settings icon
share icon

Boek Romeine

Skrywer: Rom 1:1 identifiseer die skrywer van Romeine as die apostel Paulus. Rom 16:22 dui aan dat Paulus 'n man met die naam van Tertius gebruik het om sy woorde neer te skryf.

Datum van Skrywe: Die boek Romeine is blykbaar in 56-58 n C geskryf.

Doel van Skrywe: Soos met alle sendbriewe van Paulus aan die kerke, was sy bedoeling om die Here Jesus Christus te eer deur sy lering en opheffing en bemoediging van die gelowiges, wat hierdie brief sou ontvang. Een spesifieke bekommernis van Paulus was hulle, aan wie die brief gerig was – "aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort" (Rom 1:7). Aangesien hyself 'n Romeinse burger was, het hy 'n unieke passie gehad vir hulle wat aan die gemeenskap van gelowiges in Rome behoort het. Aangesien hy nog op daardie stadium nie die kerk in Rome besoek het nie, het hierdie brief ook as sy bekendstelling aan hulle gedien.

Sleutelverse: Rom 1:16, "Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is 'n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood."

Rom 3:9-11, "Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. Daar staan immers geskrywe: 'Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie.'"

Rom 3:21, "Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree."

Rom 3:23, "Almal het gesondig en is ver van God af."

Rom 5:8, "Maar God bewys Sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was."

Rom 6:23, "Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here."

Rom 8:9, "Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie."

Rom 8:28, "Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is."

Rom 8:38-39, "Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here."

Rom 10:9-10, "As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons en ons word gered."

Rom 12:1, "En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen."

Rom 12:19, "Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: 'Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld', sê die Here."

Rom 16:17, "Ek druk julle dit op die hart, broers: Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af."

Kort Samevatting: Paulus was opgewonde om uiteindelik in hierdie kerk te bedien en almal was deeglik bewus van daardie feit (Rom 1:8-15). Die brief aan die Romeine is geskryf vanaf Korinte, kort voor Paulus se reis na Jerusalem om die aalmoese af te lewer wat vir die behoeftiges ingesamel is. Hy het beplan om na Rome te gaan en daarna na Spanje (Rom 15:24), maar sy planne is in die wiele gery toe hy in Jerusalem gearresteer was. Hy sou uiteindelik na Rome as gevangene gaan. Febe, wat 'n lid van die kerk in Kenchreë naby Korinte was (Rom 16:1), het heel waarskynlik die brief na Rome geneem.

Die boek Romeine is hoofsaaklik 'n doktrine-werkstuk en kan in vier afdelings verdeel word: regverdigheid word benodig 1:18-3:20; regverdigheid word voorsien 3:21-8:39; regverdigheid gehandhaaf 9:11:36; regverdigheid toegepas 12:1-15:13. Die hooftema van hierdie brief is vanselfsprekend – regverdigheid. Gelei deur die Heilige Gees veroordeel Paulus alle mense van hul sondigheid. Hy spreek sy begeerte uit om die waarheid van God se Woord aan almal in Rome te verkondig. Dit was sy hoop om sekerheid te hê dat hulle op die regte pad sou bly. Hy spreek homself sterk uit dat hy hom nie vir die evangelie skaam nie (Rom 1:16), omdat dit die krag is waardeur almal gered word.

Die boek Romeine vertel vir ons van God, wie Hy is en wat Hy gedoen het. Dit vertel ons van Jesus Christus en wat Sy dood meegebring het. Dit vertel ons van onsself, hoe ons sonder Christus was en wie ons geword het, nadat ons in Christus begin glo het. Toe ons nog sondaars was, het Christus vir ons sondes aan die kruis gesterf.

Skakelpunte: Paulus gebruik verskeie Ou Testamentiese mense en gebeure ter illustrasie van die glorieryke waarhede in die boek Romeine. Abraham het geglo en hy het regverdigheid ontvang deur sy geloof, nie deur sy werke nie (Rom 4:1-5). In Rom 4:6-9 verwys Paulus na Dawid wat tot dieselfde waarheid gekom het: "Geseënd is die mense wie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word. Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie." Paulus gebruik Adam as voorbeeld vir die Romeine om hulle te leer van erfenissonde en hy gebruik Sara en Isak se verhaal, die beloftekind, om die beginsel te illustreer dat Christene die kinders van die belofte is, van die goddelike genade van God deur Christus. In hoofstukke 9-11 deel hy weer die geskiedenis van die volk Israel en verklaar hy dat God nie vir Israel heeltemal en finaal verwerp het nie (Rom 11:11-12), maar hulle toegelaat het om te struikel, slegs tot die volle getal Heidene tot redding gebring sal word.

Praktiese Toepassing: Die boek Romeine maak dit duidelik dat ons niks kan doen om onsself te verlos nie. Elke "goeie" daad wat ons ooit gedoen het, is sonde voor God. Ons is so dood in ons oortredings en sondes dat slegs die genade van God ons kan red. God het daardie genade en ontferming geskenk deur Sy Seun, Jesus Christus, te stuur, om in ons plek aan die kruis te sterwe. Wanneer ons ons lewens aan Christus oorgee, word ons nie langer deur ons sondige natuur beheer nie, maar deur die Gees. As ons bely dat Jesus Here is en glo dat Hy uit die dood opgestaan het, is ons gered en wedergebore. Ons moet lewe as lewende offers aan God. Aanbidding voor die God wat ons verlos het, moet ons hoogste begeerte wees. Miskien is die beste toepassing van Romeine om Rom 1:16 uit te leef en ons nie te skaam vir die Evangelie nie. In plaas daarvan, laat ons almal geloof behou en dit bely!

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Boek Romeine
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries