settings icon
share icon
Vraag

Was Jesus Christus getroud?

Antwoord


Jesus Christus was definitief nie getroud nie. Daar is vandag populêre mites wat die rondte doen, dat Christus met Maria Magdalena getroud was. Hierdie mite is absoluut vals en het geen teologiese, historiese of Bybelse grondslag nie. Al is daar ‘n paar van die Gnostiese evangelies wat noem dat Jesus ‘n besondere verhouding met Maria Magdalena gehad het, word nêrens spesifiek gemeld dat Jesus met haar getroud was of enige romantiese betrokkenheid met haar gehad het nie. Die naaste wat enigeen van hierdie evangelies daaraan kom, is om te sê dat Jesus vir Maria Magdalena gesoen het, wat net ‘n doodgewone vriendskaplike soen kon gewees het. Verderaan, selfs as die Gnostiese evangelies dit onomwonde genoem het, dat Jesus met Maria Magdalena getroud was, sou hul geen gesag gehad nie, aangesien hierdie Gnostiese evangelies bewese vervalsings is, wat gebruik is om ‘n Gnostiese beeld van Jesus te skep.

As Jesus getroud sou wees, sou die Bybel dit vir ons gesê het of daar sou ondubbelsinnige verklarings ten opsigte van so ‘n feit wees. Die Skrif sou nie heeltemal stilgebly het oor so’n belangrike vraagstuk nie, want Jesus se moeder, aangenome vader, halfbroers en –susters word tog genoem. Waarom sou dit die feit dat Jesus ‘n vrou gehad het, nalaat? Diegene wat glo/verkondig dat Jesus getroud was, doen dit in ‘n poging om van Hom ‘n gewone mens te maak, om te wees soos al die ander. Mense wil net doodeenvoudig nie glo dat Jesus God in ‘n liggaam was nie (Joh 1;1, 14, 10:30). Dus glo en ontdek hulle mites oor Jesus wat getroud was, kinders gehad het en sommer net gewoon mens was.

‘n Sekondêre vraag sou wees, “Sou Jesus Christus getroud kon wees?” Daar is geen sonde daaraan verbonde om getroud te wees nie. Daar is geen sondigheid aan seksuele verhoudings binne die huwelik nie. Dus, ja, Jesus kon getroud gewees het en nog steeds die Lam van God, sonder sonde, en die Redder van die wêreld gewees het. Daar is terselfdertyd geen Bybelse rede waarom Jesus moes trou nie. Dit is nie waaroor dit in hierdie gesprek gaan nie. Diegene wat glo dat Jesus getroud was, glo nie dat Hy sonder sonde was of dat Hy die Messias was nie. Om te trou en kinders te hê, was nie die rede waarom God vir Jesus gestuur het nie. Mark 10:45 vertel vir ons waarom Jesus gekom het, “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Was Jesus Christus getroud?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries