settings icon
share icon

Die boek Sefanja

Skrywer: Sefanja 1:1 identifiseer die skrywer van die boek Sefanja, as die profeet Sefanja. Die naam "Sefanja" beteken "verdedig deur God".

Datum van Skrywe: Die boek Sefanja is waarskynlik tussen 735 en 725 v C geskryf.

Doel van Skrywe: Sefanja se boodskap van straf en bemoediging bevat drie hoofleringe: 1) God is soewerein oor alle nasies. 2) Die sondaars sal gestraf word en die regverdiges sal regverdig verklaar word op die oordeelsdag. 3) God seën diegene wat berou toon en op Hom vertrou.

Sleutelverse: Sefanja 1:18, "Nóg hulle silwer nóg hulle goud sal hulle kan red op die dag wanneer die toorn van die Here losbreek, wanneer die hele land verteer word deur die vuur van Sy woede. Hy bring vernietiging en skrik oor al die inwoners van die land."

Sefanja 2:3, "Vra na die wil van die Here, alle nederiges in die land, almal wat doen wat die Here wil. Streef na geregtigheid, na nederigheid! Miskien bly julle die straf gespaar op die dag van die toorn van die Here."

Sefanja 3:17, "Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in Sy liefde. Hy jubel en juig oor jou."

Kort Samevatting: Sefanja verkondig die Here se oordeel oor die hele aarde, op Juda, die nasies rondom, op Jerusalem en op al die nasies. Dit word gevolg deur aankondiginge van die Here se seëninge op al die nasies en veral op die gelowige oorblyfsel van Sy mense in Juda.

Sefanja het die moed gehad om onomwonde te praat, omdat hy geweet het dat hy die woord van die Here verkondig het. Sy boek begin met "Die woord van die Here" en eindig met "sê die Here." Hy het geweet dat nié die baie gode wat die mense aanbid het óf selfs die magtige Assiriese leërmag hulle kon red nie. God is genadig en vol liefde, maar wanneer al Sy waarskuwings geminag word, kan straf verwag word. God se oordeelsdag word dikwels in die Skrif gemeld en die profete noem dit die "Dag van die Here." Hulle verwys na verskeie gebeurtenisse soos die val van Jerusalem, as 'n manifestasie van God se Dag, en waarvan elkeen na die vreeslike Dag van die Here heenwys.

Voorspellings: Die laaste seëninge op Sion kom in verse 14-20 voor en is grootliks onvervuld, wat vir ons sê dat hierdie Messiaanse profesieë nog die Wederkoms van Christus afwag om te gebeur. Die Here het ons straf weggeneem slegs deur Christus wat gekom het om vir die sondes van Sy mense te sterf (Sef 3:15; Joh 3:16). Israel het egter nog nie sy ware Verlosser erken nie. Hierdie moet nog gebeur (Rom 11:25-27).

Die belofte van vrede en veiligheid vir Israel en die tyd wanneer hul Koning in hul midde sal wees, sal vervul word wanneer Christus weer kom, om die wêreld te oordeel en dit vir Homself vry te maak. Soos Hy hemel toe opgevaar het na Sy opstanding, so sal Hy ook terugkeer en 'n nuwe Jerusalem op aarde tot stand bring (Openbaring 21). Teen daardie tyd sal al God se beloftes ten opsigte van Israel vervul wees.

Praktiese Toepassing: Met 'n paar regstellings van name en situasies, kan hierdie profeet van die 7de eeu v C net sowel vandag op ons preekstoele staan en dieselfde boodskap van straf vir die boosdoeners en hoop vir die gelowiges lewer. Sefanja herinner ons dat God geraak is deur die morele en godsdienstige sondes van Sy mense. God se mense sal nie straf ontkom, indien hulle aanhou moedswillig sondig nie. Straf mag pynlik wees, maar die doel kan verlossend wees, eerder as 'n straf. Die onafwendbaarheid van straf of boosheid gee troos in 'n tyd as dit lyk asof die bose onbeteueld en triomfantelik voortgaan. Ons het die vryheid om God te gehoorsaam, maar nie die vryheid om die gevolge van ongehoorsaamheid te ontsnap nie. Diegene wat getrou bly aan God mag verhoudelik min wees, maar Hy vergeet hulle nooit nie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Die boek Sefanja
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries