settings icon
share icon
Vraag

Wat was die rol van die Heilige Gees in die Ou Testament?

Antwoord


Die rol van die Heilige Gees in die Ou Testament is baie soos Sy rol in die Nuwe Testament. As ons praat van die rol van die Heilige Gees, kan ons vier algemene areas onderskei, waarin die Heilige Gees werk: wedergeboorte, vervulling (inwoning), weerhouding en bekragtiging vir diens. Getuienis vir hierdie areas van die Heilige Gees se werk is teenwoordig in die Ou Testament, sowel as in die Nuwe Testament.

Die eerste area van die Gees se werk is in die proses van wedergeboorte/vernuwing. 'n Ander konsep vir wedergeboorte is om weer 'n keer gebore te word. Die klassieke teks wat dit bewys kom voor in die Evangelie van Johannes: "As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie" (Joh 3:3). Dit laat die vraag na vore kom: wat het dit te doen met die werk van die Heilige Gees in die Ou Testament? Later in Sy gesprek met Nikodemus, sê Jesus vir hom: "Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie?" (Joh 3:10). Die punt wat Jesus hier maak, is dat Nikodemus die waarheid moes ken, dat die Heilige Gees die bron van nuwe lewe is, omdat dit in die Ou Testament geopenbaar is: Moses het aan die Israeliete gesê, voordat hulle die Beloofde Land ingegaan het, "Die Here jou God sal jou lewe en die lewe van jou nageslag aan Hom wy, sodat jy Hom sal liefhê met hart en siel. Dan sal jy lewe…" (Deut 30:6). Hierdie besnyding van die hart is die werk van God se Gees en kan slegs deur Hom verkry word. Ons sien ook die tema van vernuwing in Eseg 11:19-20 en Eseg36:26-29.

Die vrug van die Gees se vernuwende werk is geloof (Ef 2:8). Ons weet dat daar geloofsmanne in die Ou Testament was, aangesien Heb 11 baie van hul name noem. Indien geloof geskep word deur die vernuwende krag van die Heilige Gees, dan moet dit ook die geval in die Ou Testamentiese heiliges gewees het, wat vorentoe gekyk het na die kruis en geglo het wat God belowe het, ten opsigte van hul verlossing wat sou kom. Hulle het die beloftes "uit die verte gesien en daaroor gejuig' (Heb 11:13). Dus het hulle deur geloof God se beloftes aanvaar en geglo dat Hy dit sou laat gebeur.

Die tweede aspek van die Gees se werk in die Ou Testament, is inwoning of vervulling. Hier is nou duidelik sigbaar waar die groot verskil bestaan, betreffende die Gees se rol in die Ou en Nuwe Testament. Die Nuwe Testament leer dat die Heilige Gees permanent in gelowiges inwoon (1 Kor 3:16-17; 6:19-20). Wanneer ons ons geloof vir verlossing in Christus plaas, kom die Heilige Gees in ons woon. Die apostel Paulus noem hierdie permanente inwoning "die waarborg" dat ons God se eiendom is (Ef 1:13-14). In teenstelling met hierdie werk in die Nuwe Testament, was die inwoning in die Ou Testament selektief en tydelik. Die Gees het op Ou Testamentiese mense soos Josua gekom (Numeri 27:18), Dawid (1 Sam 16:12-13) en selfs Saul (1 Sam 10:10). In die boek Rigters sien ons dat die Gees op verskeie rigters gekom het, wat God opgerig het om Israel van hul verdrukkers te bevry. Die Heilige Gees het spesifiek op hierdie individue gekom vir spesifieke opdragte. Die inwoning was 'n teken van God se guns teenoor daardie individu (in Dawid se geval) en indien God se guns 'n individu verlaat het, sou die Gees weggaan (in Saul se geval in 1 Sam 16:14). Laastens, die Gees se "inwoon" in 'n individu is nie altyd 'n aanduiding van daardie persoon se geestelike toestand nie (bv. Saul, Simson en baie van die rigters.) Dus, terwyl die Gees in die Nuwe Testament net gelowiges bewoon en daardie inwoning permanent is, het die Gees op sekere Ou Testamentiese individue gekom vir 'n spesifieke taak, ongeag hul geestelike toestand. Nadat die taak afgehandel was, het die Gees vermoedelik van daardie persoon weggegaan.

Die derde aspek van die Gees se werk in die Ou Testament is Sy weerhouding van sonde. Gen 6:3 was 'n indikasie dat die Heilige Gees die mens van sondigheid weerhou en daardie weerhouding kan verwyder word, as God se geduld aangaande sonde 'n toppunt bereik. Hierdie gedagte word weergegee in 2 Tess 2:3-8, waar gedurende die eindtye, 'n groeiende afvalligheid die teken van die komende oordeel van God se koms sal wees. Tot die vooraf bepaalde tyd wanneer die "wettelose mens" (vers 3) geopenbaar sal word, weerhou die Heilige Gees die mag van Satan en sal dit net loslaat, wanneer dit Sy doelwitte pas om so te doen.

Die vierde en finale aspek van die werk van die Gees in die Ou Testament is die gawe of vermoë om te dien. Baie dieselfde as die werking van die geestelike gawes in die Nuwe Testament, sou die Gees sekere gawes vir diens aan individue gee. Dink aan die voorbeeld van Besaleël in Eks 31:2-5, wat die gawe ontvang het om die kunswerk ten opsigte van die Tabernakel moes doen. Verderaan, die herroeping van die selektiewe en tydelike inwoning van die Heilige Gees wat reeds bespreek is, sien ons dat hierdie individue die gawes ontvang het om sekere take af te handel, bv. soos om oor die mense van Israel te regeer (Saul en Dawid).

Daar was ook die rol van die Gees in die skepping. Gen 1:2 praat van "die Gees van God het oor die waters gesweef" en oor die skeppingswerk toesig gehou. In 'n sekere opsig is die Gees verantwoordelik vir die werk van die nuwe skepping (2 Kor 5:17), soos Hy mense inbring in God se koninkryk deur wedergeboorte.

Om saam te vat, voer die Gees baie van dieselfde funksies in die Ou Testamentiese tye uit, soos Hy in die huidige tyd doen. Die groot verskil is die permanente inwoning van die Gees in gelowiges nou in hierdie tye. Jesus het gesê met betrekking tot hierdie verandering in die Gees se bediening, "Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees" (Joh 14:17).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat was die rol van die Heilige Gees in die Ou Testament?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries