settings icon
share icon

Die boek Rigters

Skrywer: Die boek Rigters noem nie ‘n spesifieke skrywer nie. Volgens oorlewering is die profeet Samuel die outeur. Interne bewyse dui aan dat die outeur kort na die periode van die rigters gelewe het. Samuel pas by hierdie tydsgleuf in.

Datum van Skrywe: Die boek Rigters is heel moontlik tussen 1045 en 1000 v C geskryf.

Doel van Skrywe: Rigters kan in twee dele verdeel word: 1) Hoofstukke 1-16 berig oor die oorloë van bevryding, waar die Israeliete begin deur die Kaänaniete te verslaan en eindig met die Filistynse verowering en Simson se dood. 2)

Hoofstukke 17-21 staan bekend as ‘n byvoegsel en het niks te doen met die vorige hoofstukke nie. Hierdie hoofstukke word gesien as ‘n tyd toe daar geen koning in Israel regeer het nie (Rigters 17:6; 18:1; 19:1; 21:25). Die boek Rut was oorspronklik ‘n deel Rigters, maar 450 n C het dit ‘n aparte boek geraak.

Sleutelverse: Rigters 2:16-19: “Maar die Here het leiers na vore laat kom en dié het die volk gered uit die mag van die mense deur wie hulle beroof is. Die volk het ook nie na hulle leiers geluister nie. Die volk was ontrou aan die Here en het ander gode aanbid en baie gou die pad van hulle voorvaders verlaat en ongehoorsaam geword aan die gebooie van die Here. Wanneer die Here vir hulle leiers na vore laat kom het, was Hy by die leiers en so het Hy die volk gered uit die mag van hulle vyande. So was dit solank as die leier geleef het, want die Here het medelye gehad met sy volk, wanneer hulle om hulp geroep het oor hulle vyande deur wie hulle verdruk is. Maar na die leier se dood het hulle nog erger as hulle voorvaders gehandel en ander gode aangehang en gedien en aanbid. Hulle het nie hulle verkeerde dade en hulle hardkoppigheid laat vaar nie.”

Rigters 10:15: “Maar die Israeliete het die Here geantwoord: ‘Ons het gesondig! Doen U met ons wat goed is in U oë, maar red ons tog net vandag!’”

Rigters 21:25: “In daardie tyd was daar nog nie ‘n koning in Israel nie en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.”

Kort Samevatting: Die boek Rigters is ‘n tragiese weergawe van hoe Jahwe (God) se kinders Hom jaar na jaar, eeu na eeu as vanselfsprekend aanvaar het. Rigters is ‘n treurige kontras teenoor die boek Josua, waar God se seëninge wat Hy op die Israeliete laat neerkom het, beskryf word. Dit was as gevolg van hulle gehoorsaamheid aan God deur die land te oorwin. In Rigters was hulle ongehoorsaam en het afgode aanbid en dus het hulle baie neerlae gely. Tog het God nooit opgehou om hulle in Sy liefdevolle arms te ontvang, wanneer hulle afgesien het van hul verkeerde paaie en Sy Naam aangeroep het nie (Rigters 2:18). Tydens die tyd van die 15 rigters van Israel, het God Sy beloftes aan Abraham geëer, om sy nageslag te beskerm en te seën (Gen 12:2-3).

Na die dood van Josua en sy tydgenote, het die Israeliete weer begin om Baäl en Astarot te dien. God het toegelaat dat die Israeliete onder die gevolge van die diens aan afgode, gely het. Dit was toe dat die mense van God uitgeroep het tot Jahwe om hulp. God het toe vir Sy kinders rigters gestuur om hulle in regverdigheid te laat lewe. Kort daarna dan keer hulle weer hul rûe op God en gaan terug na hul sondige lewenswyses. God het egter Sy deel van die verbond met Abraham gehou en Sy volk van hul verdrukkers bewaar, regdeur die 480 jare, die tydsduur waaroor die boek Rigters ‘n weergawe bied.

Die vernaamste rigter was die twaalfde een, Simson, wat die Israeliete na 40 jaar van gevangenskap onder die regering van die wrede Filistyne gekom lei het. Simson het God se volk tot oorwinning oor die Filistyne gelei, waar hy toe sy lewe na 20 jaar as rigter van Israel verloor het.

Voorspellings: Die bekendmaking aan Simson se moeder dat sy ‘n seun in die wêreld sou bring, wat Israel sou lei, is ‘n voorspelling van die bekendmaking aan Maria: die geboorte van die Messias. God het Sy Engel na beide vrouens gestuur en gesê dat hulle swanger sou raak en ‘n seun sou baar (Rigters 13:7; Luk 1:31). Beide hierdie seuns sou God se volk lei.

God se liefdevolle bevryding van Sy mense, ten spyte van hulle sonde en verwerping van Hom, verteenwoordig ‘n beeld van Christus aan die kruis. Jesus het gesterf om Sy mense te bevry – almal wat ooit in Hom sou glo – bevry van hul sonde. Alhoewel die meeste van hulle wat Hom gedurende Sy bediening op aarde gevolg het, uiteindelik Hom verlaat en verwerp het, het Hy getrou aan Sy belofte gebly en aan die kruis vir ons gesterwe.

Praktiese Toepassing: Ongehoorsaamheid bring altyd straf. Die Israeliete verteenwoordig ‘n presiese voorbeeld van wat ons nie moet doen nie. In plaas daarvan om uit ondervinding te leer dat God altyd rebellie teenoor Hom sal straf, het hulle voortgegaan met ongehoorsaamheid en moes ly onder God se dissiplinering en misnoeë. Indien ons voortgaan in ongehoorsaamheid, soek ons God se teregwysing, nie omdat Hy ons lyding geniet nie, maar “die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem” (Heb 12:6).

Rigters is ‘n testament van God se getrouheid. Selfs “as ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie” (2 Tim 2:13). Al sal ons ontrou teenoor Hom wees, soos die Israeliete, bly Hy getrou om ons te red en te bewaar (1 Tes 5:24) en om ons te vergewe as ons vergiffenis soek (1 Joh 1:9). “Dit is Hy wat julle ook end-uit sal laat vasstaan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met Sy Seun, Christus Jesus, ons Here” (1 Kor 1:8-9).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Die boek Rigters
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries