Die boek Eksodus



Skrywer: Moses was die skrywer van Eksodus (Eks 17:14; 24:4-7; 34:27).

Datum van Skrywe: Die boek Eksodus is tussen 1440 en 1400 vC geskryf.

Doel van Skrywe: Die woord “eksodus” beteken “om te vertrek”. In God se tyd was dit die vertrek van die Israeliete vanuit Egipte, gekenmerk as die einde van ‘n periode van verdrukking vir Abraham se afstammelinge (Gen 15:13) en die begin van die vervulling van die verbond wat aan Abraham belowe is, dat sy afstammelinge nie net in die Beloofde Land sou bly nie, maar ook vermenigvuldig sou word en ‘n groot nasie sou word (Gen 12:1-3, 7). Die doel van die boek kan gesien word as die navolging van die spoedige groei van Jakob se afstammelinge vanuit Egipte tot die vestiging van die teokratiese volk in hul Beloofde Land.

Sleutelverse: Eks 1:8, “Toe ‘n nuwe koning wat nie van Josef geweet het nie, oor Egipte begin heers.”

Eks 2:24-25, “God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.”

Eks 12:27, “Dit is ‘n paasoffer aan die Here omdat Hy in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan het. Terwyl Hy die Egiptenaars getref het, het Hy ons huise gespaar. Toe het die volk in aanbidding gebuig.”

Eks 20:2-3, “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie.”

Kort Samevatting: Eksodus begin waar Genesis eindig, toe God met Sy uitverkore mense, die Jode onderhandel. Dit volg die gebeure van die tyd toe Israel Egipte binnegegaan het as gaste van Josef, wat ‘n magtige man in Egipte was, totdat hulle uiteindelik weer bevry was van die wrede slawerny waarin “…’n nuwe koning wat nie van Josef geweet het nie” hulle gebring het (Eks 1:8).

Hoofstukke 1-14 beskryf die omstandighede van die Joodse verdrukking onder Farao, die verskyning van Moses as hul bevryder, die plae van God oor Egipte, omdat hulle leier geweier het om onder Hom te dien en die vertrek uit Egipte. God se soewereine en magtige hand word in die wonderwerke van die plae gesien – wat eindig met die dood van die eersgeborenes en die instelling van die eerste Paasfees – die bevryding van die Israeliete, die verdeling van die Rooi See en die vernietiging van die Egiptiese leërmag.

Die middelste gedeelte van Eksodus word gewy aan die woestyn en die wonderbaarlike voorsiening van God aan Sy mense. Alhoewel Hy vir hulle brood vanuit die hemel gegee het, bitter water soet gemaak het, water uit n rots laat vloei het, oorwinning oor diegene wat hulle wou verwoes, Sy Wet op kliptafels deur Sy eie hand geskryf het en Sy teenwoordigheid in die vorm van ‘n vuur- en wolkkolom getoon het, het die mense aanhoudend gekla en teen Hom gerebelleer .

Die laaste derde van die boek beskryf die bou van die Verbondsark en die plan vir die Tabernakel met sy verskeidenheid van offerandes, altare, meubels, seremonies en vorme van aanbidding.

Voorspellings: Die tallose offerandes wat van die Israeliete vereis was, vorm ‘n beeld van die hoogste offerande, die Paaslam van God, Jesus Christus. Die nag toe die laaste plaag op Egipte neergekom het, is ‘n volmaakte lam geslag en die bloed is aan die deurkosyne van God se mense se huise gesmeer en sodoende is hulle beskerm teen die doodsengel. Dit het Jesus, die Lam van God, vlekloos en sonder liggaamsgebrek uitgebeeld (1 Pet 1:19), wie se bloed gebruik is om te verseker dat ons die ewige lewe verkry. Saam met die simboliese teenwoordigheid van Christus in Eksodus, is die beskrywing van die water uit die rots in Eks 17:6. Soos Moses die rots geslaan het om lewegewende water vir die mense te gee om te drink, so het God ook die Rots van ons Verlossing geslaan, Hom vir ons sondes gekruisig en van dié Rots het die geskenk van lewende water gekom (Joh 4:10). Die voorsiening van manna in die woestyn is ‘n volmaakte beeld van Christus, die Brood van Lewe (Joh 6:48), deur God voorsien om vir ons lewe te gee.

Praktiese Toepassing: Die Mosaïese Wet was gedeeltelik gegee om die mensdom te wys dat hulle nie by magte was om dit te onderhou nie. Ons het nie die vermoë om God te plesier deur die Wet te onderhou nie; dus vermaan Paulus ons deurdat “’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die Wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo” Gal 2:16).

God se voorsiening vir die Israeliete vanuit vrymaking van gevangenskap tot die manna en kwartels in die woestyn, is duidelike aanduidings van Sy genadige voorsiening vir Sy mense. God het belowe om in al ons behoeftes te voorsien. “God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here (1 Kor 1:9).

Ons moet op die Here vertrou, want Hy kan ons van enigiets verlos, maar God laat nie toe dat sonde vir ewig ongestraf bly nie. Ons kan Hom byvoorbeeld vertrou in Sy vergelding en regverdigheid. As God ons vanuit slegte omstandighede verlos, moet ons nie begeer om weer terug te gaan nie. Wanneer God vereistes aan ons stel, verwag Hy van ons om dit na te kom, maar terselfdertyd voorsien Hy Sy genade en ontferming, omdat Hy weet dat ons nie in staat sal wees om dit op ons eie ten volle te gehoorsaam nie.


Ou Testament Samevatting

Die boek Eksodus