settings icon
share icon

Die boek Nehemia

Skrywer: Die boek Nehemia noem geen spesifieke skrywer nie, maar beide Joodse en Christen-tradisies erken Esra as die outeur. Dit word gebaseer op die feit dat die boeke Esra en Nehemia oorspronklik een was.

Datum van Skrywe: Nehemia is klaarblyklik tussen 445 en 420 v C geskryf.

Doel van Skrywe: Nehemia is een van die geskiedkundige Bybelboeke en gaan voort met die storie oor Israel se terugkeer van die Babiloniese ballingskap en die herbou van die Tempel in Jerusalem.

Sleutelverse:
Neh 1:3, “en hulle het vir my gesê: ‘Die ballinge wat teruggegaan het, beleef daar in die provinsie Juda groot ellende en smaad. Die muur van Jerusalem lê om en die stadspoorte is verbrand.’”

Neh 1:11, “Ag, Here, luister tog na die gebed van u dienaar en na die gebed van u dienaars, hulle vir wie dit ‘n vreugde is om U Naam te eer. Laat my tog voorspoedig wees met wat ek vandag wil doen. Laat hierdie man my simpatiek gesind wees.”

Neh 6:15-16, “Die muur is voltooi op die vyf en twintigste van die maand Elul, binne twee en vyftig dae. Toe al ons vyande dit hoor en die nasies rondom ons dit sien, was hulle selfversekerdheid daarmee heen. Hulle het toe geweet ons doen hierdie werk met die hulp van ons God.”

Kort Samevatting: Nehemia was ‘n Hebreër in Persië, toe die woord hom bereik het dat die Tempel in Jerusalem weer opgerig word. Hy het angstig geword toe hy besef daar was geen muur om die stad te beskerm nie. Nehemia het God gevra om hom te gebruik om die stad te red. God het sy gebed verhoor deur die Persiese koning, Artasasta, se hart sag te maak. Hy het nie net sy seën gegee nie, maar ook voorrade om vir die projek te gebruik. Nehemia het toestemming van die koning gekry om na Jerusalem terug te keer, waar hy goewerneur gemaak is.

Ten spyte van teenkanting en beskuldigings is die muur gebou en die vyand stilgemaak. Die mense, geïnspireer deur Nehemia, gee tiendes van baie geld, voorrade en mannekrag om die muur binne die ongelooflike tyd van 52 dae te voltooi, ten spyte van baie teenkanting. Hierdie verenigde poging is van korte duur, omdat Jerusalem weer afvallig raak, toe Nehemia vir ‘n kort tyd weggaan. Na twaalf jaar het hy teruggekom en die mure nog sterk kom vind, maar die mense swak. Hy vat toe die taak aan om die mense moraliteit te leer en hy het nie doekies omgedraai nie. “Ek het met die mense geraas, hulle vervloek, party van hulle geslaan, hulle hare uitgetrek en hulle voor God ‘n eed laat aflê” (Neh 13:25). Hy het opregte aanbidding deur gebed weer ingestel en deur die mense te bemoedig tot herlewing, het hy hulle die Woord van God voorgelees en daaraan laat vashou.

Voorspellings: Nehemia was ‘n man van gebed en het passievol vir sy mense gebid (Neh 1). Sy brandende begeerte vir intersessie vir God se mense is voorafskaduwing van ons groot Intersessor, Jesus Christus, wat vurig vir Sy mense gebid het in Sy hoëpriesterlike gebed in Joh 17. Beide Nehemia en Jesus het ‘n brandende liefde vir God se mense, wat hulle tot God deur gebed uitstort en vir hulle intree voor die Troon.

Praktiese Toepassing: Nehemia het die Israeliete in respek en liefde teenoor die inhoud van die Skrif gelei. Nehemia het as gevolg van sy liefde vir God en sy begeerte dat God geëer en geprys moet word, die Israeliete gelei tot geloof en gehoorsaamheid aan God. Dit was God se begeerte vir hulle oor so ‘n lang tyd. Op dieselfde wyse moet Christene die waarhede van die Skrif liefhê en eerbiedig, dit memoriseer, dag en nag daarop mediteer en elke keer vir die vervulling van geestelike behoeftes daarheen draai en dit gebruik. 2 Tim 3:16-17 sê, “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.” Indien ons verwag om die geestelike herlewing van die Israeliete te ervaar (Neh 8:1-8), moet ons met God se Woord begin.

Ons elkeen behoort opregte medelye te hê vir ander wat geestelike of fisiese seer beleef. Om medelye te voel en niks te doen om te help nie, is onbybels. Soms moet ons ons eie gemak opgee om ander behoorlik te bedien. Ons moet volkome glo in ‘n saak, voordat ons ons tyd of geld daarvoor gee, met ‘n opregte hart. Wanneer ons God toelaat om deur ons te bedien, sal selfs ongelowiges weet dat dit God se werk is.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Die boek Nehemia
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries