Die van Spreuke



Skrywer: Koning Salomo is die hoofskrywer van Spreuke. Sy naam verskyn in 1:1, 10:1 en 25:1. Ons kan ook aanvaar dat Salomo ander spreuke versamel en verander het, as net sy eie, want Prediker 12:9 sê, “Die Prediker was nie net ‘n man met wysheid nie, hy het ook die volk onderrig. Hy het nagedink, nagevors en baie spreuke gemaak.” Die Hebreeuse titel “Mishle Shelomoh” is wel vertaal as “Spreuke van Salomo.”

Datum van Skrywe: Salomo se Spreuke is rondom 900 v C geskryf. Gedurende sy bewind as koning, het die volk van Israel geestelik, polities, kultureel en ekonomies hul hoogtepunt bereik. Soos Israel se reputasie die hoogte ingeskiet het, so het koning Salomo ook. Buitelandse hooggeplaastes van verre lande het lang afstande gereis om dié wyse monarg te hoor praat (1 Kon 4:34).

Doel van Skrywe: Kennis is niks meer as ‘n versameling van onverwerkte feite nie, maar wysheid is die vaardigheid om mense, gebeure en situasies te sien, soos God hulle sien. In Spreuke openbaar Salomo God se denke in hoë en verhewe sake en ook in gewone, eenvoudige, alledaagse situasies. Dit wil voorkom asof geen onderwerp koning Salomo se aandag vrygespring het nie. Dinge wat betrekking het op persoonlike optrede, seksuele verhoudings, besigheid, rykdom, liefdadigheid, ambisie, dissipline, skuld, kinders grootmaak, karakter, alkohol, politiek, vergelding en godvresendheid is alles onderwerpe wat in hierdie ryke versameling van wyshede gedek word.

Sleutelverse:
Spreuke 1:5, “Selfs wyse mense kan na die spreuke luister en so tot dieper insig kom.”

Spreuke 1:7, “Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.”

Spreuke 4:5, “Sorg dat jy wysheid bekom en insig! Moenie my woorde vergeet en daarvan afwyk nie.”

Spreuke 8:13-14, “Om die Here te dien, is om te haat wat verkeerd is. Daarom haat ek hoogmoed en hovaardigheid, ‘n verkeerde lewe en slinkse woorde.”

Kort Samevatting: Om die boek Spreuke op te som, is nogal moeilik, want anders as baie ander Bybelboeke, is daar geen spesifieke storielyn nie. Daar is ook geen hoofkarakters in Spreuke nie. Dit is wysheid wat in die middelpunt staan – ‘n wonderlike, goddelike wysheid wat die totaal van die geskiedenis oorskadu, mense en kulture. Selfs ‘n oppervlakkige lees van hierdie luisterryke skat openbaar dat die pittige gesegdes van die wyse koning Salomo vandag nog net so relevant is as drieduisend jaar gelede.

Voorspellings: Die tema van wysheid en die noodsaaklikheid daarvan in ons lewens vind sy vervulling in Christus. Ons word aanhoudend in Spreuke gemaan om wysheid te soek, te vind en om wysheid te verstaan. Spreuke vertel ons ook – en herhaal dit – dat “Kennis begin met die dien van die Here” (1:7; 9:10). Ons vrees vir die wraak en straf van die Here, is wat ons na Christus dryf. Hy is die verpersoonliking van die wysheid van God, soos uitgespel in Sy glorieryke verlossingsplan vir die mensdom. In Christus “is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind” (Kol 2:3) en in Hom kry ons die antwoord vir ons soeke na wysheid, die genesing vir ons vrees vir God en die “vryspraak, die heiliging en die verlossing” wat ons so ontsettend benodig (1 Kor 1:30). Die wysheid wat net in Christus gevind word, is in teenstelling met die dwaasheid van die wêreld, wat ons aanmoedig om in ons eie oë wys te wees. Spreuke vertel ook aan ons dat die wêreld se manier nie God se manier is nie (Spreuke 3:7) en dat dit tot die dood lei (Spreuke 14:12; 16:25).

Praktiese Toepassing: Daar word ‘n onweerlegbare praktiese sin in hierdie Spreuke-boek gevind in dié 31 hoofstukke, vir duidelike en sinvolle antwoorde ten opsigte van die hantering van alle komplekse probleme. Spreuke is definitief die grootste hulpboek wat ooit geskryf is en diegene wat wys genoeg is om Salomo se lesse ter harte te neem, sal gou ontdek dat godvresendheid, voorspoed en tevredenheid aan hulle wat vra, gegee sal word.

Die voortdurende belofte in Spreuke is dat hulle wat wysheid kies en God navolg, sal op verskeie maniere geseën word: met ‘n lang lewe (9:11); voorspoed (2:20-22); vreugde (3:13-18); en die goedheid van God (12:21). Hulle wat Hom verwerp, daarenteen, beleef skande en die dood (3:35; 10:21). Om God te verwerp, is om dwaasheid bó wysheid te kies en om onsself van God, Sy Woord, Sy wysheid en Sy seëninge te skei.


Ou Testament Samevatting

Die van Spreuke