Die boek 2 Samuel



Skrywer: 2 Samuel identifiseer geen skrywer nie. Dit kon nie die profeet Samuel gewees het nie, want hy is reeds in 1 Samuel oorlede. Moontlike skrywers is Natan en Gad (1 Kron 29:29).

Datum van Skrywe: Samuel 1 en 2 was oorspronklik een boek. Die vertalers van die Septuagint het dit verdeel en ons het dit sedertdien so behou. Die gebeure in 1 Sam verloop oor ongeveer 100 jaar, van 1100 v C tot 1000 v C. Die gebeure van 2 Sam dek nog 40 jare daarby. Die skryfdatum is dus iewers na 960 v C.

Doel van Skrywe: 2 Samuel is die weergawe van koning Dawid se bewind. Hierdie boek plaas Dawid se Verbond in sy geskiedkundige konteks.

Sleutelverse: “Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan” (2 Sam 7:16).

“Die koning het sy gesig toegehou en hardop uitgeroep: ‘My seun Absalom; Absalom, my seun, my seun!’” (2 Sam 19:4).

“Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting, my toevlug en bevryder. Van geweld het U my verlos. Onder bespotting roep ek na die Here, dan word ek van my vyande gered” (2 Sam 22:2-4).

Kort Samevatting:
2 Samuel kan in twee hoofgedeeltes verdeel word – Dawid se oorwinnings (hoofstukke 1-10) en Dawid se probleme (hoofstukke 11-20). Die laaste gedeelte (hoofstukke 21-24) is ‘n nie-kronologiese byvoegsel, wat verdere besonderhede van Dawid se regeringstyd bevat.

Die boek begin met Dawid, waar hy die nuus van Saul en sy seuns se dood ontvang. Hy kondig ‘n routydperk aan. Kort daarna is Dawid as koning oor Juda gekroon, terwyl Is-Boset, een van Saul se oorlewende seuns, as koning oor Israel gekroon is (hoofstuk 2). ‘n Burgeroorlog volg, maar Is-Boset is vermoor en die Israeliete vra Dawid om oor hulle ook te regeer (hoofstukke 4-5).

Dawid skuif die hoofstad van Hebron na Jerusalem en later skuif hy ook die Verbondsark (hoofstukke 5-6). Dawid se plan om ‘n tempel in Jerusalem te bou, is afgekeur deur God, wat toe vir Dawid die volgende dinge beloof het: 1) Dawid sou ‘n seun hê om ná hom te regeer; 2) Dawid se seun sou die tempel bou; 3) die troon wat deur Dawid se nageslag beset sou bly, sou vir ewig bestaan; en 4) God sal nooit Sy genade van Dawid se huis verwyder nie (2 Sam 7:4-16)

Dawid het die Israeliete oor baie van die vyandige volke wat hulle omring het, tot oorwinning gelei. Hy het ook goedheid aan Jonatan se familie bewys, deur Mefiboset , Jonatan se kruppel seun, onder sy sorg te neem (hoofstukke 8-10).

Dan kom Dawid tot ‘n val. Hy hunker na ‘n pragtige vrou, Batseba, pleeg egbreuk met haar en laat dan haar man vermoor (hoofstuk 11). Toe Natan, die profeet, Dawid oor sy sonde konfronteer, bely Dawid dit en God vergeef hom uit Sy groot genade. Tog sê die Here aan Dawid dat daar probleme in sy eie huishouding sal ontstaan.

Moeilikheid kom, toe Dawid se eersgebore seun, Amnon, sy halfsuster, Tamar, verkrag. Uit weerwraak vermoor Tamar se broer, Absalom, vir Amnon. Absalom vlug na Jerusalem toe, van sy pa se woede af weg. Later lei Absalom ‘n opstand teen Dawid en sommige van Dawid se voormalige bondgenote sluit aan by die rebellie (hoofstukke 15-16). Dawid word uit Jerusalem gedryf en Absalom stel homself as koning aan vir ‘n kort tydjie. Die troonrower is onttroon, en is doodgemaak, alhoewel dit nie Dawid se wens was nie. Dawid treur oor sy seun se dood.

‘n Algemene onrustigheid het die oorblywende deel van Dawid se bewind gekenmerk. Die manne van Israel het gedreig om van Juda te skei en Dawid moet ‘n ander opstand onderdruk (hoofstuk 20).

Die byvoegsel tot die boek sluit inligting in van ‘n droogte van drie jaar in die land (hoofstuk 21), ‘n lied van Dawid (hoofstuk 22), ‘n verslag van Dawid se dapperste vegsmanne (hoofstuk 23) en Dawid se sondige volkstelling en die gevolglike plaag daarna (hoofstuk 24).

Voorspellings: Die Here Jesus Christus word hoofsaaklik in twee dele van 2 Samuel opgemerk. Eerstens, die Verbond met Dawid, soos uitgespel in 2 Sam 7:16: “Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vasstaan; jou troon sal altyd voortbestaan” en die herhaling in Luk 1:32-33 in die woorde van die engel, wat aan Maria Jesus se geboorte aangekondig het: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan Sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

Tweedens is Jesus gemeld in Dawid se lied aan die einde van sy lewe (2 Sam 22:2-51). Hy sing van sy rots, skuilplek en toevlug, sy veilige vesting en sterk verlosser. Jesus is ons Rots (1 Kor 10:4; 1 Pet 2:7-9), die Redder van Israel (Rom 11:25-27), die toevlug “vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ‘n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is” (Heb 6:18) en ons enigste Verlosser (Luk 2:11; 2 Tim 1:10).

Praktiese Toepassing: Enigiemand kan val. Selfs ‘n man soos Dawid, wat waarlik begeer het om vir God na te volg en wat ryklik deur God geseën was, was aan verleiding onderwerp. Dawid se sonde met Batseba moet vir ons as waarskuwing dien, om ons hart, oë en gedagtes te bewaak. Trotsheid oor ons geestelike volwassenheid en ons vermoë om verleiding te kan weerstaan in ons eie krag, is die eerste tree na ondergang (1 Kor 10:12).

God is genadig om selfs die afstootlikste sondes te vergewe, as ons waarlik berou toon. Tog word die litteken wat deur die wond, veroorsaak deur sonde, gelaat is, nie altyd verwyder nie. Sonde het natuurlike gevolge en selfs ná vergiffenis het Dawid gemaai wat hy gesaai het. Sy seun, verwek by ‘n ander man se vrou, is van hom weggeneem (2 Sam 12:14-24) en Dawid het die ellende van ‘n breuk in sy liefdevolle verhouding met sy hemelse Vader, beleef (Ps 32 en 51). Hoeveel beter is dit nie om sonde in die eerste plek te vermy nie, eerder as om later berou en vergifnis te soek nie!


Ou Testament Samevatting

Die boek 2 Samuel