settings icon
share icon
Vraag

Op watter manier is die Heilige Gees soos 'n vuur?

Antwoord


Die Bybel beskryf God as "'n verterende vuur" (Heb 12:29) en dus is dit nie ongewoon dat vuur dikwels verskyn as 'n simbool van God se teenwoordigheid nie. Voorbeelde daarvan is die brandende bos (Eks 3:2), die "Shekinah" of vuurkolom (Eks 14:19; Numeri 9:14-15) en Esegiël se visioen (Eseg 1:4). Vuur het baiekeer 'n instrument van God se straf gevorm (Numeri 11:1, 3; 2 Kon 1:10,12) en 'n teken van Sy almag (Rigters 13:20; 1 Kon 18:38).

Vir verstaanbare redes was vuur belangrik vir die Ou Testamentiese offerandes. Die vuur op die brandoffer-altaar was 'n goddelike gawe, oorspronklikk deur God Self aan die brand gesteek (Lev 9:24). God het die priesters aangesê om Sy vuur aan die brand te hou (Lev 6:13) en het dit duidelik gestel dat vuur van enige ander bron onaanvaarbaar was (Lev 10:1-2).

In die Nuwe Testament kan die altaar dien as 'n beeld van ons ooreenkoms met die Here. As gelowiges in Jesus Christus is ons opgeroep om ons liggame as "lewende offers" (Rom 12:1) te wy, verswelg deur die goddelike gawe: die onuitblusbare vuur van die Heilige Gees. Heel aan die begin van die Nuwe Testament is die Heilige Gees met vuur geassosieer. Johannes die Doper voorspel dat Jesus die Een sal wees wat "julle met die Heilige Gees en met vuur doop" (Matt 3:11). Toe die Heilige Gees met Sy bediening van die vroeë kerk begin het, het Hy gekies om as "vuurtonge" te verskyn, wat op elke gelowige uitgestort is. Op daardie oomblik is almal "met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder Sy leiding te doen" (Hand 2:3-4).

Vuur is die wonderlike beeld van die werk van die Heilige Gees. Die Gees is soos 'n vuur op ten minste drie maniere: Hy bring God se teenwoordigheid, God se passie en God se reinheid. Die Heilige Gees is die teenwoordigheid van God, waar Hy in die hart van die gelowige inwoon (Rom 8:9). In die Ou Testament het God Sy teenwoordigheid aan die Israeliete getoon deur die tabernakel met vuur te oordek (Numeri 9:14-15). Hierdie teenwoordigheid van vuur het lig en leiding voorsien (Numeri 9:17-23). In die Nuwe Testament lei en vertroos God Sy kinders deur die inwoning van die Heilige Gees in ons liggame – die "tabernakel" en die "tempel van die lewende God" (2 Kor 5:1; 6:16).

Die Heilige Gees verwek die brandende passie van God in ons harte. Nadat die twee dissipels oppad met die opgestane Jesus gepraat het, beskryf hulle hul harte asof hul "warm" geword het (Lukas 24:32). Nadat die apostels die Gees ontvang het op Pinksterdag, het hulle hierdie passie gehad wat lewenslank geduur het en hulle aangespoor het om God se Woord met dapperheid te verkondig (Hand 4:31).

Die Heilige Gees produseer die reinheid van God in ons lewens. God se doel is om ons te reinig (Titus 2:14) en die Gees is die bewerker van ons heiligmaking (1 Kor 6:11; 2 Tess 2:13; 1 Pet 1:2). Soos die silwersmid vuur gebruik om die onsuiwerheid van die kosbare metaal te verwyder, so gebruik God die Gees om ons sonde van ons af te verwyder (Ps 66:10; Spreuke 17:3). Sy vuur reinig en louter ons.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Op watter manier is die Heilige Gees soos 'n vuur?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries