Vraag
Wat is die Here se dag?
Antwoord
Die Here se dag (soos onderskei van die dag van die Here) is Sondag. Die term “die dag van die Here” word slegs in die Skrif gebruik. Openbaring 1:10 sê, “Op die dag van die Here is ek deur die Gees meegevoer en ek het agter my, so hard soos die geluid van ‘n trompet, ‘n stem hoor sê…” Alhoewel die apostel Johannes nie uitbrei op die betekenis van die “Here se dag” nie, kan ons veronderstel dat sy teikengehoor, die eerste-eeuse Christene, alreeds bekend was met die uitdrukking.
Sommige het veronderstel dat die dag van die Here die Nuwe Testamentiese ekwivalent van die Sabbat was. Die Sabbat was deur God ingestel vir die volk Israel om Sy verlossing vir hulle uit Egipte te herdenk (Deut 5:15). Sabbat het Vrydag met sonsondergang begin en Saterdag met sonsondergang geëindig en was veronderstel om ‘n dag van volledige rus te wees van alle werk, simbolies van die Skepper se rus op die sewende dag (Gen 2:2-3; Eks 20:11; 23:12). Die Sabbat was ‘n spesiale teken aan die Israeliete dat hulle afgesonder was as volgelinge van die Allerhoogste God. Hulle onderhouding van die Sabbat sou help om hulle te onderskei van die nasies rondom hulle. Nêrens egter in die Skrif word ooit na die Sabbat verwys as die Here se dag nie. Die term “Sabbat” was steeds in gebruik in die Joodse gemeenskap in die Nuwe Testament en word so na verwys deur Jesus en die apostels (Matt 12:5; Joh 7:23; Kol 2:16).
Sondag was die dag wat Jesus Christus opgestaan het uit die dood en dit skei die Christendom van enige ander godsdiens (Joh 20:1). Sedert daardie tyd het gelowiges op die eerste dag van die week vergader om Sy oorwinning oor sonde en dood te vier (Hand 20:7; 1 Kor 16:2). Alhoewel die Sabbat deur God as ‘n heilige dag georden was, het Jesus gedemonstreer dat Hy Here oor die Sabbat was (Matt 12:8). Jesus het gesê dat hy nie gekom het om te verwoes nie, maar om die hele Wet te vervul. Wetsonderhouding kan niemand regverdig maak nie; net deur Jesus kan sondige menslikheid regverdig verklaar word (Rom 3:28). Paulus het hierdie waarheid herhaal in Kol 2:16-17, toe hy geskryf het, “Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.”
Die dag van die Here is tipies aan gedink as Sondag, maar dit is nie ‘n direkte teenbeeld aan die Joodse Sabbat nie – met ander woorde, Sondag is nie die “Christelike Sabbat” nie. Alhoewel ons ‘n rusdag eenkant moet sit en ook so die Here eer wat vir ons gesterf en opgestaan het, is ons nie onder die Wet nie (Rom 6:14-15). As wedergebore volgelinge van Jesus, is ons vry om Hom te aanbid op enige dag wat ons gewete bepaal. Rom 14 gee duidelike verklaring van hoe Christene daardie subtiele grys areas van dissipelskap moet hanteer. Verse 5 en 6 sê, “Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ‘n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. Die een wat ‘n bepaalde dag op ‘n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here en ook hy dank God.”
Sommige Messiaanse Jode verkies om voort te gaan en die Sabbat as heilig te beskou, as gevolg van hul Joodse erfenis. Sommige heidense Christene stem saam met hul Joodse broers en susters deur die Sabbat te onderhou as ‘n manier om God te vereer. Deur God te aanbid op die Sabbat is aanvaarbaar – weer, die dag van die week is nie die belangrikste kwessie nie – maar die hart se motief agter daardie keuse is uiters belangrik. As wetsonderhouding of wettiesheid die keuse motiveer om die Sabbat te onderhou is, dan is daardie keuse nie gemaak vanuit ‘n regte hartstoestand nie (Gal 5:4). As ons harte suiwer is voor die Here, is ons vry om Hom op Saterdag (die Sabbat) te aanbid of Sondag (die dag van die Here). God is ewe tevrede met beide.
Jesus het gewaarsku teen wettiesheid toe Hy die profeet Jesaja aangehaal het: “Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellinge van mense as gebooie van God voor te hou nie” (Matt 15:8-9; Jes 29:13). God is nie geïnteresseerd in ons onderhouding van rituele, reëls of voorskrifte nie. Hy soek harte wat vurig en ywerig is vir Sy liefde en genade op die Sabbat, op die dag van die Here en op elke ander dag (Hebr 12:28-29; Ps 51:15-17).
English
Wat is die Here se dag?