!” (Openbaring 22:20).
English
Wat beteken dit dat die kerk die bruid van Christus is?