settings icon
share icon
Vraag

Is annihilisme Bybels?

Antwoord


Annihilisme is die oortuiging dat ongelowiges nie die ewige lyding in die hel sal ervaar nie, maar eerder na die dood “uitgewis” sal word. Vir baie is annihilisme ‘n aanloklike oortuiging vanweë die skrikwekkende idee dat mense die ewigheid in die hel moet deurbring. Terwyl daar sommige tekste is wat oënskynlik annihilisme steun, openbaar ‘n omvangryke ondersoek na wat die Bybel sê oor die voorland van die bose, die feit dat straf in die hel vir ewig is. ‘n Geloof in annihilisme spruit uit ‘n misverstand van een of meer van die volgende leerstellings: 1) die gevolge van sonde, 2) die geregtigheid van God, 3) die aard van die hel.

Met betrekking tot die aard van die hel, misverstaan annihiliste die betekenis van die poel van vuur. Vanselfsprekend, indien ‘n menslike wese in ‘n poel van brandende lawa gewerp word, sal hy/sy byna oombliklik verteer word. Maar, die poel van vuur is beide ‘n fisiese en ‘n geestelike ryk. Dit is nie eenvoudig ‘n menslike liggaam wat in die poel van vuur gewerp word nie; dit is ‘n mens se liggaam, siel en gees. ‘n Geestelike wese kan nie deur ‘n fisiese vuur verteer word nie. Dit blyk dat die ongereddes opgewek word met ‘n liggaam wat vir die ewigheid voorberei is net soos dié van die gereddes (Openbaring 20:13; Handelinge 24:15). Hierdie liggame is voorberei vir ‘n ewige lot.

Ewigheid is ‘n ander aspek wat annihiliste faal om ten volle te begryp. Annihiliste is reg dat die Griekse woord aiõnion, wat gewoonlik vertaal word met “ewig”, nie per definisie “ewig” beteken nie. Dit verwys spesifiek na ‘n “tydperk” of “era”, ‘n spesifieke tydsperiode. Maar, dit is duidelik in die Nuwe Testament, dat aiõnion soms gebruik word om na ‘n ewige tydperk te verwys. Openbaring 20:10 praat van Satan, die dier en die valse profeet wat in die poel van vuur en swawel gewerp is, en waar hulle “dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.” Dit is duidelik dat hierdie drie nie “verteer” word wanneer hulle in die poel van vuur gewerp word nie. Waarom sou die lot van ongereddes dan enigsins anders wees (Openbaring 20:14-15)? Die mees oortuigendste getuienis vir die ewigheid van hel is Mattheus 25:46, “En hulle (die ongereddes) sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.” In hierdie vers word dieselfde Griekse woord gebruik wat verwys na die bestemming van die onregverdiges en die regverdiges. Indien die onregverdiges net gepynig word vir ‘n “tydperk”, dan sal die regverdiges die hemelse lewe ook net vir ‘n “tydperk” ervaar. Indien gelowiges vir ewig in die hemel gaan woon, sal ongelowiges vir ewig in die hel wees.

Nog ‘n gereelde beswaar van annihiliste teen die ewigheid van die hel is dat dit onregverdig van God sal wees om ongelowiges met ‘n ewigheid in hel te straf vir ‘n beperkte hoeveelheid sonde. Hoe kan dit regverdig van God wees om ‘n persoon wat ‘n sondige, 70 jaar geleef het, te neem en hom/haar te straf tot in alle ewigheid? Die antwoord is dat ons sonde ‘n ewige gevolg dra omdat dit teenoor ‘n ewige God gepleeg is. Toe Koning Dawid die sonde van owerspel en moord gepleeg het, het hy verklaar, “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in U oë, …” (Psalm 51:6). Dawid het gesondig teen Batseba en Uria; hoe kon Dawid beweer dat hy net teen God gesondig het? Dawid het verstaan dat alle sonde uiteindelik net teen God is. God is ‘n ewige en onbeperkte Wese. Daarom is alle sonde teen Hom werd om vir ewig gestraf te word. Dit is nie ‘n kwessie van hoe lank ons sondig nie, maar teen Wie ons sondig.

‘n Meer persoonlike aspek van annihilisme is die idee dat ons onmoontlik gelukkig in die hemel kan wees indien ons weet dat van ons geliefdes ‘n ewige lyding van God se foltering in die hel deurmaak. Hoe dit ook al sy, wanneer ons in die hemel aankom, sal ons niks hê om oor te kla of oor hartseer te wees nie. Openbaring 21:4 sê vir ons, “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” As van ons geliefdes nie in die hemel is nie, sal ons 100 persent ingeheel saamstem dat hulle nie daar hoort nie en dat hulle deur hulle eie verwerping om Jesus Christus as hulle Verlosser (Johannes 3:16; 14:6) te aanvaar, veroordeel is. Dit is moeilik om dit nou te verstaan, maar ons sal nie sleg voel oor hulle afwesigheid nie. Ons moet nie dink aan hoe ons ooit die hemel sal kan geniet sonder dat al ons geliefdes daar is nie, ons moet eerder nou fokus op hoe om ons geliefdes na geloof in Christus te lei om te verseker dat hulle wel daar sal wees.

Hel is moontlik die hoofsaak waarom God vir Jesus Christus gestuur het om die skuld vir ons sonde te betaal. Om na jou dood “uitgewis” te wees, is nie juis ‘n afskrikmiddel nie, maar ‘n ewigheid in die hel is baie beslis. Jesus se sterwe was ‘n grenslose dood, waarmee ons oneindige sondeskuld betaal word sodat ons nie daarvoor hoef te betaal met ‘n ewigheid in die hel nie (2 Korinthiërs 5:21). Wanneer ons in Hom glo, is ons gered, vergewe, gereinig, en ‘n ewige tuiste in die hemel beloof. Maar as ons God se gawe van ‘n ewige lewe verwerp, sal ons die ewige gevolge van daardie besluit dra.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is annihilisme Bybels?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries