settings icon
share icon
Vraag

Waarom het Satan gedink dat hy God kon oorwin?

Antwoord


Dit is moeilik om te dink dat ‘n wese soos Lucifer (Satan) selfs kon glo dat hy met God in ‘n geveg kon raak, wat nog te sê Hom verslaan. Selfs die mees verdorwe verstand behoort die vermoё te hê om te weet dat ‘n skepsel onmoontlik met die Skepper in stryd kan tree. Tog het Satan gepoog om God te onttroon en strewe nog tot vandag om God se outoriteit te ondermyn, Sy planne te dwarsboom en Sy mense aan te val.

Miskien is deel van die verduideliking dat trots Satan verblind het vir realiteit. Twee Ou Testamentiese gedeeltes (Jes 14:12-15 en Eseg 28:11-19) bespreek Satan se oorspronklike posisie en die redes vir sy verlies daarvan. Hulle praat van ‘n verhoogde engelagtige wese, een van God se skepsels, wat trots geraak het. Hy was vasberade om God se troon vir homself te neem. Maar God het hom van sy posisie verwyder.

Satan se invloed in wêreldgebeure is duidelik geopenbaar (Joh 12:31). Satan is uiters intelligent. Deur sy intelligensie het hy Adam en Eva verlei en hul beheer van die wêreld vir homself oorgeneem (Gen 1:26; 3:1-7; 2 Kor 11:13). Sy slimmigheid het hom in die vermoё geplaas om sy bedrieglike werk feitlik te doen soos hy wil, alhoewel sy krag aan God se beperkings ondergeskik is (Job 1:12; Luk 4:6; 2 Tess 2:7-8). Hy het sekere oorwinnings behaal – alhoewel binne die grense wat God vir hom gestel het – en miskien laat hierdie oorwinnings hom toe om voort te gaan met die illusie dat hy God kan oorwin.

Die beheer van God oor Satan se aktiwiteite word geïllustreer deur Satan se versoek tot God vir toestemming om Job aan te val (Job 1:7-12). Satan word toestemming gegee om God se mense seer te maak (Luk 13:16; 1 Tess 2:18; Hebr 2:14), maar hy kry nooit toestemming om ‘n algehele oorwinning oor hulle te behaal nie (Joh 14:30-31; 16:33). ‘n Deel van Satan se aanhoudende ambisie om God te vervang, is sy passievolle begeerte dat ander hom sal aanbid (Matt 4:8-9; Openbaring 13:4, 12). Satan is die “Bose” een (Matt 13:19,38), terwyl God “die Heilige van Israel” is (Jes 1:4). Satan se natuur is boos. Sy pogings om God te opponeer, Sy mense en Sy waarheid, is onvermoeid (Job 1:7; 2:2; Matt 13:28). Hy staan altyd in die pad van die mens se beste belange (1 Kron 21:1; Sag 3:1-2).

Deur gebruik te maak van sy rol om sonde bekend te stel aan die menslike familie (Gen 3), het Satan die mag oor die dood verkry – ‘n mag wat Christus gebreek het deur Sy kruisiging en opstanding (Hebr 2:14-15). Satan het Christus direk versoek, en probeer om Hom in ‘n kompromie te lei deur Hom te belowe dat Hy wêreldse outoriteit en mag sou kry (Luk 4:5-8).

Ten spyte van Satan se oogverblindery dat hy God kan oorwin, is Satan bestem tot ‘n val. Sy finale nederlaag word in Joh 12:31 voorspel, Openbaring 12:9 en 20:10. Die dood van Christus aan die kruis is die basis vir Satan se finale nederlaag (Hebr 2:14-15; 1 Pet 3:18,22). Daardie gebeurtenis was die hoogste klimaks van ‘n sondelose lewe, waardeur Jesus herhaaldelik getriomfeer het oor die vyand (Matt 4:1-11; Luk 4:1-13). Satan het heel moontlik hom verlustig in die dood van Christus, deurdat hy geglo het dat dit ‘n oorwinning vir hom was, maar soos al sy oorwinnings was daardie een ook van korte duur. Toe Jesus uit die graf opgestaan het, was Satan weer opnuut verslaan. Die finale oorwinning sal kom wanneer Jesus weer kom en Satan in die vuurpoel gewerp word (Openbaring 20:1-15).

Die dood en opstanding van Christus gee aan die gelowige krag om oor sonde te seёvier. Ons het die versekering dat “God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter” (Rom 16:20). Sulke persoonlike oorwinning hang af van God se genade en krag in ons lewens en ons wil om weerstand te bied teen Satan se versoekings (Ef 4:25-27; Jak 4:7; 1 Pet 5:8-9). Om Christene te help om hierdie geveg teen Satan te wen, het God die krag van Jesus se bloed voorsien (Openbaring 12:11), aanhoudende gebed tot Christus in die hemel vir gelowiges (Hebr 7:25), die leiding van die Heilige Gees (Gal 5:16), en verskeie wapens vir geestelike oorlogsvoering (Ef 6:10-18).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Waarom het Satan gedink dat hy God kon oorwin?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries