Boek Galasiërs


Skrywer: Gal 1:1 identifiseer duidelik die apostel Paulus as die skrywer van die sendbrief aan die Galasiërs.

Datum van Skrywe: Afhangende van presies vanwaar die boek Galasiërs gestuur is en gedurende watter sendingreis Paulus die kerke in daardie omgewing begin het, is die boek van Galasiërs iewers tussen 48 en 55 n C geskryf.

Doel van Skrywe: Die kerke in Galasië is gedeeltelik gevorm uit bekeerde Jode en gedeeltelik Heidense bekeerlinge, soos algemeen die geval was. Paulus het sy apostoliese karakter en die doktrines wat hy geleer het, gehandhaaf, sodat hy die kerke in Galasië kon bekragtig in die geloof van Christus, veral met respek ten opsigte van die belangrike punt rakende regverdigmaking deur geloof alleenlik. Hierdie onderwerp is hoofsaaklik dieselfde as wat in Romeine bespreek is, dat regverdigmaking deur geloof alleen verkry word. In hierdie sendbrief egter is die aandag spesifiek daarop gemik dat mense deur geloof regverdig gemaak word, sonder die werke volgens die Wet van Moses.

Galasiërs is nie 'n opstel wat in hedendaagse geskiedenis geskryf nie. Dit was 'n protes teen die bedorwenheid van die Evangelie van Christus. Die belangrike waarheid ten opsigte van regverdigmaking deur geloof, eerder as deur die werke volgens die Wet, is verduister deur die aandrang van die Judaïsme, dat gelowiges in Christus die Wet moet onderhou, indien hulle verwag om volmaak voor God te staan. Toe Paulus agterkom dat hierdie lering die kerke in Galasië begin indring het en dat dit hulle van hul erfenis van vryheid vervreem het, het hy die hartstogtelike teregwysing geskryf, wat in hierdie sendbrief saamgevat is.

Sleutelverse: Gal 2:16, "En tog weet ons dat 'n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie."

Gal 2:20, "en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat Sy liefde vir my bewys het deur Sy lewe vir my af te lê."

Gal 3:11, "En dat niemand op grond van die wet deur God vrygespreek word nie, is duidelik, want 'hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.'"

Gal 4:5-6, "om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. En omdat ons Sy kinders is, het God die Gees van Sy Seun in ons harte gestuur en in ons roep Hy uit: 'Abba!' Dit beteken: Vader!"

Gal 5:22-23, "Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie."

Gal 6:7, "Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat 'n mens saai, dit sal hy ook oes."

Kort Samevatting: Die resultaat deur regverdigmaking uit genade, deur geloof is geestelike vryheid. Paulus bemoedig die Galasiërs om vas te staan in hul vryheid en "moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie" (dit is Moses se Wet) (Gal 5:1). Christelike vryheid is nie 'n verskoning om sonde te doen nie, maar dit is 'n geleentheid om mekaar in liefde te dien (Gal 5:13; 6:7-10). Sulke vryheid stel jou nie vry van moeilike lewensomstandighede nie. Inteendeel dit kan die geveg tussen die Gees en die vlees vererger. Tog is die vlees (sondige natuur) saam met Christus gekruisig (Gal 2:20); en as 'n uitvloeisel daarvan, sal die Gees vrug dra soos liefde, vreugde en vrede in die lewe van die gelowige (Gal 5:22-23).

Die brief aan die Galasiërs is geskryf in 'n gees van inspirerende verontrusting. Vir Paulus het dit nie daaroor gegaan of 'n persoon besny was nie, maar of hy "'n nuwe mens" geword het (Gal 6:15). As Paulus nie suksesvol was in sy argument oor regverdigmaking deur geloof alleen nie, sou Christenskap 'n sekte binne-in Judaïsme gebly het, eerder as om die universele wyse van verlossing te word. Galasiërs is dus nie slegs Luther se sendbrief nie; dit is die sendbrief van elke gelowige wat saam met Paulus bely: "Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat Sy liefde vir my bewys het deur Sy lewe vir my af te lê" (Gal 2:19-20).

Die boeke van Jakobus en Galasiërs illustreer twee aspekte van Christenskap wat van die vroegste begin reeds in konflik was, maar in realiteit is hulle tog aanvullend van mekaar. Jakobus staan vas op die sedes van Christus, 'n vereiste dat die bestaan van geloof deur sy vrug getoets word. Jakobus beklemtoon, niks minder as Paulus nie, dat die individu se behoefte om verander te word, alleen deur God se genade moontlik is (Jak 1:18). Galasiërs beklemtoon die dinamiek van die Evangelie wat sedes voortbring (Gal 3:13-14). Paulus was ook nie minder geraak as Jakobus aangaande die sedelike lewe nie (Gal 5:13). Soos die twee kante van 'n muntstuk, moet hierdie twee aspekte van die Christelike waarheid mekaar altyd vergesel.

Skakelpunte: Regdeur Paulus se sendbrief aan die Galasiërs, is reddende genade – die gawe van God – naas mekaar in posisie teen die wet van Moses, wat nie kan red nie. Judaïsme wat die Mosaïese wet as hul bron van regverdigmaking beskou het, was prominent in die vroeë kerk en het selfs tydelik vir Petrus, as vername Christen, in hul web van misleiding betrek (Gal 2:11-13). Die vroeë Christene was so verknog aan die wet dat Paulus aanhoudend moes terugval op die waarheid, dat verlossing deur genade niks met wetsonderhouding te doen het nie. Die temas wat Galasiërs met die Ou Testament verbind, draai om die wet teenoor genade: die onbevoegdheid van die wet om regverdig te maak (2:16); die gelowige se doodsheid ten opsigte van die wet (2:19); Abraham se redding deur genade (3:6); die wet bring nie verlossing nie, maar God se oordeel (3:10); en liefde, nie werke nie, vervul die wet (5:14).

Praktiese Toepassing: Een van die hooftemas van die boek Galasiërs, staan in 3:11, "hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe." Ons is nie slegs deur geloof gered nie (Joh 3:16; Ef 2:8-9), maar die gelowige se lewe in Christus – dag vir dag, oomblik vir oomblik – word gelewe in en deur daardie geloof. Geloof is nie iets wat ons deur onsself en op ons eie optoor nie – dit is die gawe van God, nie deur werke nie – maar eerstens is dit ons verantwoordelikheid en vreugde om ons geloof so te vertoon, dat andere die werk van Christus in ons lewens kan raaksien en tweedens om ons geloof te versterk deur die aanwending van geestelike dissiplines (Bybelstudie, gebed en gehoorsaamheid.)

Jesus het gesê dat ons geken sal word deur die vrug wat ons dra in die lewe (Matt 7:16), wat getuienis dra van die geloof in ons. Alle Christene moet ywerig daarna strewe om te bou op die reddende genade binne-in ons, sodat ons lewens Christus kan weerspieël en ander Hom in ons sal sien "en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik" (Matt 5:16).

English

Nuwe Testament Samevatting

Boek Galasiërs