settings icon
share icon

Die boek Josua

Skrywer: Die skrywer van die boek Josua word nie duidelik genoem nie. Dit is waarskynlik Josua, die seun van Nun, die opvolger van Moses as leier van Israel, wat die grootste deel geskryf het. Die laaste deel van die boek is ten minste deur een ander persoon geskryf, ná Josua se dood. Dit is ook moontlik dat verskeie dele geredigeer/saamgestel is na Josua se dood.

Datum van Skrywe: Josua is heel moontlik tussen 1400 en 1370 v C geskrywe.

Doel van Skrywe: Die boek Josua gee ‘n oorsig van die militêre veldtogte om die land wat God belowe het, te oorwin. Na die uittog uit Egipte en die daaropvolgende veertigjaar se woestyntog is die nuwe volk nou reg om die Beloofde Land in te gaan, die inwoners te oorwin en die gebied te beset. Die oorsig wat ons hier het, gee verkorte en geselekteerde besonderhede van die baie gevegte en die manier hoe die land oorwin is en hoe dit in stamgebiede verdeel is.

Sleutelverse: Josua 1:6-9,”Wees sterk, wees vasberade, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met ‘n eed aan hulle voorvaders beloof het. Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou bevel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ookal gaan. Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”

Josua 24:14-15, “Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou. Sien af van die gode wat julle voorvaders anderkant die Eufraat en in Egipte gedien het en dien die Here. Of as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”

Kort Samevatting: Die boek Josua gaan verder aan met die Israeliete se storie na die uittog uit Egipte. Dit vertel van Josua se leierskap van ongeveer 20 jaar, nadat Moses hom gesalf het aan die einde van Deuteronomium. Die 24 hoofstukke van Josua kan soos volg saamgevat word:

Hoofstukke 1-12: ingaan en verowering van die Beloofde Land.

Hoofstukke 13-22: Opdragte oor hoe die verspreiding van gebiede in die Beloofde Land moet plaasvind.

Hoofstukke 23-24: Josua se afskeidstoespraak

Voorspellings: Die storie van Ragab die prostituut en haar groot geloof in die God van die Israeliete kry ook ‘n plek onder diegene wat in Heb 11:31 vir hul geloof geëer word. Haar storie gaan oor God se genade aan sondaars en verlossing deur geloof alleen. Die belangrikste is dat sy deur God se genade onder die Messiaanse afstammelinge was (Matt 1:15).

Een van die seremoniële rituele van Josua 5 kom tot volkome vervulling in die Nuwe Testament. Verse 1-9 beskryf God se opdrag dat diegene wat in die woestyn gebore is, besny moes word wanneer hulle in die Beloofde Land gekom het. Deur dit te doen, het God die skande van Egipte weggeneem van hulle: Hy het hulle gereinig van hulle sondes van hul vorige leefstyl. Kol 2:10-12 beskrywe die gelowiges as mense wat deur Christus self in hul harte besny is, deur wie ons die sondige natuur van ons vroeëre lewens sonder Christus, verwerp.

God het stede van veiligheid geskep, sodat hulle wat per ongeluk iemand doodgemaak het, daar sonder vrees vir vergelding kon gaan woon. Christus is ons toevlug na wie toe ons kan vlug, “‘n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is” (Heb 6:18)

Die boek Josua het ‘n algehele tema van teologiese rus. Die Israeliete het vir veertig jaar in die woestyn getrek en uiteindelik die finale rus ingegaan, wat God vir hulle voorberei het in die land van Kanaän. Die skrywer van Hebreërs gebruik hierdie insident as waarskuwing vir ons dat ongeloof ons nie moet keer om God se rus in Christus in te gaan nie (Heb 3:7-12).

Praktiese Toepassing: Een van die sleutelverse in die boek Josua is 1:8, “Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan.” Die Ou Testament is gevul met stories van hoe die mense God en Sy Woord vergeet het en sodoende vreeslike gevolge moes dra. Vir die Christen is die Woord van God ons lewensbloed. Indien ons dit nalaat, sal ons lewens dienooreenkomstig daaronder ly. As ons egter die beginsel van 1:8 ter harte neem, sal ons toegerus wees en bruikbaar in God se Koninkryk (2 Tim 3:16-17). Ons sal vind dat God se beloftes in Jos 1:8-9 ook ons s’n sal wees.

Josua is die hoofvoorbeeld met karaktertrekke van ‘n waardige mentor. Vir jare het hy saam met Moses gestap en gesien hoe Moses God gevolg het op ‘n byna vleklose wyse. Hy het ook geleer om op ‘n persoonlike manier te bid en hy het geleer om deur Moses se optrede te gehoorsaam. Hy het egter ook van die negatiewe voorbeeld van Moses geleer, wat laasgenoemde die voorreg gekos het om die Beloofde Land binne te gaan. As jy in die lewe is, is jy ‘n mentor. Iemand hou jou iewers dop. Iemand wat jonger is of iemand wat jy beïnvloed, sien hoe jy optree en lewe. Iemand leer by jou. Om ‘n mentor te wees, behels baie meer as net die gesproke word. Sy of haar hele lewe is op die spel en ‘n toonbeeld vir ander.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Die boek Josua
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries