settings icon
share icon
Vraag

Hoe verskil Intelligent Design van die geloof in 'n Vlieënde Spaghetti-monster?

Antwoord


In 2005, in protes teen die besluit van die Kansas State Board of Education om Intelligent Design in aanvulling op Darwinistiese evolusie te onderrig, het Bobby Henderson geloof in 'n Vlieënde Spaghetti-monster as die heelal se bonatuurlike skepper bely. Henderson het toe spottend beweer dat die Vlieënde Spaghetti-monster (ook bekend as die Spaghetti deity) erken word dat hy die heelal met 'n aanraking van sy "noedelagtige aanhangsel" geskep het. Met die motief om die teorie van Intelligent Design te bespot, het Henderson geskryf: "Ek dink ons kan almal uitsien na die tyd wanneer hierdie drie teorieë gelyke tyd in ons wetenskapklaskamers regoor die land, en uiteindelik die wêreld, gegee word — een derde tyd vir Intelligent Design, een derde tyd vir Vlieënde Spaghetti-monsterisme, en een derde tyd vir logiese veronderstelling gebaseer op oorweldigende waarneembare bewyse."

Vanaf hierdie begin het die Vlieënde Spaghetti-monsterisme 'n spottende "kultus"-aanhang verwerf, met sy aanhangers wat hulself "Pastafariërs" noem. Geen van die voorstanders van Pastafarianisme glo werklik in die bestaan van die Vlieënde Spaghetti-monster nie. Inteendeel, die enigste doel van hierdie skyngodsdiens is om te argumenteer teen die onderrig van Intelligent Design in skole as 'n alternatiewe teorie vir Darwinistiese evolusie. Pastafariërs beweer dat, as Intelligent Design in skole onderrig word, dan moet elke denkbare oorsprongsteorie ook onderrig word. Dit sou natuurlik tot verwarring en chaos lei.

Het Pastafariërs dus 'n punt om te staaf? Illustreer die opvatting van 'n Vlieënde Spaghettti-monster hoe dwaas dit is om godsdiens in die klaskamer in te bring? Die antwoord is 'n klinkende nee. Die hele konsep wat gelei het tot Vlieënde Spaghetti-monsterisme/Pastafarianisme, berus op 'n foutiewe uitgangspunt: dat Intelligent Design-teorie noodwendig dieselfde is as letterlike Bybelse skeppingsleer.

Maar dié wat die geskrifte van voorstanders van Intelligent Design ondersoek, besef dat dit nie die geval is nie. Dit is waar dat daar mense is wat die Intelligent Design-teorie gebruik om sesdaagse, jong-aarde-skeppingsleer in wetenskapklaskamers af te dwing, maar dit is nie wat die Intelligent Design-teorie in sy kern is nie.

Die Intelligent Design-teorie—soos die oorweldigende meerderheid van sy voorstanders dit verstaan en gebruik en soos hulle probeer om dit in wetenskapklokale in te kry, is die idee dat biologiese lewe so 'n buitengewone kompleksiteit vertoon dat dit nie heeltemal in 'n naturalistiese vakuum kon ontstaan het nie. Hoe meer die wetenskap vorder, hoe duideliker word dit dat die heelal en die lewe daarin nie die gevolg kan wees van heeltemal ewekansige, onbegelei­de en nie-ontwerpte toeval nie.

Hierdie begrip van die Intelligent Design-teorie is duidelik versoenbaar met letterlike Bybelse skeppingsleer. Dit is egter nie identies daaraan nie. Ook lei Intelligent Design nie noodwendig tot Bybelse skeppingsleer nie. In werklikheid is Intelligent Design nie meer 'n argument vir Bybelse skeppingsleer, as wat dit 'n argument is vir teïstiese evolusie, gerigte panspermie hipotese of enige ander nie-naturalistiese oorsprongsteorie nie.

Alhoewel die aanhangers van die Vlieënde Spaghetti-monsterisme vermaaklik, kreatief en uitstekend in satire is, faal die stelsel daarin dat dit slegs 'n argument teen 'n uiterste minderheid binne die Intelligent Design-beweging is. Pastafarisme is nie van toepassing op of weerlê nie op enige wyse die kernargumente van die Intelligent Design-teorie nie. Die vraag watter implikasie van die Intelligent Design-teorie korrek is, is 'n onderwerp wat baie beter geskik is vir filosofie- of teologieklasse as vir wetenskapklasse. Die Intelligent Design-teorie self is egter 'n geldige saak wat in die wetenskapklas ter sprake gebring kan word, weens die naturalistiese wetenskap se mislukking om te demonstreer hoe die heelal en die lewe daarin, sonder die ingryping van 'n Intelligent Designer tot stand gekom het.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe verskil Intelligent Design van die geloof in 'n Vlieënde Spaghetti-monster?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries