settings icon
share icon

Evangelie van Lukas

Skrywer: Die Evangelie van Lukas identifiseer nie die skrywer nie. Uit Luk 1:1-4 en Hand 1:1-3 blyk dit duidelik dat dieselfde skrywer beide Lukas en Handelinge geskryf het, beide gerig aan die "Hooggeagte Teofilus", blykbaar 'n Romeinse hooggeplaaste. Volgens die oorlewering van die kerk van die vroegste tye wil dit voorkom asof Lukas 'n dokter en 'n goeie vriend van die apostel Paulus was en dat hy beide Handelinge en Lukas geskryf het (Kol 4:14; 2 Tim 4:11). Dit maak dat Lukas die enigste Heiden was wat enige Bybelboeke geskryf het.

Datum van Skrywe: Die Evangelie van Lukas is waarskynlik tussen 58 en 65 n C geskryf.

Doel van Skrywe: Soos met die ander twee sinoptiese Evangelies, Matteus en Markus, is hierdie boek se doel om die Here Jesus Christus en alles wat Hy begin doen en leer het, tot by Sy hemelvaart, te openbaar (Hand 1:1-2). Lukas se Evangelie is uniek, aangesien dit 'n oorpresiese geskiedenis is – "noukeurig, stap vir stap" (Luk 1:3), ooreenstemmend met Lukas se mediese denke, waar hy dikwels besonderhede gee wat die ander Evangelies uitlaat. Lukas se geskiedenis oor die lewe van die Groot Geneesheer beklemtoon dat Sy bediening 'n passie vir Heidene, Samaritane, vroue, kinders, tollenaars, sondaars en andere het, wat as uitgeworpenes van Israel beskou was.

Sleutelverse: Luk 2:4-7: "Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie."

Luk 3:16,17 "Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: 'Ek doop julle met water, maar my meerdere kom en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.'"

Luk 4:18-19,21: "Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die Evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes vir vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig." "Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul."

Luk 18:31-32: "Jesus het die twaalf opsy geneem en vir hulle gesê: 'Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe en alles wat die profete oor die Seun van die mens geskryf het, sal daar bewaarheid word. Hy sal uitgelewer word aan die heidene; Hy sal bespot en beledig word; hulle sal op Hom spoeg, Hom gésel en Hom daarna doodmaak. En op die derde dag sal Hy uit die dood opstaan.'"

Luk 23:33-34: "Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan Sy regter- en die ander een aan Sy linkerkant. Toe sê Jesus: 'Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!'"

Luk 24:1-3: "Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het. Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie."

Kort Samevatting: Hierdie boek word die mooiste boek wat ooit geskryf is, genoem. Lukas begin vertel oor Jesus se ouers; die geboorte van Sy nefie, Johannes die Doper; Maria en Josef se reis na Betlehem, waar Jesus in 'n krip gebore is en die geslagsregister van Christus deur Maria. Jesus se publieke bediening openbaar Sy volmaakte liefde en vergifnis deur die stories van die verlore seun, die ryk man en Lasarus en die goeie Samaritaan. Terwyl baie mense in hierdie onvoorwaardelike liefde glo, wat alle menslike perke oorskry, is daar baie ander, veral die godsdienstige leiers, wat die aansprake van Jesus bevraagteken. Christus se volgelinge word bemoedig om die prys van dissipelskap te aanvaar, terwyl Sy vyande Sy dood aan die kruis gesoek het. Uiteindelik is Jesus verraai, verhoor, gevonnis en gekruisig, maar die graf kon Hom nie hou nie! Sy opstanding waarborg die voortgang van Sy bediening deur die verlorenes te soek en te red.

Verwysings: Aangesien Lukas 'n Heiden was, is sy verwysings na die Ou Testament relatief min in vergelyking met Matteus se Evangelie en die meeste Ou Testamentiese verwysings is in Jesus se eie woorde, eerder as in Lukas se vertellings. Jesus het die Ou Testament gebruik as verweer teen Satan se aanvalle en het hom geantwoord met "Daar staan geskrywe" (Luk 4:1-13); om Hom te identifiseer as die beloofde Messias (Luk 4:17-21); om die Fariseërs te herinner van hul onvermoë om die Wet te onderhou en hul behoefte aan 'n Verlosser (Luk 10:25-28, 18:18-27); en om hul lering te fnuik as hulle Hom wou uitvang (Luk 20).

Praktiese Toepassing: Lukas gee vir ons 'n pragtige uitbeelding van ons liefdevolle Verlosser. Jesus was nie afgesit deur die armes en behoeftiges nie; hulle was eerder 'n hooffokus van Sy bediening. Israel was gedurende Jesus se tyd baie bewus van klasseverskil in hul gemeenskap. Die swakkes en verdruktes was letterlik magteloos om hul lot in die lewe te verbeter en het hulle baie spesifiek oopgestel vir die boodskap dat "die koninkryk van God baie naby" is (Luk 10:9). Dit is 'n boodskap wat ons aan andere om ons moet bring, wat baie desperaat en in nood is. Selfs in betreklike vooruitstrewende lande – miskien spesifiek so – is die geestelike nood ontsettend. Christene moet die voorbeeld van Jesus volg en die goeie nuus van verlossing aan die diegene bring wat geestelik arm en behoeftig is. Die koninkryk van God is naby en die tyd raak korter elke dag.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Evangelie van Lukas
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries