Vraag
Bestaan Satan?
Antwoord
Die Bybel lig ons eksplisiet in oor die bestaan van Satan. Hy word beskryf as die vyand van die mens (Gen 3:15), die vader van die leuens (Joh 8:44b) en die aanklaer (Openbaring 12:10), saam met ander dinge. Die eintlike betekenis van “Satan” is “teenstander.” Jes 14:12-17 verduidelik dat Satan oorspronklik ‘n engelagtige wese was, maar hy het besluit dat hy die eer en aanbidding wat slegs aan God toekom, wou hê en word toe uit die hemel uitgewerp (sien ook Eseg 28:11-17).
Vandat hy uit die hemel uitgewerp was (saam met die engele wat gekies het om saam met hom te rebelleer), het Satan dit sy doelstelling gemaak om God teen te staan en hy het die mense op aarde ook in rebellie gelei. Satan het ‘n sekere outoriteit in hierdie wêreld; hy word genoem “die god van hierdie wêreld” (2 Kor 4:4) en “die vors van die onsigbare bose magte” Ef 2:2). Dit is waarom ons nugter en wakker moet wees: “Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (1 Pet 5:8).
Een van die bekendste maniere wat Satan gebruik om chaos in ons lewens te bring, is deur misleiding. As Satan ons bedrieg oor wie God is, wie God sê wie ons is en wie hy is, verkry hy mag en outoriteit in ons lewens. “Satan bestaan nie” is een van die kragtigste leuens wat Satan vertel.
Met die skepping het God aan die mensdom outoriteit oor die aarde gegee (Gen 1:28). Toe Adam en Eva gewilliglik God ongehoorsaam was, het hulle van hul outoriteit opgegee; deur na Satan te luister, het hulle hulself aan die duiwel onderwerp. Tog, aan die kruis het Jesus Satan onthef van sy outoriteit: “Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld, die Satan, nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe” (Joh 12:31). “En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak” (1 Joh 3:8). Satan het nie meer outoriteit oor hulle wat in Christus is nie, behalwe as hulle dit aan hom gee deur in sy leuens te glo. Baie verkeerde inligting oor Satan kom vanaf Hollywood en ander gebroke bronne. Dit is noodsaaklik dat ons na die Bybel gaan om te soek vir die waarheid oor hierdie en ander kwessies. Die Bybel vertel ons eenvoudig dat Satan wel bestaan en dit lig ons in hoe hy te werk gaan. Ons het geen rede om deur Satan geïntimideer te word nie, aangesien sy mag oneindiglik ondergeskik is aan God, maar die Bybel leer ons om nie naïef te wees in ons geestelike stryd nie (Ef 6:10-18). Die sleutel is om ons aan God te onderwerp en die duiwel teen te staan (Jak 4:7), wetende dat Christus hom vir goed oorwin het aan die kruis en Satan se einde – ewige straf – is verseker (Openbaring 19:20).
English
Bestaan Satan?