settings icon
share icon
Vraag

Hoe kan ek seker wees dat ek ooreenkomstig God se wil bid?

Antwoord


Die mens se hoogste doel moet wees om eer aan God te bring (1 Kor 10:31) en dit sluit in om volgens Sy wil te bid. Eerstens moet ons vir wysheid vra. Jak 1:5, “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt”. Deur te vra vir wysheid, moet ons ook glo dat God genadig is en bereid is om ons gebede te verhoor: “Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie” (Jak 1:6; sien ook Mark 11:24). Dus, om ooreenkomstig met God se wil te bid, sluit dan in om vir wysheid te vra (om God se wil te ken) en in geloof te vra (om God se wil te vertrou).

Hier volg 7 Bybelse opdragte wat aan die gelowige leiding gee om volgens God se wil te bid:

Bid vir die dinge waarvoor die Bybel opdrag gee. Daar word gesê dat ons vir ons vyande moet bid (Matt 5:44); dat God sendelinge moet stuur (Luk 10:2); dat ons nie in versoeking gelei moet word nie (Matt 26:41); vir predikers van die Woord (Kol 4:3; 2 Tess 3:1); vir die land se owerhede (regering) (1 Tim 2:1-3); vir verligting van swaarkry (Jak 5:13); en vir die genesing van mede-gelowiges (Jak 5:16). Waar God gebedsopdragte gee, kan ons met sekerheid weet dat ons volgens Sy wil bid.

Volg die voorbeeld van godvresende karakters in die Skrif. Paulus het vir die verlossing van Israel gebid (Rom 10:1). Dawid het vir genade en vergiffenis gebid, as hy gesondig het (Ps 51:1-2). Die vroeë kerk het vir dapperheid om te getuig, gebid (Hand 4:29). Hierdie gebede was volgens God se wil en soortgelyke gebede kan vandag gebid word. Soos Paulus en die vroeë kerk, moet ons ook altyd vir die redding van ander mense bid. Vir onsself moet ons soos Dawid bid, altyd bewus van ons sonde en dit dan voor God bring, voordat dit ons verhouding met Hom benadeel en ons gebede dwarsboom.

Bid met die regte motivering. Selfsugtige motiewe sal nie deur God geseën word nie. Jak 4:3, “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid; julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig”. Ons moet ook nie so bid dat ons deur ander geprys word vir ons mooi gebede nie en as “geestelike mense” beskou word nie, maar in privaatheid en in die geheim, sodat ons hemelse Vader ons private gebede hoor en ons in die openbaar gee wat ons vra (Matt 6:5-6).

Bid met ‘n gees van vergewensgesindheid teenoor ander mense (Mark 11:25). ‘n Gees vol bitterheid, woede, wraak en haat teenoor ander, sal voorkom dat ons in algehele onderdanigheid teenoor God bid. Netsoos daar vir ons gesê is om nie offerande aan God te bring, terwyl daar konflik tussen onsself en ‘n ander Christen bestaan nie (Matt 5:23-24), en op dieselfde wyse wil God nie ons gebede ontvang, solank ons nog nie met ons broers en susters in Christus vrede gemaak het nie.

Bid met danksegging (Kol 4:2; Fil 4:6-7). Ons kan altyd iets vind om voor dankbaar te wees, maak nie saak hoeveel behoeftes ons het nie. Die grootste slagoffer wat in hierdie wêreld van vrygekoopte liefde leef en wat die hemel as aanbod voor hom het, het rede om dankbaar te wees teenoor God.

Bid volhardend (luk 18:1; 1 Tess 5:17). Ons moet volhard in gebed en nie opgee of neerslagtig voel, as ons gebede nie dadelik beantwoord word nie. ‘n Deel daarvan om in God se wil te bid, is om te glo, ongeag of Sy antwoord “ja”, “nee” of “wag” is, Sy besluit te aanvaar, aan Sy wil te onderwerp en aan te hou bid.

Vertrou op die Gees van God in gebed. Hierdie is ‘n wonderlike waarheid: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges” (Rom 8:26-27). Ons het die hulp van die Gees wanneer ons bid. Ten tye van ons diepste depressie of hartseer, wanneer ons voel ons kan nie bid nie, het ons die wete dat die Heilige Gees vir ons bid! Wat ‘n ongelooflike God het ons nie!

Watter sekerheid het ons dan, as ons daarna soek om in die Gees te lewe en nie in die vlees nie! Dan kan ons met vertroue en sekerheid weet dat die Heilige Gees Sy werk sal doen, deur ons gebede voor die Vader te bring, volgens Sy volmaakte wil en op Sy tyd en ons kan rus in die wete dat Hy alles vir ons ten goede sal laat uitwerk (Rom 8:28). English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe kan ek seker wees dat ek ooreenkomstig God se wil bid?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries