settings icon
share icon
Vraag

Vergewe God groot sondes? Sal God 'n moordenaar vergewe?

Antwoord


Baie mense maak die fout deur te glo dat God "klein" sondes soos leuens vertel, woede en vuil gedagtes vergewe, maar nie "groot" sondes soos moord en egbreuk nie. Dit is nie waar nie. Daar is geen sonde té groot dat God dit nie kan vergewe nie. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy gesterf om die straf vir alle sondes van die hele wêreld te betaal (1 Joh 2:2). Wanneer iemand sy geloof in Jesus Christus plaas vir redding, word al sy sondes vergewe. Dit sluit die verlede, hede en toekoms in, klein of groot. Jesus het gesterf om die straf vir al ons sondes te betaal en as dit eenmaal vergewe is, is dit alles vergewe (Kol 1:14; Hand 10:43).

Ons is almal skuldig aan sonde (Rom 3:23) en verdien die ewige straf (Rom 6:23). Jesus het vir ons gesterwe om ons straf te betaal (Rom 5:8). Enige mens wat in Jesus Christus glo vir redding, is vergewe. Dit maak nie saak watter sondes hy gepleeg het nie (Joh 3:16). 'n Moordenaar of egbreker sal moontlik ernstige gevolge moet dra op aarde (wetlik, in terme van verhoudings, ens.) vir sy sondige optrede, meer as iemand wat "net" 'n leuenaar was. Die sondes van 'n moordenaar of 'n egbreker is egter volkome en permanent vergewe, die óómblik as hy glo en sy geloof in Christus plaas.

Dit is nie die grootte van die sonde wat die bepalende faktor hier is nie; dit is die grootte van die versoeningsoffer van Christus. As die gestorte bloed van die sondelose Lam van God genoegsaam is om al die sondes van al die miljoene mense, wat ooit in Hom sou glo, te bedek, dan kan daar nie 'n beperking tot die grootte of tipe sondes wees nie. Toe Hy gesê het, "Dit is volbring", is daar 'n einde aan sonde gemaak en volkome versoening en tevredenheid is daarvoor gegee, volkome vergifnis is toegestaan, vrede is gemaak en bevryding van alle sondes is bewerk. Verlossing is seker en volmaak; niks hoef meer bygevoeg te word nie. Verder is Christus se reddingswerk heeltemal sonder die hulp van 'n mens gedoen en dit kan ook nie ongedaan gemaak word nie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Vergewe God groot sondes? Sal God 'n moordenaar vergewe?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries