settings icon
share icon

Boek 2 Petrus

Skrywer: 2 Petrus 1:1 stel dit baie spesifiek dat die apostel Petrus die skrywer van 2 Petrus is. Petrus se outeurskap van hierdie boek was meer uitdagend as enige ander boek in die Nuwe Testament. Tog kon die vroeë kerkvaders geen goeie rede vind om dit te verwerp nie. Ons vind geen rede om Petrus se outeurskap te verwerp nie.

Datum van Skrywe: 2 Petrus is teen die einde van Petrus se lewe geskryf. Sedert Petrus se marteling in Rome gedurende die bewind van Nero, moes sy dood voor 68 n C plaasgevind het. Hy het baie waarskynlik 2 Petrus tussen 65 en 68 n C geskryf.

Doel van Skrywe: Petrus is ingelig dat valse leraars begin het om die kerke te infiltreer. Hy het op Christene beroep gedoen om te groei en sterk te staan in hul geloof, sodat hulle die verspreiding van die afvalligheid kon beveg en teenstaan. Hy het ten sterkste die betroubaarheid van die Woord van God beklemtoon en die sekerheid van die Here Jesus se wederkoms.

Sleutelverse: 2 Pet 1:3-4, "Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur Sy heerlikheid en mag. Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is en deel kry aan die Goddelike natuur."

2 Pet 3:9, "Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer."

2 Pet 3:18, "Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en tot in ewigheid! Amen."

Die sleutelwoord is kennis; tesame met die woorde wat daarmee verband hou, kom dit ten minste 13 keer in die boek 2 Petrus voor.

Kort Samevatting: Wetende dat sy tyd kort was (2 Pet 1:13-15) en dat hierdie kerke in groot gevaar was (2 Pet 2:1-3), het Petrus 'n oproep tot die lesers gemaak om hul gedagtes te verfris (2 Pet 1:13) en hul denke te stimuleer (2 Pet 3:1-2), sodat hulle sy lering sou onthou (2 Pet 1:15). Hy het die gelowiges uitgedaag om meer volwasse in hul geloof te raak deur spesifieke Christelike deugde by te voeg en sodoende meer effektief en produktief in hul kennis van Jesus Christus te word (2 Pet 1:5-9). Die Ou en Nuwe Testamentiese skrywers moes gebruik word as voortsetting vir outoriteit in hul geloof (2 Pet 1:12-21; 3:2; 3:15-16). Petrus het begeer dat hulle geloof versterk word om die valse leraars teen te staan, wat in die kerke ingesluip het en dit negatief beïnvloed het. In sy aanklag daarvan, het hy hul gedrag, hul veroordeling en hul karaktereienskappe beskryf (2 Pet hoofstuk 2), en ook dat hulle die Here se Wederkoms bespot het (2 Pet 3:3-7). Petrus het die Christene geleer dat die Wederkoms die dryfveer vir 'n heilige lewe is (2 Pet 3:14). Na 'n finale waarskuwing, het Petrus hulle weer gewaarsku om in die genade en kennis van hul Heer en Verlosser Jesus Christus te groei. Hy het afgesluit met 'n lofprysing tot sy Heer en Verlosser (2 Pet 3:18).

Skakelings: In sy aanklag teen valse profete, herhaal Petrus 'n heersende Oud Testamentiese tema, wat baie bekend is aan sy lesers. Baie van die vroeë Christene was bekeerde Jode, wat goed opgelei was in die wet en die profete. Wanneer Petrus na die "boodskap van die profete" van die Ou Testament in 2 Pet 1:19-21 verwys, vaar hy uit teen die vals profete en bevestig dat ware profete deur die Heilige Gees, wat deur hulle praat, gelei word (2 Sam 23:2). Jeremia was op dieselfde wyse sterk in sy kritiek oor valse profete, deur te vra, "Hoe lank sal die profete wat sonder opdrag optree, die profete wat leuens uitdink om te verkondig nog aanhou hiermee?" (Jer 23:26). Dis duidelik dat dieselfde bedrieglike valse leraars wat God se volk in beide die Ou en Nuwe Testamente gepla het, steeds nog met ons is en dit maak Petrus se tweede sendbrief vandag nog net so relevant as 2000 jaar gelede.

Praktiese Toepassing: As Christene in die 21 ste eeu, is ons nader aan die Here se Wederkoms as die Christene van die eerste eeu, aan wie hierdie sendbrief geskryf is. Deur middel van televisie en baie ander kommunikasiemiddels, is baie volgroeide Christene daarvan bewus dat baie kwaksalwers hulself as ware Christenleiers voordoen en dat jong Christene ingetrek is by hul kwaksalwery en valse interpretasie van die Skrif. Dit is tot voordeel van alle wedergebore Christene om so vas in die Woord gegrondves te wees, dat ons bevoeg sal wees om te onderskei tussen waarheid en foutiewe leringe.

Dieselfde voorskrif wat Petrus gegee het vir geloofsgroei (2 Pet 1:5-11), sal ons verseker van 'n ryke beloning "tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus" (2 Pet 1:10-11), indien ons dit in ons lewens toepas. Die fondasie van ons geloof is en sal altyd dieselfde Woord van God wees, wat Petrus gepredik het.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Boek 2 Petrus
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries