Vraag
Wat is Pascal se weddenskap?
Antwoord
Pascal se weddenskap is vernoem na die 17de-eeuse Franse filosoof en wiskundige, Blaise Pascal. Een van Pascal se bekendste werke was die "Pensées" ("Gedagtes"), wat postuum in 1670 gepubliseer is. Dit is in hierdie werk wat bekend staan as "Pascal se weddenskap."
Die kern van die Weddenskap is dat, volgens Pascal, 'n mens nie deur rede alleen tot die kennis van God se bestaan kan kom nie, dus is die wyse ding om jou lewe te leef asof God wel bestaan, want so 'n lewe het alles om te wen en niks om te verloor nie. As ons leef alsof God bestaan, en Hy bestaan inderdaad, het ons die hemel gewen. As Hy nie bestaan nie, het ons niks verloor nie. As ons, aan die ander kant, leef alsof God nie bestaan nie en Hy werklik bestaan, het ons die hel en die straf gewen en het ons die hemel en die saligheid verloor. As mens die opsies oorweeg, is dit duidelik dat die rasionele keuse is, om te leef asof God bestaan, dit is die beter een van die moontlike keuses. Pascal het selfs voorgestel dat sommige mense dalk nie op daardie stadium die vermoë het om in God te glo nie. In so 'n geval moet mens tog leef asof hy geloof het. Miskien kan dit, om te leef asof mens geloof het, daartoe lei dat mens werklik later tot geloof kom.
Daar is oor die jare kritiek uit verskeie kampe gelewer. Byvoorbeeld is daar die argument van inkonsekwente openbarings. Hierdie argument kritiseer "Pascal se Weddenskap" op grond daarvan dat daar geen rede is om die keuses tot die Christelike God te beperk nie. Aangesien daar deur die menslike geskiedenis heen baie godsdienste was, kan daar baie potensiële gode wees. Nog 'n kritiek kom uit ateïstiese kringe. Richard Dawkins het die moontlikheid van 'n god voorgestel, wat eerlike ongeloof kan beloon en blinde of voorgee-geloof kan straf.
Hoe dit ook al sy, wat ons behoort te bekommer, is of "Pascal se Weddenskap" met die Skrif in ooreenstemming gebring kan word. Die Weddenskap faal op verskeie punte. Eerstens en veral neem dit nie die apostel Paulus se argument in Romeine 1 in ag nie, dat die kennis van God vir almal duidelik is, sodat ons sonder verskoning is (Romeine 1:19-20). Slegs rede kan ons tot die kennis van God se bestaan bring. Dit sal 'n onvolledige kennis van God wees, maar dit is tog kennis van God. Verder is die kennis van God genoeg om ons almal sonder verskoning voor God se oordeel te stel. Ons is almal onder God se toorn, omdat ons die waarheid van God in ongeregtigheid onderdruk het.
Tweedens, daar word nêrens melding gemaak van die koste verbonde aan die wyse hoe om Jesus te volg nie. In die evangelie van Lukas waarsku Jesus ons twee keer om die koste te bereken om sy dissipel te word (Lukas 9:57-62; 14:25-33). Daar is 'n koste verbonde aan die volg van Jesus, en dit is nie 'n maklike prys om te betaal nie. Jesus het vir Sy dissipels gesê dat hulle hul lewens sal moet verloor om dit te red (Matteus 10:39). Om Jesus te volg bring die haat van die wêreld met hom mee (Johannes 15:19). "Pascal se Weddenskap" maak geen melding van enige hiervan nie. As sodanig verminder dit geloof in Christus tot blote geloofsbereidheid.
Derdens, dit verdraai heeltemal die verderf van die menslike natuur. Die natuurlike mens — iemand wat nie deur die Heilige Gees wedergebore is nie (Johannes 3:3) — kan nie oortuig word van 'n verlossende geloof in Jesus Christus deur 'n koste-voordeel-analise, soos "Pascal se Weddenskap" nie. Geloof is 'n gevolg van wedergebore word, en dit is 'n goddelike werk van die Heilige Gees. Dit wil nie sê dat 'n mens nie tot die feite van die evangelie kan instem of selfs uiterlik gehoorsaam kan wees aan die wet van God nie. Een van die punte in Jesus se gelykenis van die grondsoorte (Matteus 13) is dat valse bekeringe 'n werklikheid van die lewe sal wees, totdat Christus terugkeer. Die teken van ware verlossende geloof is egter die vrug wat dit voortbring (Matteus 7:16-20). Paulus voer aan dat die natuurlike mens die dinge van God nie kan verstaan nie (1 Korintiërs 2:14). Waarom? Omdat dit geestelik onderskei word. "Pascal se Weddenskap" maak geen melding van die noodsaaklike vooraf werk van die Gees om tot die kennis van verlossende geloof te kom nie.
Vierde en laastens, as 'n apologetiese/evangelistiese hulpmiddel (wat die Weddenskap bedoel was om te wees), blyk dit gefokus te wees op 'n risiko/belonings-uitkyk, wat nie ooreenstem met 'n ware reddende geloofsverhouding in Christus nie. Jesus het gehoorsaamheid aan Sy gebooie as 'n bewys van liefde vir Christus gestel (Johannes 14:23). Volgens "Pascal se Weddenskap" kies 'n mens om te glo en God te gehoorsaam op grond daarvan om die hemel as 'n beloning te ontvang. Dit is nie om die feit in te kort dat die hemel 'n beloning is en dat dit iets is waarvoor ons behoort te hoop en te begeer nie. Maar as ons gehoorsaamheid uitsluitlik, of hoofsaaklik, gemotiveer word deur die begeerte om in die hemel te kom en hel te vermy, dan word geloof en gehoorsaamheid 'n middel om te bereik wat ons wil hê, eerder as die resultaat van 'n hart wat in Christus nuutgebore is en geloof en gehoorsaamheid uit liefde vir Christus uitdruk.
Ten slotte behoort "Pascal se Weddenskap," al is dit 'n interessante stuk filosofiese denke, geen plek te hê in 'n Christen se evangelistiese en apologetiese arsenaal nie. Christene moet die evangelie van Jesus Christus deel en verkondig, wat alleenlik die "krag van God tot redding vir elkeen wat glo" is (Romeine 1:16).
English
Wat is Pascal se weddenskap?