settings icon
share icon
Vraag

Hoe is Jesus ons Sabbatsrus?

Antwoord


Die sleutel tot die verstaan van hoe Jesus ons Sabbatsrus is, is die Hebreeuse woord "sabat" en dit beteken "om te rus of te stop of op te hou met werk." Die oorsprong van die Sabbat begin by die Skepping. Na die skepping van die hemel en die aarde in 6 dae, het God "Op die sewende dag…..het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het" (Gen 2:2). Dit beteken nie dat God moeg was en 'n ruskans benodig het nie. Ons weet dat God almagtig, letterlik alles in Sy mag het. Hy word nooit moeg nie en Sy veeleisendste energieverbruik verminder nie Sy krag in die minste nie. Dus, wat beteken dit dat God op die sewende dag gerus het? Hy het eenvoudig gestop met dit waarmee Hy besig was. Hy het opgehou met Sy arbeid. Dit is belangrik om die ontstaan van die Sabbatdag te verstaan en die rol van Christus as ons Sabbatsrus.

God het die voorbeeld van Sy rus op die sewende dag van die Skepping gebruik om die beginsel van die Sabbatsdagrus vir Sy mense te vestig. In Eks 20:8-11 en Deut 5:12-15 het God die Israeliete die vierde gebod van Sy Tien Gebooie gegee. Dit was om die Sabbatdag te "onthou" en dit "heilig te hou." Een dag uit elke sewe moes die Israeliete van hul arbeid rus en dieselfde dag ook hul werkers en diere rus gee. Dit was 'n algehele staking van werk. Wat hulle ookal mee besig was, moes vir 'n volle dag elke week ophou. (Lees asb ons ander artikels in verband met die Sabbatdag, Saterdag teenoor Sondag en Sabbats-onderhouding, om sodoende hierdie onderwerp verder te ondersoek.) Die Sabbatdag was ingestel, sodat die mense van hul werk kon rus en nuut kon begin na 'n dag se rus.

Die onderskeie elemente van die Sabbat simboliseer die koms van die Messias, wat 'n permanente rus vir Sy mense sou voorsien. Onder die Wet van die Ou Testament, was die Jode gedurig besig om te werk, om hulself aanvaarbaar vir God te maak. Hulle het geprobeer om die tallose moets en moenies in die seremoniële wet, die tempelwet, die burgerlike wet, ens. te gehoorsaam. Dit was duidelik dat hulle onmoontlik nie al daardie wette kon onderhou nie en dus het God 'n lys van sonde-offerandes voorsien, sodat hulle na Hom kon kom vir vergifnis en hul verhouding met Hom kon herstel, maar slegs tydelik. Soos hulle met hul fisiese werk moes voortgaan na 'n dag se rus, moes hulle ook aangaan om offerandes te bring. Heb 10:1, "Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vrymaak nie." Hierdie offerandes het na die toekoms verwys. Hulle was geoffer in afwagting vir die hoogste offer van Christus aan die kruis, wat "één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit" het (Heb 10:12). Na die hoogste offer gebring is, het Jesus gaan sit en "gerus"- dit beteken, Hy het opgehou met Sy versoeningswerk, omdat daar niks meer te doen was nie, nooit nie. Die verlossingswerk was klaar (Joh 19:30). As gevolg van wat Jesus gedoen het, het ons nie meer nodig om die wet te onderhou (om te arbei) en sodoende regverdig in God se oë te wees nie. Jesus het gekom, sodat ons in God kan rus en in die verlossing wat Hy gebring het.

'n Ander element van die Sabbatsrus is dat God dit geseën het, dit afgesonder het en dit heilig gemaak het. Hier sien ons weereens die simbool van Christus as ons Sabbatsrus – die heilige Seun van God wat almal wat in Hom glo, afgesonder en heilig gemaak het. Netsoos God die Sabbat afgesonder het, het Hy vir Christus afgesonder en Hom na die wêreld toe gestuur (Joh 10:36). In Hom vind ons volkome rus van al ons eie pogings, omdat Hy alleen heilig en regverdig is. "Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel, sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees" (2 Kor 5:21). Ons het nou geestelike rus in Hom – nie net een dag per week nie, maar vir altyd.

Jesus is ook ons Sabbatsrus, omdat Hy "Here oor die Sabbat" is (Matt 12:8). Soos God vlees geword het, het Hy besluit oor die ware betekenis van die Sabbat, omdat Hy dit geskep het en Hy is ons Sabbatsrus in die vlees. Toe die Fariseërs Jesus gekritiseer het, toe Hy op die Sabbat genees het, het Hy hulle herinner dat hulle nie sou huiwer om 'n skaap wat in die sloot geval het op die Sabbat, te red nie. Omdat Hy gekom het om Sy "skape" te soek en te red, kon Hy die Sabbatsreëls oortree. Mense is belangriker as skape en die verlossing wat Jesus voorsien, is belangriker as reëls. Deur te sê "Die Sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbatdag nie" (Markus 2:27), het Jesus die beginsel herbevestig dat die Sabbatsrus daar is om die mens van sy arbeid te laat rus. Die Fariseërs het die Sabbat verander in 'n dag vol lastige reëls. Jesus het gekom om ons vry te maak van die Wet deur Sy genade (Joh 1:17; Rom 6:14). Hy is die Here oor die Sabbat, wat ons bevry van ons eie pogings om ons eie verlossing te bewerk. In Hom rus ons van ons werke en vertrou op Sy werk in ons plek.

Heb 4 is die definitiewe gedeelte aangaande Jesus as ons Sabbatsrus. Daar word vir ons gesê "gaan in" in die Sabbatsrus wat deur Christus voorsien is. Die alternatief is om ons harte teenoor Hom te verhard, soos die Israeliete in die woestyn gedoen het. As gevolg van hul ongeloof, het God die toegang na die Beloofde Land vir daardie generasie Israeliete ontken, deur te sê, "In My rus sal hulle beslis nie ingaan nie" (Heb 3:11). Die skrywer van Hebreërs smeek ons om nie dieselfde fout te maak, deur God se Sabbatsrus in Jesus Christus te verwerp nie. "Daar wag dus nog steeds 'n Sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, netsoos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie" (Heb 4:9-11).

Daar is geen ander Sabbatsrus buiten Jesus nie. Hy alleen vervul die vereistes van die Wet en Hy alleen voorsien die offerande wat versoening vir sondes bewerk. Hy is God se voorsiening vir ons, wat ons toelaat om op te hou met ons eie werke. Ons durf nie hierdie enigste Weg van verlossing verwerp nie (Joh 14:6). God se reaksie teenoor hulle wat kies om Sy plan te verwerp, word in Numeri 15 gesien. Daar was 'n man gevind, besig om hout te versamel op die Sabbatsdag, ten spyte van God se opdrag om nie te werk nie. Hierdie oortreding was 'n opsetlike sonde, gedoen met dapperheid in helder daglig, in uitdagende optrede teenoor goddelike outoriteit. "Die Here het toe vir Moses gesê: 'Die man moet beslis sterwe'" (v. 35). So sal dit gebeur met almal wat God se voorsiening aangaande die Sabbatsrus in Christus verwerp. "hoe sal ons dan ontkom as ons so 'n groot saligheid verontagsaam het?" (Heb 2:3).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe is Jesus ons Sabbatsrus?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries