settings icon
share icon

Boek 2 Timoteus

Skrywer: 2 Tim 1:1 identifiseer die skrywer as die apostel Paulus.

Datum van Skrywe: 2 Timoteus is ongeveer 67 n C geskryf, kort voordat die apostel Paulus doodgemaak is.

Doel van Skrywe: Opnuut in Rome in gevangenskap het die apostel Paulus alleen en verwerp gevoel. Paulus het besef dat sy aardse lewe spoedig op 'n einde sou wees. 2 Timoteus bevat hoofsaaklik Paulus se laaste woorde. Paulus het verby sy eie omstandighede gekyk om besorg te wees oor die kerke en in besonder Timoteus. Paulus wou sy laaste woorde gebruik om Timoteus te bemoedig, asook al die ander gelowiges, om te volhard in die geloof (2 Tim 3:14) en vas te hou aan die Evangelie van Jesus Christus (2 Tim 4:2).

Sleutelverse: 2 Tim 1:7, "Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing."

2 Tim 3:16-17, "Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk."

2 Tim 4:2, "verkondig die Woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee."

2 Tim 4:7-8, "Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na Sy koms."

Kort Samevatting: Paulus bemoedig vir Timoteus om passievol vir Christus te bly en om standvastig te bly en die leer suiwer oor te dra (2 Tim 1:1-2; 13-14). Paulus herinner Timoteus om sondige gelowe en praktyke te vermy en te vlug van enige goddeloosheid (2 Tim 2:14-26).

Gedurende die eindtye sal daar groot vervolging en afvalligheid van die Christelike geloof wees (2 Tim 3:1-17). Paulus sluit af met 'n ernstige pleitrede vir die gelowiges om vas te staan in die geloof en om die wedloop kragtig te voltooi (2 Tim 4:1-8).

Skakelpunte: Paulus was so besorg om Timoteus te waarsku en ook diegene wat hy onderrig het teen die valse leraars, dat hy hom beroep het op die storie van die Egiptiese towenaars wat Moses geopponeer het (Eks 7:11, 22; 8:7, 18, 19; 9:11). Alhoewel hul name nie in die Ou Testament genoem word nie, het hierdie mense volgens oorlewering die bou van die goue kalf aangehits en is saam met die res van die afgodsdienaars doodgemaak (Eks 32). Paulus voorspel dieselfde lot vir diegene wat die waarheid van Christus teenstaan en hul dwaasheid word vir almal duidelik gemaak (2 Tim 3:9).

Praktiese Toepassing: Dit is maklik om in die Christelike lewe op 'n dwaalspoor te kom. Ons moet ons oë op die beloning hou – wat in die hemel deur Jesus Christus toegeken sal word (2 Tim 4:8). Ons moet strewe om beide valse lering en goddelose praktyke te vermy. Dit kan slegs behaal word deur gegrond te wees op ons kennis van God se Woord en vas te staan in ons weiering om enigiets onbybels te aanvaar.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Boek 2 Timoteus
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries