settings icon
share icon

Die boek Klaagliedere

Skrywer: Die Boek Klaagliedere identifiseer nie die skrywer duidelik nie. Volgens oorlewering is dit die profeet Jeremia. Dit is hoogs waarskynlik, aangesien die skrywer 'n getuie van die Babiloniese vernietiging van Jerusalem was. Jeremia pas goed hier (2 Kron 35:25; 36:21-22).

Datum van Skrywe: Klaagliedere is waarskynlik tussen 586 en 575 v C geskryf, gedurende of spoedig na die val van Jerusalem.

Doel van Skrywe: As gevolg van Juda se aanhoudende en onbelyde afgodediens, het God toegelaat dat die Babiloniërs die stad Jerusalem beleër, plunder, verbrand en verwoes. Salomo se tempel, toe ongeveer 400 jaar oud, is tot op die grond afgebrand. Die profeet, Jeremia, 'n ooggetuie van hierdie gebeurtenisse, het Klaagliedere geskryf as 'n klaaglied oor wat met Juda en Jerusalem gebeur het.

Sleutelverse: Klaagliedere 2:17, "Die Here het gedoen wat Hy Hom voorgeneem het, Hy het die woord in vervulling laat gaan wat Hy lank gelede al afgekondig het. Hy het verwoes en geen genade betoon nie, Hy het die vyand hom oor jou laat vermaak, Hy het aan jou teëstanders die oorwinning gegee."

Klaagliedere 3:22-23, "deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan Sy ontferming nie, dit is elke more nuut. U trou is groot."

Klaagliedere 5:19-22, "Maar U, Here, U heers vir altyd, U troon staan vas van geslag tot geslag. Bekeer U ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees, gee ons weer die bestaan van vroeër. Of het U ons heeltemal verwerp? Is U toorn oor ons so groot?

Kort Samevatting: Die Boek Klaagliedere is in vyf hoofstukke verdeel. Elke hoofstuk verteenwoordig 'n aparte gedig. In die oorspronklike Hebreeus is die verse akrostigon geskryf, met ander woorde, elke vers begin met 'n opvolgende letter van die Hebreeuse alfabet. In Klaagliedere verstaan Jeremia dat God die Babiloniërs as 'n werktuig gebruik het, om straf oor Jerusalem te bring (Klaagliedere 1:12-15; 2:1-8; 4:11). Klaagliedere maak dit duidelik dat sonde en rebellie die oorsake van God se wraak was, wat Hy uitgestort het (1:8-9; 4:13; 5:16). Om te treur is van pas in 'n tyd van rampspoed, maar dit moet vinnig oorgaan in berou en skuldbelydenis (Klaagliedere 3:40-42; 5:21-22).

Voorspellings: Jeremia was bekend as die "treurende profeet" vir sy diep en innige passie vir sy mense en hul stad (Klaagliedere 3:48-49). Hierdie selfde hartseer oor die sonde van die mense en hul verwerping van God is deur Jesus uitgespreek, toe Hy Jerusalem genader het en gekyk het na die verwoesting vanweë die Romeine (Luk 19:41-44). As gevolg van die Joodse verwerping van hul Messias, het God die Romeinse beleëring gebruik om Sy mense te straf. Vir God is dit egter nie maklik om Sy kinders te straf nie en dus het Sy offerande, Jesus Christus, as 'n voorsiening vir sonde, getoon hoe groot Sy omgee vir Sy mense is. Eendag, as gevolg van Christus, sal God alle trane afvee (Openbaring 7:17).

Praktiese Toepassing: Selfs in erge straf, is God 'n God van hoop (Klaagliedere 3:24-25). Dit maak nie saak hoe ver ons van Hom afdwaal nie, ons het die hoop dat ons na Hom kan terugkeer en by Hom vergifnis en barmhartigheid vind (1 Joh 1:9). Ons God is 'n God van Liefde (Klaagliedere 3:22) en as gevolg van Sy groot liefde en barmhartigheid, het Hy Sy Seun gestuur, sodat ons nie in ons sonde verlore moet raak nie, maar vir ewig by Hom kan lewe (Joh 3:16). God se getrouheid (Klaagliedere 3:23) en bevryding (Klaagliedere 3:26) is eienskappe wat ons groot hoop en vertroosting gee. Hy is nie belangeloos en wispelturig nie, maar 'n God wat almal wil vryspreek wat na Hom kom, erken dat hulle niks kan doen om Sy goedgesindheid te verdien nie en net tot die Here om genade roep, sodat ons nie verslind word nie (Klaagliedere 3:22).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Die boek Klaagliedere
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries