Die Boek Samuel 1



Skrywer: Die skrywer is anoniem. Ons weet dat Samuel ‘n boek geskryf het (Sam 10:25) en dit is baie moontlik dat hy ook ‘n deel van hierdie spesifieke boek geskryf het. Ander wat moontlik ook bydraes gelewer het tot Samuel 1, is die profete/sieners, Natan en Gad (1 Kronieke 29:29).

Datum van Skrywe: Samuel 1 en 2 was oorspronklik een boek. Die vertalers van die Septuagint het dit geskei en sedertdien het ons daardie skeiding behou. Die gebeure van Sam1 strek oor ongeveer 100 jaar, van 1100 vC tot 1000 vC. Die gebeure van Sam 2 dek nóg 40 jare. Die skryfdatum sou dan ongeveer 960 vC wees.

Doel van Skrywe: Sam 1 bevat Israel se geskiedenis in die land Kanaän, toe hulle vanuit die regering van die rigters beweeg het, na ‘n verenigde nasie onder die bewind van konings. Samuel tree op as die laaste rigter en hy salf die eerste twee konings, Saul en Dawid.

Sleutelverse: “Maar vir Samuel was dit verkeerd dat hulle gesê het: ‘Gee ons tog ‘n koning om oor ons te regeer.’ Samuel het tot die Here gebid en die Here het vir hom gesê: ‘Gee toe aan die versoek van die volk in alles wat hulle van jou vra. Hulle het jóú nie verwerp nie; hulle het mý verwerp as koning oor hulle’” (1 Sam 8:6-7).

“Maar Samuel sê vir Saul: ‘Jy het dwaas gehandel. As jy maar die bevel van die Here jou God wat Hy jou gegee het, nagekom het! Waarlik, dan sou die Here nou jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie bestendig word nie. Die Here sal vir Hom ‘n man na sy hart soek. Die Here sal hóm aanstel as regeerder oor sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here jou beveel het nie (1 Sam 13:13-14).

“Maar Samuel antwoord: ‘Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister, is beter as die vet van ramme. Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp’” (1 Sam 15:22-23).

Kort Samevatting: Samuel 1 kan netjies in twee dele verdeel word: Samuel se lewe (hoofstukke 1-12) en Saul se lewe (hoofstukke 13-31).

Die boek begin met die wonderbaarlike geboorte van Samuel, in antwoord op sy moeder se ernstige gebed. As kind het Samuel in die tempel gelewe en gedien. God het hom as ‘n profeet afgesonder (3:19-21) en die kind se eerste profesie was een van oordeel oor die korrupte priesters.

Die Israeliete het begin oorlog maak teen hul oorblywende vyande, die Filistyne. Die Filistyne het die Verbondsark gebuit en is in tydelike besit daarvan, maar as die Here die Filistyne straf, bring hulle die ark terug. Samuel roep Israel op tot belydenis (7:3-6) en dan tot oorwinning oor die Filistyne.

Die volk van Israel wou ook soos ander volke ‘n koning hê. Samuel is ontevrede oor hul eise, maar die Here sê vir hom dat dit nie Samuel se leierskap is wat hulle verwerp nie, maar Sy eie. Nadat die volk gewaarsku is wat ‘n koning as leier vir hulle sou beteken, salf Samuel ‘n Benjamiet, met die naam van Saul. Hy is in Mispa gekroon (10:17-25).

Aanvanklik geniet Saul sukses deur die Ammoniete te verslaan (hoofstuk 11), maar toe begaan hy ‘n reeks misstappe: hy bring ‘n offerande op ‘n aanmatigende wyse (hoofstuk 13), hy lê ‘n dom eed af tot nadeel van sy seun Jonatan (hoofstuk 14) en hy is ongehoorsaam aan die direkte opdrag van die Here (hoofstuk 15). As gevolg van Saul se rebellie, kies God iemand anders in sy plek. Intussen verwyder God Sy seën van Saul en ‘n bose gees begin om Saul tot waansin te dryf (16:14).

Samuel reis na Betlehem om ‘n jongman, Dawid, as die volgende koning te salf (Hoofstuk 16). Later het Dawid sy beroemde konfrontasie met Goliat, die Filistyn en word ‘n nasionale held (hoofstuk 17). Dawid dien in Saul se paleis, trou met Saul se dogter en is bevriend met Saul se seun. Saul raak jaloers op Dawid se sukses en populariteit en toe probeer hy om Dawid dood te maak. Dawid vlug en so begin ‘n buitengewone tydperk van avontuur, intrige en romans. Met bonatuurlike hulp, uitoorlê Dawid nouliks elke keer die bloeddorstige Saul (hoofstukke 19-26). Deur dit alles, behou Dawid sy integriteit en vriendskap met Jonatan.

Aan die einde van die boek, is Samuel dood en Saul ‘n verlore mens. Op die vooraand van ‘n geveg met Filistea, soek Saul vir antwoorde. Aangesien hy vir God verwerp het, kry hy geen hulp vanuit die hemel nie en hy soek dus raad by ‘n dodebesweerster. Gedurende die séance, kom Samuel uit die dood op om sy laaste profesie te gee: Saul sou die volgende dag in die geveg sterf. Die profesie is vervul; Saul se drie seuns, insluitende Jonatan is in die geveg dood en Saul pleeg selfmoord.

Voorspellings: Die gebed van Hanna in 1 Sam 2:1-10 hou verskeie profetiese verwysings na Christus in. Sy verhoog God as haar Rots (vers 2) en ons weet vanuit die Evangelie dat Jesus die Rots is, waarop ons ons geestelike huise moet bou. Paulus praat met die Jode en verwys na Jesus as die “rots waarteen jy jou stamp” (Rom 9:33). Christus word die “geestelike Rots” genoem, wat geestelike drank voorsien aan die Israeliete in die woestyn, netsoos Hy “lewende water” aan ons siele voorsien (1 Kor 10:4; Joh 4:10). Hanna se gebed verwys ook na die Here wat aan die einde van die wêreld sal oordeel (1 Sam 2:10), terwyl Matt 25:31-32 verwys na Jesus as die Seun van die Mens wat in majesteit sal kom om elkeen te oordeel.

Praktiese Toepassing: Die tragiese storie van Saul is ‘n studie oor ‘n geleentheid wat verspul is. Hier was ‘n man wat dit alles gehad het – eer, outoriteit, rykdom, voorkoms en nog meer. Tog het hy in wanhoop gesterf, in vrees vir sy vyande, met die wete dat hy sy volk, sy familie en sy God in die steek gelaat het.

Saul het die fout begaan dat hy vir God kan behaag deur ongehoorsaamheid. Soos baie vandag, het hy geglo dat ‘n verstandige motief vir swak gedrag sou vergoed. Miskien het sy mag na sy kop toe gegaan en het hy begin dink dat hy bo die reëls verhef was. Op een of ander wyse het hy ‘n swak siening van God se opdragte ontwikkel en ‘n hoë dunk van homself. Selfs as hy as gevolg van sy verkeerde optrede gekonfronteer was, het hy probeer om homself te regverdig en dít was toe God hom verwerp het (15:16-28).

Saul se probleem is een wat ons almal in die gesig staar – ‘n hartsprobleem. Gehoorsaamheid aan God se wil is nodig vir sukses en indien ons met ‘n trotse houding teen Hom rebelleer, is ons op pad om te verloor.

Dawid aan die ander kant, het nie veel van ‘n voorkoms gehad nie. Selfs Samuel het hom byna nie raakgesien nie (16:6-7). God sien egter die hart en het in Dawid ‘n man na Sy eie hart gesien (13:14). Die nederigheid en integriteit van Dawid, het verband gehou met sy dapperheid vir die Here en sy oorgawe om te bid het vir ons almal ‘n goeie voorbeeld gestel.


Ou Testament Samevatting

Die Boek Samuel 1