settings icon
share icon
Vraag

Wat is bewysgebaseerde apologetiek?

Antwoord


Bewysgebaseerde-apologetiek is 'n metode van Christelike apologetiek, wat klem lê op positiewe bewyse ten gunste van die waarheid van die Christendom. Die kenmerkende eienskap van bewysgebaseerde-apologetiek is sy eenstap-benadering tot die vestiging van Christelike teïsme. Bewysgebaseerde-apologete sal bewyse en argumente uit verskeie velde gebruik, insluitend argeologie, vervulde messiaanse profesie en veral wonderwerke.

In teenstelling met klassieke apologetiek glo die bewys-apologeet dat die voorkoms van wonderwerke as bewys vir God se eie bestaan dien. Op hierdie wyse glo die bewys-apologeet nie dat die filosofiese en wetenskaplike argumente vir God se bestaan logies vooraf moet gaan, ten opsigte van argumente uit wonderwerke, om Bybelse Christendom te vestig nie. Die bewys-apologeet is egter nie gekant teen die gebruik van natuurlike teologie om God se bestaan te help bevestig nie. Hierdie argumente is 'n belangrike wapen in die arsenaal van die bewys-apologeet, aangesien hulle help om die saak vir die Christendom te ondersteun, deur verdere bevestiging te gee dat God bestaan en ons heelal geskep en ontwerp het. Evidensialiste glo eenvoudig nie dat sulke argumente aangebied moet word, voordat daar oorgeskakel word na bewyse uit wonderwerke nie. Op hierdie manier kan die evidensiële apologeet gelyktydig vir teïsme en Christelike teïsme argumenteer, sonder om eers God se bestaan te moet vestig. So 'n benadering kan voordelig wees in persoonlike evangelisasie waar tyd min is.

Bewysgebaseerde-apologete plaas kenmerkend 'n groot klem op bewyse uit wonderwerke, veral die liggaamlike opstanding van Jesus Christus. Bewysgebaseerde-aanhangers sal op talle bewyse staatmaak om die historiese aard van die na-doodse verskynings van die opgestane Jesus vas te stel, asook die ontdekking van Sy leë graf. Daar word dikwels ook klem gelê op die weerlegging van naturalistiese teorieë wat probeer om die bewyse vir die opstanding van Christus te verwerp. Sodra die opstanding vasgestel is, word Jesus se eie begrip van hierdie gebeurtenis (en Sy apostels s'n) die behoorlike interpretatiewe raamwerk, waardeur ons die betekenis daarvan verstaan. Voor sy kruisiging het Jesus gesê dat sy komende opstanding sy bewerings geldig sou bewys (Matteus 12:38-40, 16:1-4). Die apostel Paulus het verklaar dat die opstanding van Christus God se bevestiging van Christus se goddelikheid was (Romeine 1:3-4). In die boek Handelinge het die apostel Petrus verklaar dat die liggaamlike opstanding van Jesus, God se bevestiging van Jesus se openbare bediening was (Handelinge 2:23-32). Wanneer dit in hierdie konteks beskou word, word die liggaamlike opstanding die primêre bevestiging van Jesus se eie radikale bewerings oor Homself en die regverdiging van Jesus se boodskap van verlossing.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is bewysgebaseerde apologetiek?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries