settings icon
share icon
Vraag

Straf God ons as ons sondig?

Antwoord


Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons eerstens onderskei tussen straf en dissipline. Vir gelowiges in Jesus is al ons sondes – verlede, teenswoordige en toekomstige – reeds aan die kruis gestraf. As Christene sal ons nooit vir sonde gestraf word nie. Dit is vir eens en vir altyd afgehandel. "Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie" (Rom 8:1). As gevolg van die offerande van Christus sien God slegs die regverdigheid van Christus, wanneer Hy na ons kyk. Ons sonde is aan die kruis vasgenael saam met Jesus en ons sal nooit weer daarvoor gestraf word nie.

Die sonde wat in ons lewens voorkom, vereis tog soms God se dissiplinering. As ons aangaan om verkeerdelik en op sondige wyse op te tree en ons toon nie berou en draai van daardie sonde weg nie, bring God Sy goddelike dissipline oor ons. Sou Hy dit nie doen nie, sou Hy nie 'n liefdevolle en besorgde Vader wees nie. Netsoos ons ons eie kinders vir hul eie beswil dissiplineer, so dissiplineer ons Hemelse Vader Sy kinders in liefde tot hul eie voordeel. Heb 12:7-11, "Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as Sy kinders. As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik Sy kinders nie. Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie? Ons vaders het ons wel 'n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in Sy heiligheid mag deel. Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, 'n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God."

Dissipline is dus hoe God op 'n liefdevolle wyse Sy kinders van rebelsheid omdraai na gehoorsaamheid toe. Deur dissipline word ons oë geopen om God se perspektief vir ons lewens duideliker te kan sien. Koning Dawid het in Ps 32 genoem dat dissipline ons daartoe dring om sonde wat nog in ons lewens die botoon voer, te bely en berou daaroor te hê. Op hierdie manier is dissipline reiniging. Dit is ook 'n groeiende katalisator. Hoe meer ons van God weet, hoe meer ken ons Sy wense vir ons lewens. Dissipline rus ons toe met die geleentheid om te leer en onsself na die beeld van Christus te omvorm (Rom 12:1-2). Dissipline is 'n goeie ding!

Ons moet onthou dat sonde 'n konstante in ons lewens is, terwyl ons tans op hierdie aarde is (Rom 3:10,23). Dus het ons nie net met God se dissipline te doen, om gehoorsaamheid te bewerkstellig nie, maar ons het ook te make met die natuurlike gevolge wat deur sonde voortgebring word. Indien 'n gelowige iets gesteel het, sal God hom vergewe en hom van die sonde van diefstal reinig, terwyl Hy ook die verhouding tussen Homself en die berouvolle dief herstel. Die sosiale gevolge van diefstal kan erg wees en kan uitloop op boetes of selfs gevangenskap. Hierdie is gewone gevolge van sonde en moet verdra word, maar God werk selfs deur daardie gevolge om ons geloof te versterk en Homself te vereer.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Straf God ons as ons sondig?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries