settings icon
share icon

Die boek 2 Kronieke

Skrywer: 2 Kronieke praat nie van ‘n spesifieke skrywer nie. By oorlewering is 1 en 2 Kronieke deur Esra geskrywe.

Datum van Skrywe: Dit is blykbaar tussen 450 en 425 v C geskryf.

Doel van Skrywe: 1 en 2 Kronieke dek meestal dieselfde inligting as 1 en 2 Samuel en 1 en 2 Konings. 1 en 2 Kronieke konsentreer meer op die priesterlike aspek van die tydsperiode. 2 Kronieke is hoofsaaklik ‘n evaulering van die godsdienstige geskiedenis van die volk.

Sleutelverse:
2 Kron 2:1, “Salomo was van voorneme om ‘n tempel vir die Naam van die Here te bou en ‘n paleis vir homself.”

2 Kron 29:1-3, “Hiskia het koning geword toe hy vyf en twintig was en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Abi, ‘n dogter van Sagaria. Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg. Hy het in die eerste jaar van sy regering, in die eerste maand, die deure van die huis van die Here oopgemaak en hulle herstel.”

2 Kron 36:14, “Al die leiers van die priesters en die volk het ook weer in groot troueloosheid verval na die voorbeeld van die afskuwelike optrede van die heidennasies en hulle het die huis van die Here wat Hy in Jerusalem geheilig het, ontwy.”

2 Kron 36:23, “Koning Kores van Persië maak bekend: ‘Die Here, die God van die hemel, het al die koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir Hom ‘n tempel in Jerusalem in Juda te bou. Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort, kan teruggaan en mag die Here sy God by hom wees.’”

Kort Samevatting: Die boek 2 Kronieke bevat die geskiedenis van die Suidelike Koninkryk van Juda, van die bewind van Salomo tot die beëindiging van die Babiloniese ontvoering. Die verval van Juda is teleurstellend, maar klem word gelê op die geestelike hervormers wat hartstogtelik soek om die mense na God toe terug te draai. Min word oor die slegte konings of oor die mislukkings van die goeie konings gemeld; net goedheid word beklemtoon. Aangesien 2 Kronieke ‘n geestelike perspektief aanneem, is die Noordelike Koninkryk van Israel kwalik genoem, as gevolg van die valse aanbidding en weiering om die Tempel in Jerusalem te erken. 2 Kronieke sluit af met die finale verwoesting van Jerusalem en die Tempel.

Voorspellings: Soos met alle verwysings na konings en tempels in die Ou Testament, sien ons in hulle ‘n spieëlbeeld van die ware Koning van Konings – Jesus Christus – en van die tempel van die Heilige Gees – Sy mense. Selfs die beste van Israel se konings het die foute van alle sondige mense gehad en hul mense onvolmaak gelei. Wanneer die Koning van die Konings egter kom om op die aarde te woon en te regeer in die duisendjarige ryk, sal Hy Homself as die regmatige erfgenaam van Dawid op die troon van die hele aarde vestig. Eers dan sal ons ‘n volmaakte Koning hê, wat in regverdigheid en heiligheid sal regeer, iets waaroor die beste konings van Israel maar net kon droom.

Die groot tempel wat Salomo gebou het, was ook nie ontwerp om vir ewig te hou nie. Slegs 150 jaar later was herstelwerk nodig as gevolg van skending deur latere generasies wat weer afgode begin aanbid het (2 Kon 12). Die tempel van die Heilige Gees – hulle wat aan Christus behoort – sal vir ewig lewe. Ons wat aan Jesus behoort, is daardie tempel, nie deur hande gemaak nie, maar deur die wil van God (Joh 1:12-13). Die Gees wat in ons woon, sal ons nooit verlaat nie en sal ons veilig eendag in God se hande oorgee (Ef 1:13; 4:30). Geen aardse tempel bevat daardie belofte nie.

Praktiese Toepassing: Die leser van Kronieke is genooi om elke generasie van die verlede te beoordeel en te onderskei waarom elkeen vir sy gehoorsaamheid geseën was of vir hul goddeloosheid gestraf was. Ons moet ook die verbintenis van hierdie generasies met ons eie vergelyk, beide gesamentlik en individueel. Indien ons of ons volk of ons kerk moeilike tye beleef, is dit tot ons voordeel om ons gelowe te vergelyk en hoe ons optree teenoor daardie gelowe, met die belewenisse van die Israeliete onder die verskeie konings. God haat sonde en verdra dit nie, maar as Kronieke ons enigiets leer, is dit dat God die begeerte het om te vergewe en diegene wil genees, wat nederig in gebed gaan en berou toon (1 Joh 1:9).

As daar enigiets is wat jy van God begeer, wat sal jy vra? Groot rykdom? Volkome gesondheid vir jou en jou geliefdes? Die mag oor lewe en dood? Wonderlik om daaraan te dink, nie waar nie? Nog wonderliker is dat God so ‘n aanbod aan Salomo gemaak het en dat hy nie een daarvan gekies het nie. Wat hy gevra het, was wysheid en kennis om die taak wat God aan hom opgedra het, te voltooi en dit goed te doen. Die les vir ons daaruit is dat God aan elkeen van ons ‘n opdrag gegee het om te vervul en die grootste seën wat ons van God kan vra, is om die vermoë te ontvang om Sy wil vir ons lewens uit te voer. Daarvoor benodig ons “die wysheid wat van Bo kom” (Jak 3:17), om Sy wil te onderskei, sowel as die begrip en intieme kennis van Hom, om ons te motiveer om soos Christus te wees, beide in dade en gedrag (Jak 3:13).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Die boek 2 Kronieke
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries