settings icon
share icon
Vraag

Waarom moet ek nie die Christendom verlaat nie?

Antwoord


Mense wat nie die Christendom wil aanvaar nie of wat van die geloof afvallig raak, noem gewoonlik een van drie redes daarvoor: Een rede wat mense gee om die Christendom te verlaat, is dat hulle intellektuele vrae het wat onbeantwoord bly. Hierdie vrae behels dikwels die probleem van die kwaad, die versoening van wetenskap en die Bybel (bv. die ouderdom van die heelal), eksklusiewe waarheidsaansprake van een geloof bo 'n ander, of soortgelyke teologiese kwessies.

'n Tweede rede waarom mense die Christendom verlaat, het met emosionele oorwegings te make. Baie kere het hulle 'n slegte ervaring met 'n kerk of 'n belydende Christen gehad, of dalk was hulle persoonlik die slagoffer van slegte dinge wat met hulle gebeur het. Hierdie ervarings het hulle seer en kwaad gelaat.

'n Derde algemene rede waarom mense die Christendom verwerp of verlaat, het te make met hul eie morele voorkeure. Hulle mag die Bybel se etiese vereistes persoonlik afstootlik vind of voel dat die Christelike geloof nie morele ooreenstemming met die huidige kulturele norme toon nie.

Alhoewel al hierdie redes beslis die moeite werd is om te ondersoek en mee te worstel, vorm geen van hulle 'n geldige rede om die Christendom te verwerp of te verlaat nie. Vanuit 'n breër oogpunt maak die Christelike geloof twee waarheidsaansprake:

1. God bestaan.

2. Jesus bestaan, en Hy het uit die dood opgestaan.

As albei hierdie bewerings waar is, is die Christendom waar en behoort dit aangeneem te word.

Wat God se bestaan betref, is die enigste ander opsie, buiten God, waarom alles bestaan, dat 'n onpersoonlike, onbewustelike, sinlose, doellose en immorele heelal — wat volgens die wetenskap nie ewig is nie—toevallig persoonlike, bewustelike, morele wesens geskep het, wat 'n obsessie het met betekenis en doel. Daardie opsie verg baie meer geloof om te glo as om 'n ewige Skepper te erken, wie se eienskappe perfek ooreenstem met dié wat in die Bybel voorkom en wat ons in die wêreld sien.

As dit by Jesus kom, is daar geen geleerde of opgeleide persoon wat die bestaan van die historiese Jesus en die basiese feite oor Sy lewe ontken nie. En hier is 'n interessante feit: net soos alle opgeleide historici glo dat Jesus van Nasaret bestaan het, stem hulle ook saam oor die basiese gebeure rondom Sy opstanding.

Die feite dat Jesus onder Pontius Pilatus gekruisig is, dat Hy begrawe is, dat sy liggaam drie dae later vermis geraak het, dat berigte oor sy verskyning aan verskeie individue en groepe begin sirkuleer het, en dat al sy dissipels behalwe een, gemartel is, omdat hulle sy opstanding verkondig het, word nie betwis deur historici — Christelik of nie-Christelik — wat die onderwerp bestudeer het nie. En alhoewel hulle verskil oor die redes waarom daardie gebeure plaasgevind het, is die enigste alternatief vir opstanding die hallusinasieteorie, wat vinnig in duie stort wanneer dit noukeurig ondersoek word.

So, alhoewel intellektuele, emosionele of morele vrae oor die Christendom kan ontstaan, as God bestaan en as Jesus bestaan en uit die dood opgestaan het, behoort 'n mens die Christendom aan te hang en in die geloof te lewe.

Uitdagende vrae ontstaan ook in die wetenskaplike wêreld, maar wetenskaplikes laat nie hul dissipline vaar omdat hulle nie onmiddellik elke enkele vraag kan beantwoord nie. In plaas daarvan bly hulle navors, bestudeer en leer totdat hulle die antwoorde ontdek waarna hulle gesoek het. Christene behoort dieselfde met hul geloof te doen.

Die enigste rede om in iets te glo, is dat dit waar is — en daar is oorweldigende bewyse dat die twee sleutelfondasies van die Christelike geloof waar is.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Waarom moet ek nie die Christendom verlaat nie?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries