settings icon
share icon

Die boek Deuteronomium

Skrywer: Moses het die boek Deuteronomium geskryf, wat dan uiteraard ‘n samevatting van sy preke aan Israel is, net voordat hulle die Jordaan oorgesteek het. “In hierdie boek word die woorde van Moses weergegee” (1:1). Iemand anders, moontlik Josua, kon dalk die laaste hoofstuk geskrywe het.

Datum van Skrywe: Hierdie preke is gedurende die 40-dae periode gegee, voordat Israel die Beloofde Land ingegaan het. Die eerste preek is gelewer op die eerste dag van die elfde maand (1:3) en die Israeliete het die Jordaan 70 dae later, op die 10de dag van die eerste maand oorgesteek (Josua 4:19). Indien ons die 30 dae van rou na Moses se dood aftrek (Deut 34:8) bly daar 40 dae oor. Die jaar was 1410 v C.

Doel van Skrywe: ‘n Nuwe generasie Israeliete sou die Beloofde Land intrek. Hierdie menigte mense het nie die wonderwerk by die Rooi See beleef nie en ook nie die Wet wat by Sinai gegee is, gehoor nie. Hulle moes ook ‘n land binnegaan met baie gevare en versoekings. Die boek Deuteronomium is geskryf om hulle aan God se Wet en God se Almag te herinner.

Sleutelverse: “Moenie iets byvoeg by wat ek julle beveel nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het.” (Deut 4:2).

“Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag. Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.” (Deut 6:4-7).

“Toe Moses hiermee klaar was, het hy vir al die Israeliete gesê: ‘Neem al die woorde waarmee ek julle vandag vermaan het, ter harte. Julle moet julle kinders beveel om dit te gehoorsaam en te lewe volgens hierdie hele wet. Dit is nie ‘n geringe saak vir julle nie, dit is die lewe vir julle, en deur hierdie gebod te onderhou, sal julle julle verblyf verleng in die land wat julle in besit sal neem wanneer julle die Jordaan deurtrek.’” (Deut 32:45-47).

Kort Samevatting: Die Israeliete het opdrag gekry om vier dinge te onthou: God se getrouheid, God se heiligheid, God se seëninge en God se waarskuwings. Die eerste drie hoofstukke som die reis vanuit Egipte na hul huidige standplaas, Moab, op. Hoofstuk 4 is ‘n oproep tot gehoorsaamheid, om getrou te bly aan God, omdat Hy teenoor hulle getrou was.

Hoofstukke 5-26 is ‘n herhaling van die Wet. Die Tien Gebooie, die wette rakende offerandes en spesiale dae en die res van die Wet is aan die nuwe generasie gegee. Seëninge is beloof aan diegene wat gehoorsaam lewe (5:29; 6:17-19; 11:13-15) en droogte is aan diegene beloof wat die Wet sou breek 911:16-17).

Die tema van seën en straf gaan voort in hoofstukke 27-30. Hierdie gedeelte van Deuteronomium eindig met ‘n duidelike keuse aan Israel: “Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.” God se begeerte vir Sy mense is gevind in wat Hy aanbeveel het: “Kies die lewe” (30:19).

In die finale hoofstukke, bemoedig Moses die mense; stel sy plaasvervanger, Josua, aan; komponeer ‘n lied en gee ‘n laaste seën aan elke stam van Israel. Hoofstuk 34 het betrekking op die omstandighede wat tot Moses se dood gelei het. Hy het die tot by die top van die Pisgaberg geklim, waar die Here hom die Beloofde Land gewys het, wat hy nie sou binnegaan nie. Op 120-jarige ouderdom, met goeie sig en jeugdige krag het Moses in die teenwoordigheid van die Here gesterf. Deuteronomium eindig met ‘n kort oorsig aangaande hierdie groot profeet.

Voorspellings: Baie Nuwe Testamentiese temas is in Deuteronomium teenwoordig. Die belangrikste onder hulle is die perfekte navolging van die Mosaïese Wet en die onmoontlikheid om dit na te kom. Die eindelose offerandes wat nodig was om vir die mense se sondes te betaal – wat aanhoudend die Wet oortree het – sou hul vervulling kry in die finale “eenmalige” offerande van Christus (Heb 10:10). As gevolg van Sy versoeningswerk aan die kruis, sal ons nooit weer enige verdere offerandes vir sonde hoef te bring nie.

God se uitverkiesing van die Israeliete as Sy spesiale mense, voorspel Sy uitverkiesing van diegene wat in Christus sou glo (1 Pet 2:9). In Deut 18:15-19 profeteer Moses van ‘n ander profeet – die uiteindelike Profeet is die Messias wat sou kom. Soos Moses sou Hy goddelike openbaring ontvang en preek en Hy sou Sy mense lei (Joh 6:14; 7:40).

Praktiese Toepassing: Die boek van Deuteronomium onderstreep die belangrikheid van God se Woord. Dit is ononderhandelbaar deel van ons lewens. Alhoewel ons nie meer onder die Ou Testamentiese Wet staan nie, is ons nog steeds verantwoordelik om aan die wil van God vir ons lewens ondergeskik te wees. Doodgewone gehoorsaamheid bring seën en sonde het sy eie gevolge.

Nie een van ons is bokant die Wet verhewe nie. Selfs Moses, die leier en profeet deur God gekies, was veronderstel om te gehoorsaam. Die rede waarom hy nie die Beloofde Land kon binnegaan nie, was as gevolg van die feit dat hy die Here se duidelike opdrag nie gehoorsaam het nie (Numeri 20:13).

Gedurende Sy versoeking in die woestyn, het Jesus drie keer uit Deuteronomium aangehaal (Matt 4). Deur dit te doen, het Jesus geïllustreer hoe belangrik dit is dat ons God se Woord in ons harte moet bewaar, sodat ons nie teen Hom moet sondig nie (Ps 119:11).

Soos Israel God se getrouheid moes onthou, so ons ook. Die oorsteek van die Rooi See, die heilige teenwoordigheid op Sinai en die seën van die manna in die woestyn, behoort vir ons elkeen ‘n bemoediging te wees. ‘n Goeie manier om aan te gaan op ons lewenspad, is om tyd te maak om terug te kyk en sodoende te sien wat God gedoen het.

Ons het ook ‘n pragtige beeld van ‘n liefdevolle God in Deuteronomium, wat ‘n verhouding met Sy kinders soek. Die Here praat van die liefde as die juiste rede waarom Hy Israel uit Egipte “deur Sy groot krag” laat uittrek het en hulle bevry het (Deut 7:7-9). Hoe wonderlik om vry te wees van die slawerny van sonde en om deur ‘n Almagtige God liefgehê te wees!

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Die boek Deuteronomium
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries