settings icon
share icon
Vraag

Verander God van plan?

Antwoord


Maleagi 3:6 sê, “Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie.” Net so sê Jakobus 1:17 vir ons, “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.” Die betekenis van Numeri 23:19 kan nie meer duidelik wees nie: “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” Nee, God verander nie van plan nie. Hierdie verse bevestig dat God onveranderlik en onveranderbaar is.

Hoe verklaar ons dan verse soos Genesis 6:6, “Dit het die HERE berou dat Hy die mens op aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart”? Ook Jona 3:10, wat sê, “En God het hulle werke gesien dat hulle hul bekeer het van hulle verkeerde weg; toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen, en Hy het dit nie gedoen nie.” Net so sê Exodus 32:14, “Toe het dit die HERE berou oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy Sy volk sou aandoen.” Hierdie verse spreek van die HERE se “berou” oor iets en blyk asof dit die leerstelling van God se onveranderlikheid weerspreek. Maar, nadere ondersoek van hierdie gedeeltes openbaar dat dit nie werklik aanduidings is dat God veranderlik is nie. In die oorspronklike taal, is die woord wat as “berou” vertaal word die Hebreeuse uitdrukking vir “om jammer te wees oor.” Om jammer te wees oor iets beteken nie dat ‘n verandering plaas gevind het nie; dit beteken eenvoudig dat daar hartseer is omdat iets plaas gevind het.

Oordink Genesis 6:6: “…dit het die HERE berou dat Hy die mens op aarde gemaak het.” Die vers gaan selfs verder om te sê “en daar was smart in Sy hart.” Hierdie vers verklaar dat God berou gehad het oor die skepping van die mens. Maar Hy het duidelik nie Sy besluit verander nie. Inteendeel, deur Noag het Hy toegelaat dat die mens voortbestaan. Die feit dat ons vandag lewe is bewys dat God nie van plan verander het oor die skepping van die mens nie. Verder is die konteks van hierdie gedeelte ‘n beskrywing van die sondige toestand waarin die mens gelewe het, en is dit die mens se sondigheid wat God se hartseer veroorsaak het, nie die mens se bestaan nie. Vergelyk ook Jona 3:10: “…toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen, en Hy het dit nie gedoen nie.” Weer word dieselfde Hebreeuse woord gebruik wat vertaal word as “om jammer te wees oor”. Waarom was God jammer oor wat Hy vir die mense van Nineve beplan het? Omdat hulle hulle bekeer het van hulle verkeerde weë. God is volmaak konsekwent. God was van plan om Nineve te veroordeel vanweë hulle boosheid. Maar Nineve het berou getoon en hulle weë verander. As gevolg hiervan het God genade aan Nineve betoon, wat volkome verenigbaar is met Sy karakter.

Romeine 3:23 leer ons dat alle mense sondig en tekort skiet aan God se maatstawwe. Romeine 6:23 sê die loon van die sonde is die dood (geestelik en liggaamlik). Die mense van Nineve het dus straf verdien. Almal van ons is in dieselfde bootjie; dit is die mens se keuse om te sondig wat ons skei van God. Die mens kan nie God verantwoordelik hou vir ons eie foute nie. So sou dit teenstrydig gewees het met die karakter van God indien Hy nie die mense van Nineve gestraf het as hulle met hulle boosheid voortgegaan het nie. Maar die mense van Nineve het gehoorsaam, en daaroor het die HERE besluit om hulle nie te straf soos Hy aanvanklik van plan was om te doen nie. Het die verandering van die mense van Nineve God verplig om te doen wat Hy gedoen het? Beslis nie! God kan nie in ‘n posisie van verpligting teenoor die mens geplaas word nie. God is goed en regverdig, en het verkies om nie die mense van Nineve te straf nie omdat hulle hulle weë verander het. As daar enigiets is wat hierdie gedeelte doen, is dit om die feit uit te wys dat God nie verander nie, want as die HERE die mense van Nineve nie bewaar het nie, sou dit teen Sy karakter gewees het.

Die Skrifgedeeltes wat vertolk word as dat God skynbaar van plan verander is menslike pogings om die handelinge van God te verduidelik. God was van plan om iets te doen, maar in plaas daarvan doen Hy iets anders. Vir ons klink dit na ‘n verandering. Maar vir God wat alwetend en soewerein is, is dit nie ‘n verandering nie. God weet altyd wat Hy gaan doen. God doen wat Hy nodig het om te doen sodat die mensdom Sy volmaakte plan kan vervul. “…wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat My behaag, sal ek doen … soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen” (Jesaja 46:10-11). God het Nineve met verwoesting gedreig, en geweet dit sal lei tot Nineve se bekering. God het Israel met verwoesting gedreig, en geweet dat Moses tussenbeide sou tree. God is nie spyt oor Sy besluite nie, maar Hy is hartseer oor wat die mens soms doen in reaksie op Sy besluite. God verander nie van plan nie, maar handel konsekwent volgens Sy Woord in reaksie op ons dade.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Verander God van plan?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries