Evangelie Markus



Skrywer: Alhoewel die Evangelie van Markus nie sy outeur noem nie, is dit die eenstemmige getuienis van vroeë kerkvaders dat Markus wel die skrywer is. Hy was 'n medewerker van die apostel Petrus en klaarblyklik sy geestelike seun (1 Pet 5:13). Van Petrus het hy eerstehandse inligting ontvang in verband met die gebeure en leringe van die Here en die inligting is in geskrewe vorm behou.

Dit is algemeen aanvaar dat Markus, die Johannes Markus, van die Nuwe Testament is (Hand 12:12). Sy ma was 'n welgestelde en gesiene Christen in die kerk van Jerusalem en waarskynlik het die kerk in haar huis bymekaargekom. Markus het by Paulus en Barnabas aangesluit op hul eerste sendingreis, maar nie by die tweede nie, as gevolg van sterk meningsverskille tussen die manne (Hand 15:37-38). Teen die einde van Paulus se lewe het hy weer vir Markus genader om saam met hom te werk (2 Tim 4:11).

Datum van Skrywe: Die Evangelie van Markus is meer waarskynlik een van die eerste boeke in die Nuwe Testament, moontlik in 57-59 n C.

Doel van Skrywe: Matteus is hoofsaaklik geskrywe aan sy mede-Jode, maar Markus is waarskynlik meer gefokus op die Romeinse gelowiges, spesifiek Heidene. Markus het as 'n prediker aan Christene, wat vroeër die Evangelie gehoor en geglo het, geskrywe (Rom 1:8). Sy wens was dat hulle 'n biografiese storie aangaande Jesus Christus as Dienskneg van die Here en Verlosser van die wêreld sou hoor, om sodoende hul geloof in die aangesig van vervolging te versterk en hulle te leer, wat dit beteken om Sy dissipels te wees.

Sleutelverse: Mark 1:11, "Daar was ook 'n stem uit die hemel: 'Jy is My geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.'"

Mark 1:17, "Hy het toe vir hulle gesê: 'Kom hier! Kom saam met My en Ek sal julle vissers van mense maak.'"

Mark 10:14-15, "Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê, 'Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.'"

Mark 10:45, "Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as losprys vir baie mense."

Mark 12:33, "En 'om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag' en 'om jou naaste lief te hê soos jouself, is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.'"

Mark 16:6, "Moenie skrik nie!" sê Hy vir hulle. "Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek, Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het."

Mark 16:15, "Hy het vir hulle gesê: 'Gaan uit, die hele wêreld in en verkondig die Evangelie aan die hele mensdom.'"

Kort Samevatting: Hierdie Evangelie is uniek, omdat dit meer klem plaas op Jesus se handelinge as Sy leringe. Dit is eenvoudig geskryf en beweeg vinnig van die een gebeurlikheid in die lewe van Christus, na die ander. Dit begin nie met 'n geslagsregister soos in Matteus nie, aangesien die Heidene nie in Sy herkoms belanggestel het nie. Na Jesus se bekendstelling tydens Sy doop, het Hy Sy publieke bediening in Galilea begin en het Hy Sy eerste dissipels geroep. Daarna volg die gedeelte van Jesus se lewe, sterwe en opstanding.

Markus se weergawe is nie net 'n versameling van stories nie, maar 'n skrywe om te openbaar dat Jesus die Messias is, nie net vir die Jode nie, maar vir die Heidene ook. In 'n dinamiese belydenis erken die dissipels, onder leiding van Petrus, hul geloof in Hom (Mark 8:29-30), alhoewel hulle nie daarin geslaag het om ten volle Sy Messiasskap tot na Sy opstanding kon verstaan het nie.

Soos ons Sy reise deur Galilea en die omliggende areas en na Judea volg, besef ons watter haastige pas Hy gevolg het. Hy het die lewens van baie mense aangeraak, maar Hy het 'n onuitwisbare merk op Sy dissipels gelaat. By die verheerliking (Mark 9:1-9) het Hy aan die drie van hulle 'n voorskou van Sy toekomstige terugkeer in mag en glorie gegee en dis opnuut aan hulle geopenbaar Wie Hy was.

Gedurende die dae wat gelei het na Sy finale reis na Jerusalem, sien ons tog dat hulle verwilderd, vreesbevange en vol twyfel was. Toe Jesus gearresteer is, het Hy alleen bly staan, terwyl hulle gevlug het. Gedurende die opvolgende ure van bespottende verhore, het Jesus dapper erken dat Hy die Christus was, die Seun van die Een aan Wie die lof toekom en dat Hy in Heerlikheid sal terugkom (Mark 14:61-62). Die hoogtepunte van die gebeure rondom die kruisiging, sterwe, begrafnis en opstanding is nie deur baie van Sy dissipels waargeneem nie. Verskeie gelowige vroue het egter Sy lyding aanskou.

Ná die Sabbat, vroeg in die môre op die eerste dag van die week, het hulle na die graf gegaan met reukolies. Toe hulle sien dat die klip weggerol is, het hulle in die graf ingegaan. Dit was nie Jesus se liggaam wat daar was nie, maar 'n engel in wit klere. Die vreugdevolle boodskap wat hulle ontvang het, was dat Hy opgestaan het! Vroue was dus die eerste boodskappers wat die goeie nuus van Sy opstanding versprei het. Hierdie selfde boodskap is regdeur die wêreld verkondig, in die eeue wat gekom het tot by ons, vandag nog.

Skakelpunte: Aangesien Markus se gehoor waarop hy gemik het die Heidene was, het hy nie so baie soos Matteus uit die Ou Testament aangehaal nie. Matteus het hoofsaaklik met die Jode gepraat. Hy het nie met die geslagsregister begin, waar Jesus met die Joodse patriarge verbind is nie, maar in plaas daarvan begin hy met Sy doop, die begin van Sy aardse bediening. Selfs daar haal Markus 'n Ou Testamentiese profesie aan van die boodskapper – Johannes die Doper – wat die mense vermaan het "Maak die pad vir die Here gereed" (Mark 1:3; Jes 40:3) terwyl hulle die koms van die Messias afgewag het.

Jesus verwys in verskeie gedeeltes in Markus na die Ou Testament. In Mark 7:6 bestraf Jesus die Fariseërs oor hul oormatige aanbidding van God met hul lippe, terwyl hul harte ver van Hom is en verwys na hul eie profeet, Jesaja, om hulle van hul verharde harte te oortuig (Jes 29:13). Jesus verwys na 'n ander Ou Testamentiese profesie wat vervul sou word in dieselfde nag toe die dissipels soos skape sonder 'n herder uitmekaar gejaag is, toe Jesus gevange geneem en doodgemaak is (Mark 14:27; Sagaria 13:7). Hy verwys weer na Jesaja toe Hy die tempel gereinig het van die geldwisselaars (Mark 11:15-17; Jes 56:7; Jer 7:11) en na die Psalms toe Hy verduidelik het dat Hy die belangrikste klip in die gebou geword het (die hoeksteen van ons geloof en van die Kerk) (Mark 12:10-11; Ps 118:22-23).

Praktiese Toepassing: Markus beeld Jesus uit as die lydende Dienskneg van God (Mark 10:45) en as die Een wat gekom het om te dien en vir ons geoffer te word, as voorbeeld vir ons om dieselfde te doen. Ons moet bedien soos Hy gedoen het, met dieselfde mate van nederigheid en toewyding tot diens van ons naaste. Jesus het ons gemaan om te onthou dat om belangrik in Sy koninkryk te wil wees, moet ons almal se dienskneg wees (Mark 10:44). Selfopoffering moet ons behoefte vir erkenning en beloning oortref, soos Jesus ook gewillig was om verneder te word en Sy lewe vir Sy skape af te lê.


Nuwe Testament Samevatting

Evangelie Markus