settings icon
share icon
Vraag

Hoeveel mag besit Satan?

Antwoord


Satan was ‘n engel deur God geskep, wat teen God se outoriteit gedraai het (Jes 14:13) en hy het die hoof geraak van die koninkryk van bose geeste, genoem demone, sy “engele” (Matt 25:41). Sy mag, beide in die hemelse ryk en op aarde is groot en moenie onderskat word nie. Terwyl Satan en sy magte gedugte vyande is, het Jesus Christus egter Satan se mag vermorsel, deur die profesie van Gen 3:15 te vervul. Die kruis van Christus het die oorwinning behaal (Joh 12:31). “...die owerste van hierdie wêreld, die Satan, is klaar veroordeel” (Joh 16:11), en Jesus sal eendag Satan se mag volkome vernietig en die skepping reinig (2 Pet 3:10).

Satan se mag in die hemelse ryk / geesteswêreld:

Satan se mag het aansien in die geestelike ryk (Judas 1:9), waar hy beperkte toegang tot die teenwoordigheid van God het (Job 1:6). Die boek Job gee insig oor die verhouding tussen God en Satan. In Job 1:6-12 staan Satan voor God en rapporteer dat hy “die wêreld deurkruis” het (vers 7). God vra vir Satan of hy die godvresende Job raakgesien het en Satan beskuldig dadelik vir Job van onopregtheid – hy is net lief vir God oor al die seёninge wat God gee. “Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in die gesig vervloek nie” (vers 11). God gee Satan permissie om Job se besittings en familie aan te tas, maar nie sy persoon nie en Satan gaan toe. In Job 2 kom Satan toe weer in God se teenwoordigheid en word hierdie keer toegelaat om Job se persoonlike gesondheid aan te raak. (Die res van die boek handel oor Job se perspektief, deur ‘n voorbeeld te wees oor hoe om lyding te hanteer.)

Dit is ‘n belangrike gedeelte, omdat dit Satan se plek in die geestelike ryk wys. Hy is by magte om God se mense te beskuldig in Sy teenwoordigheid en Judas :9 wys dat selfs Migael, die aartsengel, benodig die Here se hulp om hom te oorwin. Satan is egter duidelik beperk om sy volledige woede uit te speel; hy is steeds ‘n geskape wese, ondergestel aan God en sy mag is beperk.

Satan se mag op aarde: Job 1 openbaar ook dat Satan boosheid afspeel en direkte skade op die aarde veroorsaak. Die bekendste en belangrikste aksie op aarde het plaasgevind in die tuin van Eden. Gen 3 vertel van Satan se versoeking van Eva, “die moeder van al die mense” (vers 20) en haar daaropvolgende eerste sonde. Dit was hierdie handeling en dié van Eva se man, Adam, wat sonde in die wêreld gebring het en dit is die rede hoekom alle mense verlos moet word van sonde, om sodoende by God te wees. Op ‘n dag het Jesus ‘n vrou ontmoet ”wat agtien jaar gely het onder ‘n bose gees” (Luk 13:11). Jesus het haar gebrek aan Satan toegeskryf, wat haar “gebind” het (vers 16). Satan se mag was werklikheid, maar dit was maklik deur ons Here oorwin: “Toe het Hy haar die hande opgelê en sy het onmiddellik regop gestaan en God begin prys” (vers 13). Jesus se wonderwerk was ‘n duidelike demonstrasie van Sy outoriteit oor Satan.

Sedert sy aanhitsing van boosheid op aarde, word Satan genoem, die “prins,” “god,” of “owerste” van hierdie wêreld (Joh 14:30; Joh 12:31; 16:11; 2 Kor 4:3-4; Ef 2:2; Kol 1:13). Hy is die vyand van God en die waarheid (Matt 13:24-30; 2 Tess 2:9-12), en hy doen enigiets wat hy kan om individue te versoek (Gen 3; Luk 22:31; 1 Tim 3:7) en groter groepe mense (1 Tess 3:5; Openbaring 2:10). Hy verlei die hele wêreld (Openbaring 12:9). Satan behaal dit deur verskeie maniere, insluitende deur hom te beroep op die mens se trots (1 Tim 3:6; 1 Kor 4:60), deur in te meng met die oordrag van die waarheid (Matt 13:18-22, 38-39), en deur valse gelowiges in die kerk te plaas (1 Tim 4:1-2; 2 Tim 3:1-9; Openbaring 2:9; 3:9). In Joh 8:44 sê Jesus dat Satan die vader van die leuen” is.

God gee steeds vir Satan ‘n sekere mate van outoriteit in hierdie wêreld, wat beteken dat sy mag tans nog nie heeltemal gebreek is nie – behalwe op een gebied: sy mag oor die dood. Hebr 2:14-15 sê dat Jesus gekom het as mens om te sterf en sodoende “dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig,” ‘n mag wat Satan “van die begin af” (Joh 8:44) gehad het. Die verlossing wat Jesus gebring het, het ons vrygemaak van Satan se wurggreep. Die dood het sy angel verloor (1 Kor 15:55).

Satan se mag – die slotsom:

Die Bybel sê dat “die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is” (1 Joh 5:19), en ons moet nugter en wakker wees! “julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (1 Pet 5:8). Tog het Christene ‘n groot hoop, want Jesus Christus (Joh 16:33) en ons geloof in Hom (1 Joh 5:4) het Satan se boosheid oorwin. 1 Joh 4:4 sê dat “Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is.”

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoeveel mag besit Satan?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries