settings icon
share icon
Vraag

Wat is anti-nomianisme?

Antwoord


Die woord "anti-nomianisme" kom vanaf die Griekse woorde, "anti" en beteken "teen" en "nomos" beteken "wet." Anti-nomianisme beteken "teen die wet." Volgens die teologie is dit die oortuiging dat daar geen morele wette is wat God van Christene verwag om te gehoorsaam nie. Anti-nomianisme neem 'n bybelse lering na 'n onbybelse gevolgtrekking. Die bybelse lering is dat daar nie van Christene verwag word om die Ou Testamentiese Wet te sien as 'n manier om verlos te word nie. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy die Ou Testamentiese Wet vervul (Rom 10:4; Gal 3:23-25; Ef 2:15). Die onbybelse gevolgtrekking is dat daar geen morele wet is wat God van Christene verwag om te gehoorsaam nie.

Die apostel Paulus handel met hierdie saak in Rom 6:1-2, "Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?" Die mees herhaalde aanval op die doktrine van verlossing deur genade alleen, is dat dit sonde aanmoedig. Mense mag wonder, "Indien ek deur genade alleen gered is en al my sondes vergewe is, hoekom kan ek nie sondig soos ek wil nie?" Daardie denkpatroon is nie die gevolg van ware oorgawe nie, aangesien ware oorgawe 'n groter begeerte is om te gehoorsaam, nie minder nie. God se begeerte – en ons begeerte indien ons deur Sy Gees wedergebore is – is dat ons nie na sonde hunker nie. Uit dankbaarheid vir Sy genade en vergiffenis, wil ons Hom bly maak. God het vir ons Sy oneindige genadegawe gegee deur Jesus se verlossing (Joh 3:16; Rom 5:8). Ons antwoord is om deur ons lewens op Hom te konsentreer uit liefde, deur aanbidding en dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het (Rom 12:1-2). Anti-nomianisme is onbybels daarin, dat dit die betekenis van God se genadeguns verkeerd interpreteer.

'n Tweede rede dat anti-nomianisme onbybels is, is dat daar 'n morele wet is wat God van ons verwag om te gehoorsaam. 1 Joh 5:3 sê, "Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons Sy gebooie gehoorsaam.Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie." Wat is hierdie wet wat God van ons verwag om te gehoorsaam? Dit is die wet van Christus – "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan, is: 'Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat" (Matt 22:37-40). Nee, ons is nie onder die Ou Testamentiese Wet nie. Ja, ons is onder die wet van Christus. Die wet van Christus is nie 'n uitgebreide lys van wettiese kodes nie. Dit is 'n wet van liefde. Indien ons God met ons hele hart, siel, verstand en krag liefhet, sal ons niks doen om Hom teleur te stel nie. Om die wet van Christus te gehoorsaam, is nie 'n vereiste om verlossing te verdien of te verkry nie. Die wet van Christus is wat God van 'n Christen verwag.

Anti-nomianisme is strydig met alles wat die Bybel leer. God verwag van ons om 'n lewe van moraliteit, integriteit en liefde te lewe. Jesus Christus het ons vrygemaak van die eise van die gebooie in die Ou Testamentiese Wet, maar dit is nie 'n lisensie om te sondig nie, maar eerder 'n genadeverbond. Ons moet strewe om sonde te oorwin en regverdig te lewe en dit is die Heilige Gees wat ons daartoe help. Die feit dat ons uit genade vrygemaak is van die eise wat die Ou Testamentiese Wet daarstel, moet outomaties voortvloei in ons lewens, soos ons die wet van Christus gehoorsaam. 1 Joh 2:3-6 verklaar, "As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. Iemand wat sê: 'Ek ken Hom,'maar nie Sy gebooie gehoorsaam nie, is 'n leuenaar en die waarheid is nie in hom nie. Wie Sy woord egter gehoorsaam – in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het."

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is anti-nomianisme?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries