settings icon
share icon

Die boek 1 Kronieke

Skrywer: Die boek 1 Kronieke praat nie van ‘n spesifieke skrywer nie. By oorlewering is 1 en 2 Kronieke deur Esra geskryf.

Skryfdatum: 1 Kronieke is waarskynlik tussen 450 en 425 v C geskryf.

Doel van Skrywe: 1 en 2 Kronieke dek meestal dieselfde inligting as 1 en 2 Samuel en 1 en 2 Konings. 1 en 2 Kronieke fokus meer op die priesterlike aspek van daardie tyd. 1 Kronieke is geskrywe ná die uittog, om diegene wat na Israel teruggekeer het, te help verstaan hoe om God te aanbid. Die geskiedenis fokus op die suidelike koninkryk, die stamme van Juda, Benjamin en Levi. Hierdie stamme het geneig om meer getrou aan God te wees.

Sleutelverse:
1 Kronieke 11:1-2, “Die hele Israel het gesamentlik na Dawid toe gekom in Hebron en gesê: ‘Ons is tog almal u eie mense! Selfs in die tyd toe Saul koning was, was u tog maar die een wat vir Israel in die oorlog aangevoer het. Die Here u God het vir u gesê: Jy moet vir my volk Israel ‘n herder wees, ja jy moet heerser oor my volk Israel wees.’”

1 Kronieke 21:13, “Dawid het vir Gad geantwoord: ‘Ek is in ‘n hoek gedryf. Laat my liewer in die hand van die Here val, want Sy genade is baie groot. Ek wil nie in die hand van ‘n mens val nie.’”

1 Kronieke 29:11, “Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe.”

Kort Samevatting: Die eerste 9 hoofstukke van 1 Kronieke word gewy aan lyste en geslagslyste. Verdere lyste en stambome is regdeur die res van 1 Kronieke versprei. Tussendeur berig 1 Kronieke oor Dawid se troonsbestyging en sy handelinge daarna. Die boek sluit af met Dawid se seun Salomo, wat koning van Israel geword het. Kortliks kan 1 Kronieke as volg uitgelê word: Hoofstukke 1:1-9:23 – Selektiewe stambome; Hoofstukke 9:24-12:40 – Dawid se troonsbestyging; Hoofstukke 13:1-20:30 – Dawid se regering.

Voorspellings: In Dawid se dankseggingslied aan God in 1 Kronieke 16:33, verwys hy na die tyd van God se koms om die aarde te oordeel. Dit voorspel Matteus 25, waar Jesus die tyd beskryf wanneer Hy sal kom om die aarde te oordeel. Hy gebruik die gelykenisse van die tien maagde en die talente om dit uit te spel. Hy waarsku dat diegene wat sonder Jesus se bloed is om hul sondes weg te was, sal in die “diepste duisternis daarbuite “gegooi word. Hy bemoedig Sy mense om gereed te wees vir Sy koms, want dan sal Hy die skape van die bokke skei op die oordeelsdag.

‘n Gedeelte van die Dawidsverbond wat God in hoofstuk 17 instel, verwys na die toekomstige Messias, wat ‘n afstammeling van Dawid sou wees. Verse 13-14 beskryf die Seun wat in God se huis opgerig sal word en wie se troon vir ewig sal bly. Dit kan slegs na Jesus Christus verwys.

Praktiese Toepassing: Geslagslyne soos in 1 Kronieke mag vir ons vervelig wees, maar hulle herinner ons dat God elke kind van Hom persoonlik ken, selfs tot die hare op ons koppe (Matt 10:30). Ons kan troos daarin vind dat wie ons is en wat ons doen, vir ewig in God se verstand opgeskryf is. Indien ons aan God behoort, is ons name vir die ewige Lewe in die Boek van die Lam opgeskryf (Openbaring 13:8).

God is getrou aan Sy mense en hou Sy beloftes. In 1 Kronieke sien ons die vervulling van God se belofte aan Dawid toe hy koning oor die hele Israel gemaak is (1 Kronieke 11:1-3). Ons kan seker wees dat Sy beloftes aan ons ook vervul sal word. Hy het seëninge belowe aan hulle wat Hom volg, wat in berou na Christus gekom het en Sy Woord gehoorsaam. Gehoorsaamheid bring seën; ongehoorsaamheid bring straf. Die boek 1 Kronieke, sowel as 1 en 2 Samuel en 1 en 2 Konings is ‘n boekstawing van die patroon van sonde, berou, vergifnis en herstel van die volk Israel. Op dieselfde wyse is God geduldig met ons en vergewe ons sonde wanneer ons met ware berou na Hom toe kom (1 Joh 1:9). Ons kan troos vind in die feit dat Hy ons gebed van berou hoor, ons sonde vergewe, ons verhouding met Hom herstel en ons op die pad van vreugde plaas.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Die boek 1 Kronieke
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries