Vraag
Wat is bevrydingsbediening en is dit bybels?
Antwoord
Die algemene ooreengekome definisie van “bevrydingsbediening” sal gewoonlik fokus op die uitdrywing van demone of geeste in ‘n poging om probleme op te los, wat verband hou met spesifieke demone. Byvoorbeeld, ‘n bevrydingsprediker kan iemand help om woede te oorkom, deur ‘n gees van woede uit te dryf. Bevrydingsbedienings fokus ook op die afbreek van geestelike bindinge in iemand se lewe, deur innerlike genesing te vind en die oorwinning in Christus oor alle vyande te behaal. Baie verwys na “soul ties” (sielsbande), vloeke en die “legal rights” van demone. Volgens die Bybel is demone of bose geeste bekend as gevalle engele wat in die hemel gerebelleer het saam met Satan (Openbaring 12:4, Jes 14:12-20; Eseg 28:1-19).
Daar is sekerlik heelwat in die Skrif oor Satan en sy magdom van demone. Daar word min gesê oor die vrymaking daarvan en niks word gesê oor bevryding as ‘n “bediening” nie. Die ampte van die kerk word in Ef 4:11 gevind. Eerstens was die apostels en profete, die fondasie van die kerk – met Jesus as die Hoof-hoeksteen (Ef 2:20). Volgende op die lys is evangeliste, dan pastore en leraars. Die vermoë om demone uit te dryf, word nie gelys as ‘n geestelike gawe of ‘n bedieningsplig nie.
Die Evangelies en Handelinge vertel ook dat Jesus en die dissipels demone uitgedryf het. Die dele van die Nuwe Testament wat lering gee (Romeine regdeur tot Judas), verwys na demoniese aktiwiteit, maar bespreek nie die metode om hulle uit te dryf nie, ook word gelowiges vermaan om dit te doen. Ons word aangemoedig om die volle wapenrusting van God op te neem om weerstand te bied teen geestelike aanvalle (Ef 6:10-18). Ons word aangesê om die duiwel teen te staan (Jak 4:7) en hom nie vatkans in ons lewens te gee nie (Ef 4:27). Daar word egter nie gesê hoe om hom of sy demone uit ander te verdryf nie, of dat ons selfs dit moet oorweeg nie.
Dit is interessant dat ons geen inskrywing het van Jesus se opdragte aan Sy dissipels oor hoe om demone uit te dryf nie, met die moontlike uitsonderings van Matteus 12:43-45 en 17:19-21, waar ‘n bietjie insig gegee word. Toe die dissipels ontdek het dat demone hulle aan die dissipels onderwerp in die Naam en outoriteit van Jesus, was hulle opgewonde (Luk 10:17; Hand 5:16; 8:7; 16:18; 19:12). Maar Jesus het aan die dissipels gesê, “En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is” (Luk 10:20).
Eerder as om ‘n spesifieke “bevrydingsbediening” te hê, het ons die outoriteit in die kragtige Naam van Jesus. Op ‘n dag het Johannes aan Jesus gesê, “Here, ons het iemand gesien wat in U Naam duiwels uitdrywe. Ons het hom probeer keer, omdat hy ons nie volg nie.” ‘Moet hom nie keer nie,’ sê Jesus, ‘want daar is niemand wat ‘n kragtige daad in my Naam sal doen en net daarna minagtend van My sal kan praat nie. Wie nie teen ons is nie, is vir ons’” (Mark 9:38-40). Outoriteit oor demone is duidelik die mag van die Here wat in werking is, óf die beoefenaar ‘n spesiale bediening van bevryding het óf nie.
Die klemplasing op geestelike oorlogvoering word sterk na vore gebring in 1 Joh 4:4, “Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêeld is.” Die oorwinning is ons s’n, omdat die Heilige Gees in ons woon. Gelowiges kan hul stryd van die verlede, gewoontes en verslawings oorwin, omdat “enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêeld oorwin” (1 Joh 5:4). Ons benodig gebed, goddelike berading en die ondersteuning van ‘n goeie kerk, maar nie noodwendig ‘n “bevrydingsprediker” nie.
Daar word aan ons gesê, “wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak” (1 Pet 5:8-10).
Die sleutel tot oorwinning in die Christelike lewe is om vervul te lewe (beheer en bekragtig) deur die Heilige Gees op ‘n oomblik-tot-oomblik basis (Ef 5:18). Die Vader weet wie Syne is: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God” (Rom 8:14). Die Heilige Gees sal nie woning maak in iemand wat nie wedergebore is nie (Joh 3:3-8; 2 Tim 2:19; Hand 1:8; 1 Kor 3:16), dus die eerste stap in geestelike oorwinning is om ons geloof in Jesus Christus te plaas. Dan, verheug jou dat Jesus in jou woon en dat jy Sy krag en Sy oorwinning in jou het.
English
Wat is bevrydingsbediening en is dit bybels?