settings icon
share icon

Die boek Hooglied

Skrywer: Salomo het Hooglied geskryf, na aanleiding van die eerste vers. Hierdie lied is een van 1005 wat Salomo geskryf het (1 Kon 4:32). Dit titel "Hooglied" is voortreflik, dit beteken dit is die beste een.

Datum van Skrywe: Salomo het hierdie lied heel waarskynlik gedurende die begintyd van sy regering geskryf, ongeveer 965 v C.

Doel van Skrywe: Hooglied is 'n liriese gedig wat geskrywe is om die voortreflikheid van die liefde tussen man en vrou te verhef. Die gedig beeld die huwelik duidelik uit as 'n ontwerp van God. 'n Man en vrou moet saamwoon binne die konteks van die huwelik, mekaar geestelik, emosioneel en fisies liefhê.

Hierdie Boek worstel met twee uiterstes: asketisisme (die ontkenning van alle plesier) en hedonisme (die najaag van suiwer plesier). Die huweliksprofiel in Hooglied is 'n model van omgee, verbintenis en genot.

Sleutelverse: Hooglied 2:7; 3:5; 8:4 – "moenie die liefde wakker maak en aanvuur voor die tyd daarvoor ryp is nie."

Hooglied 5:1 – "Eet, vriende, drink, word dronk van die liefde."

Hooglied 8:6-7 – "Hou my teen jou soos die seëlring op jou bors, soos die seëlring aan jou arm. Die liefde is sterker as die dood, die hartstog magtiger as die doderyk; dit brand en vlam soos vuur. Strome water kan die liefde nie blus nie, riviere kan dit nie afkoel nie. Al wil iemand vir die liefde al die rykdom in sy huis betaal, hy sal daaroor uitgelag word."

Kort Samevatting: Die digkuns neem die vorm aan van 'n dialoog tussen 'n man (die koning) en sy vrou (die Sulammitiese). Ons kan die Boek in drie dele verdeel: die hofmakery (1:1 – 3:5); die troue (3:6 – 5:1); en die rypwording van die huwelik (5:2 – 8:14).

Die lied begin voor die huwelik, waar die aanstaande bruid verlang om by haar verloofde te wees en sy sien uit na sy intieme liefkosings. Nietemin adviseer sy dat die liefde natuurlik verloop, op sy eie tyd. Die koning besing die skoonheid van die Sulammitiese, deur haar gevoel van onsekerheid oor haar voorkoms te oorkom. Die Sulammitiese het 'n droom waarin sy Salomo verloor en hom dwardeur die stad soek. Met die hulp van die stadswagte, vind sy haar geliefde en kleef aan hom en neem hom na 'n veilige plek. Toe sy wakker word, herhaal sy haar bevel om nie die liefde te druk nie.

Op die huweliksnag besing die man die skoonheid van sy vrou en in hoogs simboliese taal, nooi die vrou haar eggenoot om deel te wees van alles wat sy aanbied. Hulle verkeer intiem en God seën die eenheid.

Soos die huwelik volwasse raak, groei die man en vrou deur 'n moeilike tyd, in 'n ander droom gesimboliseer. In die tweede droom, jak die Sulammitiese haar man af en hy verlaat haar. Sy voel skuldig en begin soek na hom in die stad, maar hierdie keer slaan die wagte haar – simboliek van haar skuldige gewete. Dinge eindig gelukkig as die geliefdes herenig en versoen is.

Aan die einde van die lied is beide man en vrou vol vertroue en verseker in hul liefde en daarom sing hulle van die ware liefde se aanhoudende aard en hulle verlang om in mekaar se teenwoordigheid te wees.

Voorspellings: Sommige vertolkers van die Bybel sien in Hooglied 'n presiese simboliese voorstelling van Christus en Sy kerk. Christus word as die koning gesien, terwyl die kerk die Sulammitiese vrou verteenwoordig. Terwyl ons glo dat Hooglied letterlik as 'n uitbeelding van die huwelik verstaan moet word, is daar sommige elemente wat die Kerk en sy verhouding met sy koning, die Here Jesus, voorafgaan. Hooglied 2:4 beskryf die ondervinding van elke gelowige wat deur die Here Jesus gesoek en gekoop is. Ons is in 'n plek van groot geestelike rykdom en is deur Sy liefde gedek. Vers 16 van Hooglied 2 sê: "Die man wat ek liefhet, is myne en ek syne. Hy laat sy skape tussen die lelies wei." Hier is 'n beeld van nie net slegs die sekuriteit van die gelowige in Christus nie (Joh 10:28-29), maar van die Goeie Herder wat Sy skape ken – gelowiges – en Sy lewe vir ons aflê (Joh 10:11). Deur Hom is ons nie langer deur sonde bevlek nie, maar is ons sondevlekke deur Sy bloed verwyder (Hooglied 4:7; Ef 5:27).

Praktiese Toepassing: Ons wêreld is verward rakende die huwelik. Die voorkomssyfer van egskeiding en moderne pogings om die huwelik te herdefinieer staan in felle kontras teenoor Salomo se Hooglied. Die Bybelse gedig sê dat die huwelik gevier, geniet en geëer moet word. Hooglied voorsien sommige praktiese riglyne om ons huwelike te versterk:

Gee aan jou huweliksmaat die aandag wat hy of sy benodig. Maak tyd om mekaar werklik te leer ken.

Bemoediging en lof, nie kritiek nie, is noodsaaklik in 'n suksesvolle verhouding.

Geniet mekaar. Beplan wegkomkansies. Wees kreatief, selfs spelerig met mekaar. Vind plesier in God se geskenk van die huweliksliefde.

Doen wat ookal nodig is om jou ooreenkoms met jou huweliksmaat te verseker. Hernieu julle beloftes aan mekaar; werk deur julle probleme en moenie egskeiding as 'n oplossing oorweeg nie. God het vir beide van julle in gedagte om te lewe in 'n diepe, vredevolle, versekerde liefdesverhouding.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Die boek Hooglied
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries