settings icon
share icon
Vraag

Wat is die betekenis van die bloed van Christus?

Antwoord


Die frase "bloed van Christus" word verskeie kere in die Nuwe Testament gebruik en is die uitdrukking van die offerdood en volkome versoeningswerk van Jesus in ons plek. Verwysings na die bloed van die Verlosser sluit die realiteit in dat Hy letterlik aan die kruis gebloei het, maar nog belangriker is dat Hy gebloei het en vir sondaars gesterf het. Die bloed van Christus het die krag van versoening vir 'n oneindige getal sondes wat deur 'n oneindige getal mense dwarsdeur die eeue gepleeg is en almal wie se geloof op daardie bloed berus, sal gered word.

Die realiteit van die bloed van Christus, in die betekenis van versoening vir sonde, het sy oorsprong in die Mosaïese Wet. Eenkeer per jaar moes die priester die bloed van diere op die altaar van die tempel offer as versoening vir die mense se sonde. "Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie" (Heb 9:22). Dit was egter 'n bloedoffer wat beperk was tot sy effektiwiteit en dit is die rede waarom dit oor en oor geoffer moes word. Dit was 'n vooraf-uitbeelding van die "eens en vir altyd" offerande van Jesus aan die kruis (Heb 7:27). Eenmaal toe daardie offer gemaak is, was daar geen nodigheid meer vir die bloed van bulle en bokke nie.

Die bloed van Christus is die grondslag van die Nuwe Verbond. Gedurende die nag voor Sy kruisiging het Jesus die beker met wyn aan Sy dissipels gegee en gesê, "Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur My bloed, wat vir julle vergiet word" (Luk 22:20). Die skink van die wyn in die beker simboliseer die bloed van Christus wat gegiet sou word vir almal wat ooit in Hom sou glo. Toe Hy Sy bloed aan die kruis gestort het, het Jesus weggedoen met die Ou Testamentiese vereistes vir die aanhoudende diere-offerandes. Hul bloed was nie voldoende om die sondes van die mense te bedek nie, behalwe op 'n tydelike basis, aangesien sonde teen 'n heilige en ewige God 'n heilige en onverganklike offerande vereis. "Maar nou herinner die offers juis jaar na jaar aan die sondes, omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem" (Heb 10:3). Terwyl die bloed van bulle en bokke 'n herinnering aan sonde was, het "die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is" (1 Pet 1:19) volledig die sondeskuld betaal, wat ons aan God verskuldig is en ons benodig geen verdere offerande vir sonde nie. Jesus het gesê, "Dit is volbring" toe Hy gesterf het en dis presies wat Hy werklik bedoel het – die algehele verlossingswerk was vir ewig afgehandel, "'n ewige verlossing tot stand gebring" vir ons (Heb 9:12).

Die bloed van Christus verlos nie net gelowiges van sonde en ewige straf nie, maar "Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien" (Heb 9:14). Dit beteken dat ons nie nou alleenlik vry is van offerandes se bring, wat nodeloos is om redding te bring nie, maar ons is vry daarvan om staat te maak op waardelose en onproduktiewe vleeslike werke om God bly te maak. Aangesien die bloed van Christus ons vrygemaak het, is ons nou nuwe mense in Christus (2 Kor 5:17) en deur Sy bloed is ons vry van sondes, om sodoende die lewende God te dien, Hom te vereer en Hom vir ewig te geniet.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die betekenis van die bloed van Christus?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries