settings icon
share icon
Vraag

Wat is die verskil tussen Sheol, Hades, Hel, die vuurpoel, Paradys en Abraham se boesem (ereplek)?

Antwoord


Die verskillende terme wat die Bybel gebruik vir hemel en hel – sheol, hades, gehenna, die vuurpoel, paradys en Abraham se boesem – is die onderwerp van baie debat en kan verwarrend wees.

Die woord “paradys” word gebruik as ‘n sinoniem vir “hemel” (2 Kor 12:3-4; Openbaring 2:7). Toe Jesus besig was om aan die kruis te sterf en een van die misdadigers wat saam met Hom gekruisig was, Hom om genade gesmeek het, het Jesus geantwoord, “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk 23:43). Jesus het geweet dat Sy dood ophande was en dat Hy binnekort in die hemel saam met Sy Vader sou wees. Dus gebruik Jesus “paradys” as ‘n sinoniem vir “hemel” en die woord word geassosieer met enige plek van volmaakte heerlikheid en verlustiging.

Abraham se boesem (ereplek) word net eenkeer in die Bybel na verwys – in die storie van Lasarus en die ryk man (Luk 16:19-31). Abraham se boesem (ereplek langs Abraham) was in die Talmoed gebruik as sinoniem vir “hemel.” Die beeld in die storie is waar Lasarus teen ‘n tafel leun op Abraham se bors – soos Johannes op Jesus se bors geleun het by die Laaste Pasgamaal – by die hemelse feesmaal. Die kern van die storie is dat die onregverdiges die regverdige in ‘n gelukkige toestand sal sien, terwyl hulle hulself in pyniging bevind en dat ‘n “groot kloof” wat nooit oorgesteek kan word, tussen hulle bestaan(Luk 16:26). Abraham se boesem is klaarblyklik ‘n plek van vrede, rus en blydskap – m.a.w. ‘n paradys.

In die Hebreeuse Skrif word die woord “Sheol” gebruik om die doderyk te beskryf. Dit beteken eenvoudig “die plek van die gestorwenes” of “die plek van die siele/geeste wat vertrek het.” Die Nuwe Testament se Griekse ekwivalent van Sheol, is “Hades,” wat ook ‘n algemene verwysing is na ‘die plek van die dooies.” Die Griekse woord “Gehenna” word in die Nuwe Testament vir “Hel” gebruik en word afgelei van die Hebreeuse woord “Hinnom.” Ander Skrifte in die Nuwe Testament dui aan dat Sheol/Hades ‘n tydelike plek is, waar siele gehou word in afwagting vir die finale opstanding. Die siele van die regverdiges gaan direk na sterwe in die teenwoordigheid van God in – die deel van Sheol wat “hemel,” “paradys,” of “die ereplek van Abraham” genoem word (Luk 23:43; 2 Kor 5:8; Fil 1:23).

Die vuurpoel wat in Openbaring 19:20 en 20:10, 14-15 genoem word, is die finale hel, die plek van ewige straf vir alle onboetvaardige rebelle, beide engele en mense (Matt 25:41). Dit word beskryf as ‘n plek van onblusbare vuur en hulle wat daarin is, beleef ewige, onuitspreeklike pyniging van ‘n onverbiddelike aard (Luk 16:24; Mark 9:45-46). Hulle wat vir Christus verwerp het en wat in die tydelike verblyfplek van die gestorwenes is, Hades/Sheol, het die vuurpoel as hul finale bestemming.

Hulle wie se name egter in die Boek van die lewe van die Lam geskryf is, hoef geen vrees te hê vir hierdie aaklige noodlot nie. Deur geloof in Christus en Sy bloed wat aan die kruis gevloei het vir ons sondes, is ons bestemming, om vir ewig in die teenwoordigheid van God te lewe.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die verskil tussen Sheol, Hades, Hel, die vuurpoel, Paradys en Abraham se boesem (ereplek)?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries