settings icon
share icon
Vraag

Wat beteken dit dat Jesus vir ons sondes gesterf het?

Antwoord


Eenvoudig gestel is dit so dat sonder Jesus se dood aan die kruis vir ons sondes, sou niemand die ewige lewe kon hê nie. Jesus het self gesê, "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie" (Joh 14:6). In hierdie verklaring gee Jesus die rede vir Sy geboorte, dood en opstanding – om die weg voor te berei na die hemel vir die sondige mensdom, wat nooit op hul eie daar kon kom nie.

Toe God Adam en Eva geskep het, was hulle volmaak in elke opsig en het in 'n virtuele paradys, die Tuin van Eden (Gen 2:15) gewoon. God het die mens na Sy beeld geskape: dit beteken dat hulle ook die vryheid gehad het om besluite en keuses volgens hul eie wil uit te oefen. Gen 3 gaan aan en beskryf hoe Adam en Eva toegee aan Satan se versoekings en leuens. Deur dit te doen, het hulle ongehoorsaam gewees aan die wil van God, deur te eet van die boom van alle kennis, wat God hulle verbied het om te eet: "Die Here God het die mens beveel: 'Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy'" (Gen 2:16-17). Dit was die eerste sonde, wat die mens gepleeg het en as gevolg daarvan, is alle mense onderwerp aan beide fisiese en ewige dood op grond van ons sondige natuur, oorgeërf vanaf Adam.

God het verklaar dat almal wat sondig, sal sterf, beide fisies en geestelik. Hierdie is die noodlot van die hele mensdom. God het egter in Sy genade en barmhartigheid 'n weg uit hierdie dilemma voorsien: deur die gestorte bloed van Sy volmaakte Seun aan die kruis. God het verklaar dat "sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie" (Heb 9:22), maar deur die bloed wat gevloei het, is vrymaking bewerkstellig. Die Wet van Moses (Eks 20:2-17) het 'n weg vir die mense voorsien om as "sondeloos" of "reg" in God se oë beskou te word – die offer van diere as offerande vir sonde. Hierdie offerandes was egter net tydelik en was werklik 'n voorafskadu van die volmaakte, eens-vir -altyd -offerande van Christus aan die kruis (Heb 10:10).

Dit is waarom Jesus gekom het en waarom Hy gesterf het, om die hoogste en die finale offerande, die volmaakte offerande vir ons sondes (Kol 1:22; 1 Pet 1:19) te bring. Deur Hom het die belofte van die ewige lewe saam met God in werking gekom vir hulle wat deur geloof in Jesus glo, "die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus" (Gal 3:22). Hierdie twee woorde "geloof" en "om te glo" is krities vir ons redding. Dit is deurdat ons glo in die gestorte bloed van Christus vir ons sondes dat ons die ewige lewe ontvang. "Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie" (Ef 2:8-9).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat beteken dit dat Jesus vir ons sondes gesterf het?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries