Boek 2 Korintiërs


Skrywer: 2 Kor 1:1 identifiseer die skrywer van 2 Korintiërs as die apostel Paulus, moontlik saam met Timoteus.

Datum van Skrywe: 2 Korintiërs is hoogs waarskynlik ongeveer 55-57 n C geskryf.

Doel van Skrywe: Die kerk in Korinte het in 52 n C begin, toe Paulus daar gekuier het op sy tweede sendingreis. Dit was toe hy een en 'n halwe jaar daar gebly het, toe hy die eerste keer toegelaat was om op een plek solank as hy wou te kon bly. 'n Skrywe aangaande hierdie besoek en die totstandkoming van die kerk kry ons in Handelinge 18:1-18.

In sy tweede brief aan die Korintiërs, spreek Paulus sy verligting en vreugde uit dat die Korintiërs sy "kwaai" brief (nou verlore) op 'n positiewe wyse ontvang het. Daardie brief het sake aangespreek wat die kerk geskeur het, hoofsaaklik die aankoms van valse apostels (2 Kor 11:13), wat Paulus se karakter aangeval het, onmin tussen die gelowiges gesaai het en valse lering verkondig het. Dit het voorgekom of hulle sy geloofwaardigheid bevraagteken het (2 Kor 1:15-17), sy gawe om te praat (2 Kor 10:10; 11:6) en sy onwilligheid om onderhoud van die kerk in Korinte te aanvaar (2 Kor 11:7-9; 12:13). Daar was ook sommige mense wat nie berou getoon het oor hul bandelose gedrag nie (2 Kor 12:20-21).

Paulus was oorstelp van vreugde toe hy by Titus verneem dat die meerderheid Korintiërs afgesien het van hul rebelsheid teenoor Paulus (2 Kor 2:12-13; 7:5-9). Die apostel bemoedig hulle vir hierdie stap as 'n erkenning van sy opregte liefde (2 Kor 7:3-16). Paulus het ook probeer om sy dissipelskap te verdedig, aangesien die kerk sy outoriteit bevraagteken het (2 Kor 13:3).

Die positiewe kant is dat Paulus gevind het dat die Korintiërs sy "kwaai" brief goed ontvang het. Die apostel het hulle daaroor bemoedig, deur erkenning van Paulus se opregte liefde (2 Kor 7:3-16). Paulus het ook probeer om sy dissipelskap te verdedig, aangesien sommige in die kerk sy outoriteit betwyfel het (2 Kor 13:3).

Sleutelverse: 2 Kor 3:5, "Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God."

2 Kor 3:18, "Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is."

2 Kor 5:17, "Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom."

2 Kor 5:21, "Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees."

2 Kor 10:4-5, "Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak."

2 Kor 13:4, "want al is Hy gekruisig in die swakheid van 'n mens, Hy leef uit die krag van God. En in Hom is ons ook swak, maar saam met Hom sal ons uit die krag van God lewe. Dit sal julle sien."

Kort Samevatting: Nadat Paulus die gelowiges in die kerk van Korinte gegroet en verduidelik het waarom hy hulle nie besoek het, soos aanvanklik beplan was nie (vgl 1:3-2;2), verduidelik hy die aard van sy bediening. Oorwinning deur Christus en opregtheid in die oë van God, was die waarmerke van sy bediening aan die kerke (2:14-17). Hy vergelyk die glorieryke bediening van die vryspraak van Christus met die "bediening waardeur die mense veroordeel word", wat die Wet is (vgl 3:9) en verklaar sy geloof in die geloofwaardigheid van sy bediening ten spyte van intense vervolging (4:8-18). Hoofstuk 5 gee die grondslag van die Christelike geloof – die nuwe natuur (v 17) en die omruiling van ons sonde vir die vryspraak deur Christus (v 21).

Hoofstukke 6 en 7 verdedig Paulus homself en sy bediening en verseker opnuut die Korintiërs van sy ware liefde vir hulle en maan hulle om berou te toon en heilig te lewe. In hoofstukke 8 en 9, vermaan Paulus die gelowiges in Korinte om die broers in Masedonië se voorbeelde te volg en gasvryheid teenoor die heiliges wat behoeftig is, uit te straal. Hy leer hulle die beginsels en belonings van 'n vrygewige leefstyl.

Paulus eindig sy brief deur sy outoriteit onder hulle te herhaal (hoofstuk 10) en sy besorgdheid oor hul getrouheid teenoor hom in die aangesig van die vurige teenstand van die valse apostels. Hy noem homself 'n dwaas omdat hy teësinnig trots moet wees op sy kwalifikasies en sy lyding vir Christus (hoofstuk 11). Hy eindig sy sendingbrief met die beskrywing van sy hemelse visioen wat hy kon beleef en die "doring in die vlees" wat hy van God ontvang het, om te verseker dat hy nederig bly (hoofstuk 12). Die laaste hoofstuk bevat sy vermaning aan die Korintiërs om hulself te ondersoek en seker te maak dat dit wat hulle bely werklikheid is en eindig met 'n seënbede van liefde en vrede.

Skakelpunte: Regdeur sy sendbriewe, verwys Paulus na die Mosaïse wet, deur dit te vergelyk met die allesoortreffende grootheid van die Evangelie van Jesus Christus en verlossing deur genade. In 2 Kor 3:4-11 stel Paulus die Oud Testamentiese wet teenoor die nuwe Genadeverbond, met verwysing na die wet wat "doodmaak", terwyl die Gees lewend maak. Die wet is die "bediening wat tot die dood lei, wat in letters op klip gegraveer is" (vgl vers7; Eks 24:12), omdat dit net kennis van sonde en veroordeling daarvan oordra. Die heerlikheid van die wet is dat dit die heerlikheid van God reflekteer, maar die bediening van die Gees oortref dit by verre, omdat dit Sy genade, barmhartigheid en liefde reflekteer, deur Christus te voorsien as die vervulling van die wet.

Praktiese Toepassing: Hierdie brief is die mees biografiese en minste dogmatiese van Paulus se sendbriewe. Dit vertel ons meer van Paulus as persoon en as bedienaar as enige van die ander. Daar is ook 'n paar dinge wat ons uit hierdie brief kan neem en op ons eie lewens van toepassing maak vandag nog. Die eerste ding is rentmeesterskap, nie net van geld nie, maar ook van tyd. Die Masedoniërs het nie net ruim bygedra nie, maar "eers het hulle hulleself aan die Here gegee en toe aan ons. Dit is soos God dit wil" (2 Kor 8:5). Op dieselfde wyse moet ons nie net alles wat ons het, aan die Here wy nie, maar alles wat ons is. Hy het regtig nie ons geld nodig nie. Hy is Almagtig! Hy wil die hart hê, iemand wat begeer om te dien, behaag en liefhet. Rentmeesterskap en om aan God te gee, is meer as net geld. Ja, God vra van ons om 'n deel van ons inkomste as tiende af te staan en Hy seën ons as ons aan Hom gee. Daar is egter meer. God wil 100% hê. Hy wil dat ons ons alles vir Hom gee. Alles wat ons is. Ons moet ons lewens leef om ons Vader te dien. Ons moet nie net vir God 'n deel van ons salaris gee nie, maar ons werklike lewens behoort 'n spieëlbeeld van Hom te wees. Ons moet eerstens onsself vir die Here gee, dan aan die kerk en aan die bedieningswerk van Jesus Christus.

English

Nuwe Testament Samevatting

Boek 2 Korintiërs