settings icon
share icon
Vraag

As Jesus God was, hoe kon Hy tot God bid? Het Jesus tot Homself gebid? As Jesus God was, waarom was dit nodig dat Hy ooit moes bid?

Antwoord


Om te begryp dat Jesus as God, tydens Sy aardse lewe, tot Sy Vader in die hemel gebid het, is dit nodig om te verstaan, dat die ewige Vader en die ewige Seun ‘n ewige verhouding gehad het, nog voordat Jesus die voorkoms van ‘n mens aangeneem het. Lees asseblief Joh 5:19-27, veral vers 23, waar Jesus lering gegee het, aangaande die Vader wat Sy Seun gestuur het (ook Joh 15:10). Jesus het nie met Sy geboorte in Betlehem die Seun van God geword nie. Van ewigheid af was Hy die Seun van God, nog steeds is Hy die Seun van God en Hy sal dit vir altyd wees.

Jes 9:6 vertel aan ons dat die Seun gegee is en dat die Kind gebore is. Jesus was van altyd af deel van die Drie-eenheid, saam met die Heilige Gees. Die Drie-eenheid het altyd bestaan, Vader God, die Seun God, en die Gees God, nie drie gode nie, maar een God in die vorm van drie persone. Jesus het die mense geleer dat Hy en Sy Vader Een is (Joh 10:30). Daarmee bedoel Hy, dat Hy en Sy Vader dieselfde wese en van dieselfde oorsprong is. Die Vader, Seun en Gees is drie gelykstaande persone, in wese God. Hierdie drie het nou en sal tot in ewigheid ‘n verhouding hê.

Toe Jesus, die ewige Seun van God mens geword het, sonder sonde, het Hy ook die vorm van ‘n dienskneg aangeneem deur Sy hemelse heerlikheid prys te gee (Fil 2:5-11). As God-mens moes Hy gehoorsaamheid teenoor Sy Vader leer (Heb 5:8), toe Hy deur Satan versoek is en deur mense vals beskuldig is, deur Sy eie mense verwerp is en uiteindelik gekruisig is. Sy gebede tot Sy hemelse Vader was bedoel om Hom te versterk (Joh 11:41-42) en Hom van wysheid te voorsien (Mark 1:35, 6:46). Sy gebed het Sy afhanklikheid van Sy Vader, tydens Sy menswees op aarde getoon, om so Sy Vader se plan van redding uit te voer, soos gevind word in Christus se Hoëpriesterlike gebed in Joh 17. Sy gebed wys dat Hy homself ten volle aan Sy Vader se wil onderwerp het en dit beteken dat Hy gekruisig moes word en die skuld (boete) vir ons oortredinge van die wet moes betaal (Matt 26:31-46). Natuurlik het Hy uit die dood opgestaan en vergifnis van sonde en die ewige lewe verkry vir hulle wat hul sonde bely en in Hom as Verlosser glo.

Dit is nie ‘n probleem as God die Seun tot God Sy Vader in gebed of in ‘n gesprek met Hom tree nie. Soos reeds genoem is, het Hulle ‘n ewige verhouding reeds voordat Christus mens geword het. Hierdie verhouding word uitgebeeld in die Evangelies, sodat ons kan sien hoe die Seun van God op nederige wyse die wil van Sy Vader gehoorsaam het en sodoende die redding vir Sy kinders verkry het (Joh 6:38). Christus se volgehoue gehoorsaamheid aan Sy Vader is deur Sy gebedslewe versterk en so het Hy gefokus gebly op God. Christus se gebedsvoorbeeld is daargestel, sodat ons dit kan navolg.

Terwyl Jesus Christus op aarde was en tot Sy hemelse Vader gebid het, was Hy nie minder God nie. Selfs as mens sonder sonde was ‘n lewendige gebedslewe nog steeds vir Hom nodig om Sy Vader se wil uit te voer. Jesus se gebede tot Sy Vader was ‘n uitbeelding van Sy verhouding binne die Drie-eenheid en ‘n voorbeeld vir ons dat ons op God moet vertrou vir krag en wysheid wat ons nodig het. Soos Christus, die God-mens, ‘n lewendige gebedslewe moes gehad het, so moet Jesus se volgelinge vandag ook getrou bly bid.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

As Jesus God was, hoe kon Hy tot God bid? Het Jesus tot Homself gebid? As Jesus God was, waarom was dit nodig dat Hy ooit moes bid?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries