settings icon
share icon

Die boek Joël

Skrywer: Die Boek Joël meld dat die profeet Joël die skrywer was.

Datum van Skrywe: Joël is blykbaar tussen 835 en 800 v C geskryf.

Doel van Skrywe: Juda, die agtergrond vir die Boek, is verniel deur 'n massa sprinkane. Hierdie sprinkane het alles verwoes – die graanlanderye, die wingerde, die tuine en die bome. Joël beskryf simbolies die sprinkane as 'n marsjerende leër van mense en sien alles hiervan as goddelike straf teen die volk as gevolg van hul sondes. Die Boek is gekenmerk deur twee groot gebeurtenisse. Die een is die sprinkane en die ander is die uitstorting van die Gees. Die aanvanklike vervulling hiervan is deur Petrus aangehaal in Handelinge 2, soos dit ten tye van die Pinksterfees plaasgevind het.

Sleutelverse: Joël 1:4, "Wat nie deur die eerste sprinkaanswerm opgevreet word nie, word deur 'n volgende opgevreet; wat nie deur dié opgevreet word nie, deur 'n derde, en wat nie deur dié opgevreet word nie, deur 'n vierde."

Joël 2:25, "Ek sal julle vergoed vir die tyd van sprinkaanswerm op sprinkaanswerm…"

Joël 2:28, "Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek My Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien."

Kort Samevatting: 'n Wrede plaag sprinkane is gevolg deur 'n erge droogte dwarsdeur die land. Joël gebruik hierdie gebeure as 'n katalisator om waarskuwingswoorde aan Juda te stuur. Tensy die mense vinnig berou toon en ten volle berou het, sal vyandige leërmagte die land verniel, soos die natuur-elemente. Joël het aan alle mense en die priesters van die land gevra om te vas en hulself te verootmoedig en sodoende God se vergifnis te soek. Indien hulle reageer, sal daar nuwe materiële en geestelike seëninge vir die volk wees. Die Dag van die Here is egter aan die kom. Dan sal die gevreesde sprinkane soos muggies in vergelyking wees, wanneer alle nasies Sy oordeel ontvang.

Die oorheersende tema in Joël is die Dag van die Here, 'n dag van God se wraak en oordeel. Dit is die Dag waarop God Sy eienskappe van wraak, almag en heiligheid openbaar en dit is vreesaanjaend vir Sy vyande. In die eerste hoofstuk is die Dag van die Here geskiedkundig beleef as die sprinkaanplaag in die land. Hoofstuk 2:1-17 is 'n oorgangshoofstuk waarin Joël die metafoor van die sprinkaanplaag en die droogte gebruik tot n hernieude oproep tot sondeberou. Hoofstukke 2:18-3:21 beskryf die Dag van die Here in eskatologiese terme en antwoord die oproep tot berou met profesieë van fisiese herstel (2:21-27), geestelike herstel (2:28-32), en nasionale herstel (3:1-21).

Voorspellings: Wanneer die Ou Testament van sondestraf praat, individueel of nasionale sonde, word die koms van Jesus Christus in die vooruitsig gestel. Die profete van die Ou Testament waarsku Israel aanhoudend om hul sondes te bely, maar selfs al sou hulle, was hul berou beperk tot onderhouding van die Wet en werke. Hul tempelofferandes was net 'n vooruitskouing van die uiteindelike offerande, vir eens en altyd geoffer aan die kruishout (Heb 10:10). Joël vertel aan ons dat God se uiteindelike oordeel op die Dag van die Here, sal "'n groot dag, 'n verskriklike dag" wees, "wie is daarteen bestand?" (Joël 2:11). Die antwoord is dat ons op ons eie nooit so 'n oomblik kan verduur nie, maar as ons ons geloof in Christus plaas vir versoening van ons sondes, het ons niks om vir die Oordeelsdag te vrees nie.

Praktiese Toepassing: Sonder sondebelydenis, sal die oordeel hard, deeglik en seker wees. Ons vertroue moenie in ons besittings wees nie, maar in die Here onse God. God gebruik soms die natuur, hartseer of ander algemene dinge om ons nader aan Hom te bring. In Sy genade en barmhartigheid het Hy die definitiewe plan vir ons verlossing voorsien – Jesus Christus, gekruisig vir ons sondes en omruiling van ons sondes vir Sy volmaakte regverdigheid (2 Kor 5:21). Daar is nie tyd om te mors nie. God se oordeel kom gou, soos 'n dief in die nag (1 Tes 5:2) en ons moet gereed wees. Vandag is die dag van redding (2 Kor 6:2). "Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer" (Jes 55:6-7). Slegs deur God se verlossing te aanvaar vir onsself, kan ons Sy wraak ontkom op die Oordeelsdag.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Die boek Joël
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries