Wat is die Bybel?



Vraag: "Wat is die Bybel?"

Antwoord:
Die woord “Bybel” kom van die Latynse en Griekse woorde wat “boek” beteken, ‘n gepaste naam, aangesien die Bybel ‘n boek vir alle mense is, vir alle tye. Daar bestaan nie nog so ‘n boek nie, in ‘n klas van Sy eie.

Die Bybel bevat ses en sestig verskillende boeke. Dit sluit in: wetsboeke soos Levitikus en Deuteronomium; geskiedkundige boeke soos Esra en Handelinge; digkuns soos Psalms en Prediker; boeke met profesieë soos Jesaja en Openbaring; biografieë soos Matteus en Johannes; en sendbriewe (formele briewe) soos Titus en Hebreërs.

Die Outeurs

Ongeveer 40 verskillende menslike skrywers het tot die Bybel bygedra, wat oor ‘n periode van ongeveer 1500 jaar geskryf is. Die skrywers was konings, vissermanne, priesters, regerings-amptenare, boere, skaapwagters en dokters. Van hierdie groot verskeidenheid kom ‘n ongelooflike eenheid, met ooreenstemmende temas regdeur geweef.

Die eenheid van die Bybel is as gevolg van die feit dat dit uiteindelik net een Outeur gehad het – God self. Die Bybel is “geïnspireer deur God” (2 Tim 3:16). Die menslike skrywers het presies geskryf wat God wou hê en die resultaat was die volmaakte en Heilige Woord van God (Ps 12:7, 2 Pet 1:21).

Die Afdelings

Die Bybel is in twee hoofdele verdeel: die Ou Testament en die Nuwe Testament. Kortliks, die Ou Testament is die storie van ‘n volk en die Nuwe Testament is die storie van ‘n Mens. Die volk was God se manier om Jesus Christus – die Mens – in die wêreld in te bring.

Die Ou Testament beskryf die ontstaan en die behoud van die volk Israel. God het belowe om Israel te gebruik om die hele wêreld te seën (Gen 12:2-3). Toe Israel eers as volk opgerig is, het God ‘n familie binne-in hierdie volk geskep, waardeur die seën sou kom: die familie van Dawid (Ps 89:4-5). Vanuit die familie van Dawid, volgens ‘n belofte, sou daar een Mens kom, wat die beloofde seën sou bring Jes 11:1-10).

Die Nuwe Testament gee besonderhede aangaande die koms van die beloofde Mens. Sy naam was Jesus en Hy het die profesieë van die Ou Testament vervul, toe Hy ‘n volmaakte lewe gelei het, gesterf om die Verlosser te word en vanuit die dood opgestaan het.

Die Sentrale Karakter

Jesus is die sentrale karakter in die Bybel – die hele boek gaan werklik oor Hom. Die Ou Testament voorspel Sy koms en berei die pad vir Sy intrede in die wêreld. Die Nuwe Testament beskryf Sy koms en Sy werk om redding in ons sondige wêreld te bring.

Jesus is meer as ‘n historiese figuur; Hy is inderdaad meer as ‘n mens. Hy is God in die vlees en Sy koms was die heel belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die wêreld. God self het mens geword, met die doel om vir ons ‘n duidelike, verstaanbare beeld te gee van wie Hy is. Hoe is God? Hy is soos Jesus; Jesus is God in menslike vorm (Joh 1:14, 14:9).

‘n Kort Samevatting

God het die mens geskape en hom in ‘n volmaakte omgewing geplaas; tog het die mens teen God gerebelleer en in sonde geval – weg van wat God se bedoeling vir hom was. God het die wêreld onder ‘n sondevloek geplaas, maar het onmiddellik ‘n plan in werking gestel om die mens en die hele skepping tot sy oorspronklike heerlikheid te herstel.

As deel van Sy verlossingsplan, het God Abraham uit Babelonië na Kanaän toe geroep (ongeveer 2000 vC). God het Abraham, sy seun Isak en sy kleinseun Jakob (ook Israel genoem) belowe dat Hy die wêreld deur ‘n afstammeling van hulle sou seën. Israel se familie het van Kanaän na Egipte geëmigreer, waar hulle tot ‘n volk gegroei het.

Ongeveer 1400 vC het God Israel se afstammelinge onder Moses se leiding, uit Egipte gelei en aan hulle die Beloofde Land, Kanaän, as besitting gegee. Deur Moses het God aan die mense van Israel die Wet gegee en ‘n verbond (testament) met hulle gesluit. Indien hulle aan God getrou sou bly en nie die afgode van die omliggende volke sou dien nie, sou hul floreer. As hulle God sou versaak en afgode dien, sou God hul as volk vernietig.

Ongeveer 400 jaar later, gedurende die regerings van Dawid en sy seun Salomo, was Israel verenig in ‘n groot en magtige koninkryk. God het aan Dawid en Salomo belowe, dat ‘n afstammeling van hulle vir ewig as koning sou regeer.

Na Salomo se bewind was die volk Israel verdeeld. Die tien stamme in die noorde is “Israel” genoem en hulle het ongeveer 200 jaar bestaan, voordat God hulle vir hul afgodery gestraf het. Assirië het Israel ongeveer 721 vC gevange geneem. Die twee stamme in die suide is “Juda” genoem en hulle het ‘n bietjie langer bestaan, maar uiteindelik het hulle ook van God af weggedraai. Babilon het hulle ongeveer 600 vC gevange geneem.

Ongeveer 70 jaar later het God in Sy genade ‘n oorblyfsel van die gevangenes na hul eie land toe teruggebring. Jerusalem, die hoofstad, is ongeveer 444 vC herbou en Israel het weer hul identiteit as volk herstel. Hier sluit die Ou Testament.

Die Nuwe Testament begin sowat 400 jaar later, met die geboorte van Jesus Christus in Betlehem. Jesus was die nasaat, wat aan Abraham en Dawid beloof is – die Een wat God se plan om die mens te verlos en die skepping te herstel, moes vervul. Jesus het Sy werk getrou voltooi – Hy het vir sonde gesterf en is uit die dood opgewek. Die dood van Christus vorm die grondslag vir die nuwe verbond (testament) met die wêreld. Almal wat geloof in Jesus het, sal gered word van sonde en vir ewig lewe.

Na Sy opstanding het Jesus Sy dissipels gestuur om die nuus van Sy lewe en Sy krag om te red, oral te versprei. Jesus se dissipels het in elke rigting gegaan om die goeie nuus van Jesus en verlossing te versprei. Hulle het deur Klein Asië, Griekeland en die hele Romeinse Ryk gereis. Die Nuwe Testament sluit af met ‘n voorspelling van Jesus se wederkoms, om die ongelowige wêreld te straf en om die skepping van die vloek te bevry.


Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die Bybel?