settings icon
share icon
Vraag

Wat is die betekenis en belangrikheid van die Hemelvaart van Jesus Christus?

Antwoord


Nadat Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy Homself lewend vertoon (Hand 1:3) aan die vroue naby die graf (Matt 28:9-10), aan Sy dissipels (Luk 24:36-43) en aan meer as 500 ander mense (1 Kor 15:6). In die daaropvolgende dae na Sy opstanding het Hy Sy dissipels aangaande die koninkryk van God geleer (Hand 1:3).

Veertig dae na die opstanding het Jesus en Sy dissipels na die Olyfberg gegaan, naby Jerusalem. Daar het Jesus Sy volgelinge beloof dat hulle spoedig die Heilige Gees sou ontvang en Hy het hulle aangesê om in Jerusalem te bly totdat die Gees gekom het. Toe het Jesus hulle geseën en nadat Hy die seën gegee het, het Hy begin om op te vaar na die hemel. Die weergawe van Jesus se hemelvaart word in Luk 24:50-51 en Hand 1:9-11 beskryf.

Dit is duidelik vanuit die Skrif dat Jesus se hemelvaart 'n letterlike, sigbare, liggaamlike terugkeer na die hemel was. Hy het geleidelik van die grond af opgegaan en dit is deur baie toeskouers waargeneem. Toe die dissipels gepoog het om 'n laaste beeld van Jesus vas te vang, het 'n wolk Hom buite hul gesigsveld oordek en twee engele het verskyn en belowe dat Christus weer sal terugkeer "soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het" (Hand 1:11).

Die hemelvaart van Jesus Christus is betekenisvol, as gevolg van verskeie redes:

Dit was 'n teken van die einde van Sy aardse bediening. God die Vader het in Sy groot liefde Sy Seun na die wêreld, na Betlehem, gestuur en nou het die Seun teruggekeer na Sy Vader. Sy periode van aardse beperktheid was op 'n einde.

Dit was 'n teken dat Sy aardse werk suksesvol afgehandel was. Alles wat Hy kom doen het, het Hy bereik.

Dit dui op die terugkeer van Sy hemelse heerlikheid. Jesus se heerlikheid was verberg gedurende Sy aardse verblyf, met een kortstondige uitsondering: die verheerliking op die berg (Matt 17:1-9).

Dit het Sy verhoging na die Vader gesimboliseer (Ef 1:20-23). Die Een oor Wie die Vader Hom verheug het (Matt 17:5) is in eer ontvang en vir Hom die Naam gegee wat bo elke naam is (Fil 2:9).

Dit het Hom toegelaat om vir ons 'n plek voor te berei (Joh 14:2).

Dit het aangedui dat Hy 'n nuwe werk as Hoë Priester begin (Heb 4:14-16) en Middelaar van die Nuwe Verbond (Heb 9:15).

Dit vestig 'n patroon vir Sy wederkoms. Soos Jesus gekom het om die Koninkryk te vestig, só sal Hy weer kom, netsoos Hy weggegaan het – letterlik, liggaamlik en sigbaar in die wolke (Hand 1:11; Dan 7:13-14; Matt 24:30; Openbaring 1:7).

Tans is die Here Jesus in die hemel. Die Skrif beeld Hom herhaaldelik uit waar Hy aan die regterhand van die Vader sit, 'n posisie van heerlikheid en outoriteit (Ps 110:1; Ef 1:20; Heb 8:1). Christus is die Hoof van die Kerk (Kol 1:18), die gewer van geestelike gawes (Ef 4:7-8) en die Een wat alles met Sy teenwoordigheid vul (Ef 4:9-10). Die hemelvaart van Christus was die gebeurtenis wat Jesus oorgeplaas het vanaf Sy aardse bediening na Sy hemelse bediening.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die betekenis en belangrikheid van die Hemelvaart van Jesus Christus?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries